Monday, November 30, 2009

Die Helende Gif


Lank gelede was daar ’n meisie met die naam La-Li. Sy het getrou en het saam met haar man by haar skoonmoeder gaan woon. Sommer gou-gou het La-Li agtergekom dat sy en haar skoonmoeder glad nie gaan klaarkom nie.
Hulle persoonlikhede was net te verskillend en La-Li het woedend geword vir al haar skoonmoeder se gewoontetjies. Buiten dit, het sy voortdurend vir La-Li gekritiseer, sy kon in die oë van haar skoonmoeder niks reg doen nie. Dae het verby gegaan, later het dit weke geword wat die twee argumenteer en baklei.
Wat dit nog erger gemaak het, is dat volgens die Oosterse tradisies moes La-Li voor gaar skoonmoeder buig en haar elke opdrag gehoorsaam.

Al die gestry en baklei in die huis was ’n groot bron van ’n kommer vir La-Li se arme man. Ten einde laaste kon La-Li nie meer dit uitstaan met haar skoonmoeder se humeur en diktatorskap nie. Sy het haar vader se goeie vriend, Mnr. Huang gaan sien, wat kruie verkoop. La-Li het haar hele situasie aan hom verduidelik en hom gevra of hy nie ’n gif het wat sy kan gebruik om die probleem eens en vir altyd op te klaar nie.

Mnr. Huang het oor die saak nagedink en sê na wyle, “La-Li, ek sal jou help om jou probleem op te los, maar jy moet baie mooi luister na wat ek jou beveel en presies doen soos ek sê.” La-Li beaam, “Ja, Mnr. Huang ek sal presies doen jy ook al van my verlang. Mnr. Huang verdwyn in die agterste stoorkamer en kom na ’n paar minute uit met ’n pakkie kruie.

Hy sê aan La-Li, “Jy kan nie ’n gif gebruik wat te vinnig werk nie anders sal die bure en kennisse agterdogtig raak. Daarom het ek aan jou ’n paar kruie gegee wat stadig die gif sal laat opbou in jou skoonmoeder se liggaam.
Elke tweede dag moet jy vir haar ’n vark of hoender gereg maak met ’n klein bietjie van die kruie in haar porsie kos. Nou, om te voorkom dat enige iemand jou verdink wanneer sy sterf moet jy baie versigtig wees om te verseker dat jy baie vriendelik en liefdevol teenoor haar is. Moet nie met haar stry en baklei nie, gehoorsaam haar bevele en behandel haar soos ’n koningin.”

La-Li was baie bly. Sy bedank Mnr. Huang en haas haar terug huis toe sodat sy kan begin met haar moord komplot teen haar skoonmoeder.
Weke het verby gegaan, later maande en steeds elke tweede dag het La-Li die spesiaal behandel kos aan haar skoonmoeder gegee. Sy het onthou wat Mnr. Huang gesê het om enige suspisie te vermy en het sy haar humeur in toom gehou, haar skoonmoeder gehoorsaam en haar behandel soos haar eie moeder.

Na ses maande het die hele atmosfeer in die huis verander. La-Li het geleer om haar humeur sodanig in toom te hou dat sy omtrent nooit meer of baie selde kwaad raak. Sy het die laaste ses maande nog geen argumente met haar skoonmoeder gehad nie en die is sommer deesdae ook baie vriendeliker en makliker om mee oor die weg te kom.
Die skoonmoeder se houding teenoor La-Li het drasties verander en sy het begin om La-Li lief te hê soos haar eie dogter. Sy vertel voortdurend aan die bure en besoekers hoe wonderlik is haar skoondogter en sy is die beste skoondogter in die hele wêreld. La-Li en haar skoonmoeder het mekaar nou behandel soos ’n regte moeder en dogter. La-Li se man was baie verheug oor die verandering wat ingetree het en hy het daarna uitgesien om smiddae, na ’n harde dag se arbeid, huis toe te gaan.
La-Li het op ’n dag weer Mnr. Huang gaan sien om sy hulp te verkry. Sy begin verduidelik, “Mnr. Huang help my asseblief om te keer dat die gif my skoonmoeder doodmaak. Sy het so ’n wonderlike mens geword en ek het haar lief soos my eie moeder. Ek wil nie hê dat sy moet sterf van die gif wat ek die laaste paar maande vir haar gegee het nie.”
Mnr. Huang glimlag en knik met sy kop. “La-Li, daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Ek het nooit vir jou gif gegee nie. Die kruie wat ek jou gegee het, sou net haar gesondheid verbeter het.
Die enigste gif was, dit wat in jou hart was en jou houding teenoor haar, maar die is alles weg gewas deur die liefde wat jy aan haar bewys het.”

Les: Besef ons elke dag dat hoe ons ander behandel is presies hoe hulle ons sal behandel?
Hy wat ander liefhet sal self bemind wees.

Friday, November 27, 2009

Vlam van Liefde


“Ek kan dit bemeester.” sê die Byl.
Sy vlymskerp slae val onverbiddelik op die harde, sterk staal.
Maar elke slag maak net die snykant van die byl stomper
totdat hy later glad nie meer kan kap nie.

“Los dit vir my.” sê die Saag.
Met sy rye saagtande werk hy die harde staal vorentoe en agtertoe.
Maar tot sy ontsteltenis is al sy tande na ’n kort rukkie
weggevreet of uitgebreek.

“Ha!” sê die Hamer. “Ek het geweet julle kan dit nie doen nie.
Laat ek julle wys hoe daar met so yster se gal gewerk word.”
Maar met die eerste kap vlieg die hamerkop af en die staal het
nie eens ’n skrapie op nie.

“Kan ek ook probeer?” vra die Vlam
Vlam vou homself saggies om die sterk, harde staal sonder om te laat los.
Na ’n kort rukkie begin die staal te gloei en te smelt.

Daar is harte wat hard genoeg is om enige aanslae te weerstaan sonder dat daar ’n merkie op hulle wys.
Maar hard is die hart wat die warme “vlam van liefde” kan weerstaan.

Thursday, November 26, 2009

A Woman of Strength


A strong woman works out every day to keep her body in shape.....
but a woman of strength kneels in prayer to keep her soul in shape.....

A strong woman isn't afraid of anything.....
but a woman of strength shows courage in the midst of her fear.....

A strong woman won't let anyone get the best of her.....
but a woman of strength gives the best of her to everyone.....

A strong woman makes mistakes and avoids the same in the future.....
but a woman of strength realizes life's mistakes can also be God’s blessings and capitalizes on them.....

A strong woman walks sure footedly.....
but a woman of strength knows God will catch her when she falls.....

A strong woman wears the look of confidence on her face.....
but a woman of strength wears grace.....

A strong woman has faith that she is strong enough for the journey.....
but a woman of strength has faith that it is in the journey that she will become strong.

Tuesday, November 24, 2009

Ons Liggaam – Die Tempel


Ons lees in die Skrif dat ons liggame ‘n tempel is vir Yahweh. Ons moet dit stel as ‘n welgevallige offer aan God. Dit is die plek waar die Heilige Gees woon.

1 Kor. 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

1 Kor. 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

2 Kor. 6:16 Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

Vanuit die twee bogenoemde skrif gedeeltes is dit baie duidelik dat ons liggame ‘n offer en tempel van die Lewende God is.

Derhalwe is dit seker noodsaaklik om onsself ‘n paar belangrike vrae te vra omtrent die tempel waarmee ons rondloop.

Om ons liggame in perspektief te plaas met die aardse, waaraan ons gewoond is, kan ons dit vergelyk met die gemeente of tradisioneel die kerk. Die meeste mense beskou dan ook die kerk as die tempel van samekoms.

Sou ons dan nou ‘n vergelyking maak tussen ons liggaams tempels en die tempel van samekoms behoort daar mos sterk ooreenkomste te wees tussen die twee, sodat beide herken kan word as tempels.

Daar is algemene reëls wat geld ten opsigte van tempels van samekoms en die reëls spel tog uit wat nie gedoen mag word in en aan die plekke nie (baie van die reëls is ongeskrewe en word as vanselfsprekend aanvaar).
Kom ons kyk na die volgende:

Geeneen sal tog kliphard vloek in die kerk nie.
Niemand gaan sit en dobbel in die kerk nie.
Niemand gaan ‘n sigaret aansteek en sit en rook in die kerk nie.
Niemand gaan sit en suip in die kerk nie.
Niemand gaan sit en skinder van die ander mense in die kerk nie.
Niemand gaan by ander vroue of mans aanlê in die kerk nie.
Niemand gaan ‘n ander een te lyf gaan in die kerk nie.
Niemand gaan op die kerk mure graffiti skryf of tattoo’s plak nie.
Niemand sal binne die kerk die Almagtige God se naam ydellik gebruik nie.

Hierdie is maar net ‘n paar, maar dis besliste nee-nee’s om te doen in die kerk of gemeente.

Sal jy dit doen???

Gedink die antwoord sal nee wees, want hoe kan iemand so iets doen in die gemeente of kerk – wat sal die mense daarvan sê – ek sal my dood skaam om so iets te doen.

Maar tog doen ons dit elke dag in en aan die tempel wat God aan ons gegee het naamlik ons liggame. Ons is skaam wat ons voor die mense doen maar ons het geen skaamte voor God nie – hoe werk dit?

Daar moet tog sekerlik ooreenkomste wees tussen die twee tempels nie waar nie?

Het ons meer respek vir die tempels wat gebou is van klip en sand as die wat die Ewig Lewende Elohim aan ons gegee het?

Dink volgende keer baie mooi na oor jou liggaam en behandel dit soos die tempel waarin die Heilige Gees woon voordat jy iets doen of sê.

Friday, November 20, 2009

Die Wingerdstok


Soms is ons so geneig om met oogklappe deur die lewe te gaan dat ons van die belangrikste lesse wat Vader ons wil leer in die natuur heeltemal mis en glad nie raaksien nie. Die lewenslesse speel voor ons oë af maar tog sien of luister ons nie.
Nou die dag sit ek en kyk na ’n program wat handel oor wingerde en hoekom hulle op sekere maniere gesnoei word en wat is noodsaaklik om goeie druiwe te verseker. Dit was vir my baie interessant gewees, maar die belangrikste les het ek eers bietjie later geleer toe ek nadink oor die wingerde.

Daar was soveel waarhede opgesluit in die storie oor die wingerde wat in ons lewens van toepassing is dat ek nou eers kan verstaan hoekom is daar soveel verwysings na wingerde in die bybel.

Die program het gehandel oor druiwe wat gekweek word om sjampanje te maak en nie watse sjampanje nie, maar die beste in die wêreld soos Dom Perignon. In die program is gesels oor die grond voorbereiding en voeding, die snoei, wat die druiwe nodig het soos reën, hitte, koue, ens.

Die gebied in Frankryk waar die wingerde geleë is, is die grond baie arm aan voedingstowwe en die mense vat gewone huishoudelike vullis en werk dit tussen die wingerde in. Stukkies plastiek, papier en tot stukkies metaal onderdele van motors kan tussen die wingerde opgemerk word.
Dit is nogal opvallend hoe dit ooreenstem met die gelowige in die wêreld, hy word geplant te midde van al die vuil en gemors van die wêreld en steeds groei hy om wasdom te bereik om prag vrugte te dra.

Die wingerd word voor die groei seisoen kwaai gesnoei om die plant te giet in ’n sekere vorm wat sal verseker dat die beste vrugte gelewer word. Maar die snoei dra ook daartoe by dat die vrugte nie laag op die grond gedra word nie maar redelik hoog in die lug. Want as die druiwe trosse te laag op die grond is, kan hulle beskadig word deur die ryp aangesien ryp plaasvind op die grondvlak en hul kan makliker beskadig word deur insekte en klein ongediertes op die grond.
So is dit ook nodig dat ons gereeld kwaai terug gesnoei word deur Vader om te verseker dat ons die beste vrugte moontlik dra en die snoei moet van so aard wees dat die vrugte nie op die grond hang en beskadig kan word deur ryp of insekte nie.
Die snoei is vir ons soms bitter pynlik en verstaan dit nie op daardie stadium nie maar later wanneer die vrugte trossie begin uitswel dan maak dit eers vir ons sin.

Daar is sekere tye wat die wingerd water nodig het om te groei en dan is daar tye wat hulle geen water verlang sodat die vrugte nie beskadig word en bars nie of om die suiker gehalte daarvan te verhoog. Hulle moet vir ’n wyle soms droogte ervaar om die gehalte te verbeter.
Ons ervaar ook tye in ons lewens wanneer dit heerlik reën en alles is te mooi en pragtig maar wanneer die droogte tye ons aangryp dan raak ons maklik mismoedig en radeloos. Ons sien nie die doel van die droogte nie, maar ons het dit nodig om die vrug wat ons dra se gehalte te verbeter om so ’n besonderse wyn te verseker.

Die wynmaker toets gereeld die druiwe om te sien wanneer die vrug net reg is dan word die mense gehuur wat die oes insamel. Die druiwe plukkers word natuurlik gewaarsku om die trosse mooi af te pluk en nie die wingerd te verniel nie, want dit moet volgende jaar weer vrug dra en self beter en meer vrugte as die vorige jaar.
Die gehalte van die druif bepaal hoe goed die wyn gaan wees, want jy kan nie goeie wyn maak van swak druiwe nie.
Die vrug wat ons dra moet van so aard wees dat die Wynmaker baie bly sal wees oor die kwaliteit van die druiwe wat ons voortbring want dit is al wat ’n goeie wyn kan verseker.
Die swak vrugte word aan die wingerd gelos om te verrot of word afgesny en weggegooi want dit sal die goeie wyn bederf.

Laat ons vandag vrugte dra wat van die beste gehalte is sodat dit die Wynmaker van ons lewens bly sal maak oor Sy wingerd.

Wednesday, November 18, 2009

Kan Jy God Sien?


Die jong seuntjie stap na sy ietwat ouer sussie met ’n vraag oor God. “Suzie, kan iemand ooit regtig vir God sien?” vra hy.
Besig met ander dinge antwoord Suzie effe geïrriteerd: “Nee, dommie, natuurlik nie. God is so hoog in die hemel dat niemand Hom kan sien nie.”

Tyd het verbygegaan, maar die vraag het nog bly vassteek in sy agterkop. Hy stap toe na sy ma toe en vra: “Ma, kan iemand ooit regtig vir God sien?” “Nee, nie regtig nie,” antwoord sy saggies, “God is ’n Gees en Hy woon in ons harte, maar ons weet net van Hom maar sien Hom nie regtig nie.”

Ietwat tevrede gestel met die antwoord maar nie honderd persent tevrede nie, het hy maar koers gekies na buite en gaan speel. Nie lank daarna het die seuntjie se oupa, wat ’n baie gelowige man was, hom saamgeneem op ’n hengel uitstappie.

Hulle het ’n wonderlike tyd saam gehad. Die son was besig om te sak en dit was ’n onbeskryflike mooi sonsondergang. Die oupa het in stilte die prag skouspel ingeneem wat besig was om te ontvou soos wat die son se strale kwyn en die prag van God se skepping beklemtoon in skakerings van rooi en oranje.

Toe die seuntjie sy oupa se gesig sien, vol verwondering oor die skouspel met ’n gelaat van volkome vrede, dink die seuntjie vir ’n oomblik na voordat hy huiwerig praat.

“Oupa, ek.... ek..... was nie van plan om nog iemand verder te vra nie, maar ek wonder of Oupa my kan antwoord op ’n vraag waaroor ek nou al ’n lang tyd wonder. Kan enige iemand regtig ooit vir God sien?”

Die ou man het nie eens sy kop gedraai nie. ’n Lang oomblik van stilte het verby gegaan voordat hy uiteindelik antwoord. “Ou seun,” sê hy saggies. “Dit word so, dat ek niks anders kan sien nie.”

Monday, November 16, 2009

Gelykenis van die Roos


’n Sekere man het ’n roos geplant en dit gereeld versorg en water gegee. Voordat dit begin blom het, ondersoek hy die roos en sien ’n roos knoppie wat binnekort moet oopmaak. Hy sien ook die doring en dink by homself, “Hoe is dit moontlik dat ’n pragtige blom deel is van ’n struik wat belas is met soveel skerp dorings?” Baie bedroef deur die gedagte het hy nagelaat om die roos boompie verder te versorg en water te gee en voordat die roosknoppie kon oopgaan het dit gesterf aan die droogte.

So is dit ook met baie mense. Binne elke siel is daar ’n roos. Die “God gegewe” kwaliteite wat by geboorte deel is van ons wat groei midde-in die dorings van ons foute. Baie van ons kyk na onsself en sien slegs die dorings, ons tekortkominge. Ons raak moedeloos, want wat goeds kan daar uit ons voortkom? Ons versuim om die goed binne ons te versorg en water te gee en uiteindelik sterf dit. Ons besef soms nie die werklike potensiaal waartoe ons in staat is nie.

Sommige sien nie die roosknoppe binne hulself raak nie. Dit neem iemand anders om dit aan hulle uit te wys. Een van die grootste gawes wat ’n persoon kan hê is die vermoë om verby die dorings te strek en die roosknop binne ander te vind. Dit is die wonderlikste eienskap van liefde vir ’n ander persoon, om afgesien van hul foute die edelheid in hul siel te herken en hulle steeds te help om te besef dat hulle hul eie gebreke kan oorkom.

As ons aan hulle die roos wys dan is dit makliker om die dorings te oorwin. Slegs dan sal hulle veelvuldig blom. Ons taak in die wêreld is om ander te help deur aan hulle hul rose te wys en nie hul dorings nie. Dit is slegs dan wat ons, ons doel bereik om mekaar onvoorwaardelik lief te hê. Dan sal ons kan blom in ons eie blomtuin.

Wednesday, November 11, 2009

Die Koekie Dief


’n Middeljarige vrou het een aand op die lughawe gewag vir haar vlug. Met nog ’n hele paar ure voordat haar vlug vertrek het sy ’n storieboek gaan soek om te lees terwyl sy wag op haar vlug. In die lughawe winkeltjie het sy ’n storieboek gekry en vir haar ’n sak koekies gekoop om aan te knibbel terwyl sy lees.

Sy het haar gemaklik gemaak op een van die rusbanke in die wag area. Sy was vreeslik geboei deur haar storieboek maar het tog opgemerk dat die man langs haar ’n koekie of twee vat uit die sak met koekies langs haar.
Sy het dit maar probeer ignoreer om nie ’n ophef daarvan te maak nie.

Sy het gelees, koekies geknibbel en die horlosie dopgehou terwyl die voorbarige “koekie dief” goed weglê in haar koekie voorraad. Sy het by die minuut meer geïrriteerd geraak met die persoon en het by haarself gedink, “As ek nie so gaaf en vredeliewend was nie het ek nou die ou bygedam en hom ’n taai klap gegee !”

Met elke koekie wat sy gevat het, het hy ook een gevat. Toe daar nog net een koekie in die sak oor was, het sy gewonder wat gaan hy nou doen met dit. Met ’n glimlag en benoude laggie neem hy die koekie en breek dit in twee. Hy offer haar die een deel en eet die ander helfte.

Sy gryp die halwe koekie by hom en dink, “Mensig, die ou is omtrent voorbarig en ongeskik daarby. Hy het nie eens die ordentlikheid om dankie te sê vir die koekies nie!” Sy weet nie wanneer lanklaas was sy so kwaad vir iemand nie. Met ’n sug van verligting hoor sy die aankondiging dat sy aan boord moet stap vir haar vlug. Met een haal gryp sy al haar besittings bymekaar en stap vasberade na die vertrek terminaal sonder om een terug te kyk na die “voorbarige dief”.

Nadat die vrou aan boord is en plaas geneem het in haar sitplek begin sy te soek na haar storieboek, wat feitelik klaar gelees is. Sy vroetel in haar handbagasie en snak na haar asem.
Daar was haar sak koekies in haar drasak!
“As myne hier is,” dink sy baie verleë, “dan was die ander sak koekies syne wat hy met haar gedeel het sonder om te kla!”

Te laat om verskoning te maak, dink sy baie gegrief,
was sy die hele tyd die ongeskikte, koekie dief.

Monday, November 9, 2009

Die Bondeltjie Padkos


Eendag lank, lank gelede het daar ’n groot trek plaasgevind. Die volk wat getrek het, het vir jare gebuk gegaan onder sware verdrukking. Die koning van die land van hul verblyf was ’n harde man wat met ’n yster hand regeer het oor hulle. Maar afgesien van die sware slawediens wat hul moes verrig was hul geseënd en het hulle uitermate vermeerder.
Tot so ’n mate dat die koning bekommerd geraak het en opdrag gegee het dat al die baba seuntjies vermoor moes word. Wonderbaarlik was dit so beskik deur die Lewende God dat die opdrag nie uitgevoer is nie en het die volk net aanhou vermeerder. Hoe meer die koning hul verdruk het, hoe meer geseënd was hulle.

Jare het verby gegaan waarin die volk verdruk en mishandel is, hulle het gemurmureer en gekla en hul sugte het opgestyg tot die Ewige Lewende Elohim wat hulle jammer gekry het en gedink het aan Sy verbond met hul voorvaders.

Op wonderbaarlike wyse het God hul verlos uit die hand van hul verdrukkers. Hy het dit so beskik dat daar verskriklike plae oor die verdrukkers gekom het, vir nege plae het die koning van die verdrukkers nie toegegee aan die volk se versoek om weg te trek nie. Met die tiende plaag wat God oor hul beskik het, die plaag van die dood, het die koning opdrag gegee dat hulle moes trek. Hul moes haastig klaarmaak om te vertrek op die lang tog na ’n beloofde land wat vir hul wag.

Die jongman van ons verhaal, Jakobus, het haastig ’n paar goedjies bymekaargesit en hy het vir hom ’n padkos bondeltjie gepak. In die padkos bondeltjie was heerlike brood en vleis wat hy wou saamneem vir die trek. Alhoewel hulle baie swaar gekry het onder die slawediens wat hulle moes verrig gedurende die dag, was die bordjie kos wat vanaand op hulle gewag het ’n hoogtepunt om na uit te sien elke dag. Soos ’n beloning vir die harde werk wat hulle die dag moes verrig.
Die kos word nog meer waardeer wanneer hulle saans aan die etenstafel luister na die verhale van die groot hongersnood wat hulle eintlik na die land toe gebring het. Hoe hul grootvader, wat eens ’n magtige man in die land was, hul redding deur God se genade bewerkstellig het sodat hulle voorvaders nie omgekom het van die honger nie.

Jakobus het geweet dit gaan ’n lang trek wees, want hul leier, het die koning die eerste keer gevra dat hy hulle laat trek, drie dae, die woestyn in om te aanbid. Maar die koning het sy hart nou so verhard teen die wil van die Lewende God dat hulle nou permanent gaan trek uit die land en hulle weet nie hoe lank die trek gaan wees na die nuwe en vry land toe nie.

Die oggend vroeg het die trek begin, almal het hul skamele aardse besittings op hul rug gedra of ’n tuisgemaakte slee om die swaarder items mee te vervoer. Jakobus het nie besef hulle was soveel mense gewees nie. Dit is nie altyd moontlik om ’n denkbeeldige prentjie te vorm van hoeveel mense daar is terwyl almal rond en bont bly in tente en modder hutjies nie totdat almal, groot en klein, op een plek vergader is nie.

Jacobus se aardse besittings was maar min gewees, paar komberse wat dien as beddegoed, tent en sommer ook as bagasie houer vir sy paar kleding stukkies.

Die oggend vroeg het hulle uitbeweeg uit die land van slawerny.
Dit was warm en bedompig. Die stofdampe van al die mense voete op die grondpad het sy keel gou droog en seer gemaak. Maar die droog en seer is oorskadu deur die blydskap om uit die slawerny uit weg te kom, om weer vry te wees.

So teen twaalf uur se kant, toe die middaghitte op sy ergste is, het die leier die volk laat sit om bietjie te rus en die liggame te versterk met ’n bietjie voedsel. Jacobus se vingers het vinnig die padkos bondeltjie ontknoop want hy was al amper dood van die honger gewees.
Die droë brood, vleis en water het heerlik gesmaak. In hierdie nuwe toestand van vryheid het dit nog beter gesmaak as wat dit gesmaak het terwyl hulle in slawerny was.

Jacobus het geëet tot hy net genoeg gehad het want die pad van die trek kan nog baie lank wees en die kos moet darem ’n hele rukkie hou. Hy weet hulle leier het vir hulle gesê hulle moet nie bekommerd wees nie, want die Lewende Almagtige God sal vir hulle sorg langs die pad, maar net vir ingeval dit nie gou gebeur nie moes hy homself bedwing om nie die meeste van sy padkos op te eet nie.

Hulle het weer opgestaan om verder te trek, die oggend se opgewondenheid oor die nuut gevonde vryheid het begin om te taan en die volk het onder mekaar begin kla en murmureer oor die hitte en die ongerief. Gelukkig vir hulle het Vader ’n wolkkolom oor hul beskik om hul te lei en aan hul skaduwee te gee. Maar selfs die wonder het hul nie verhinder om te murmureer nie.
Miskien het hulle met die verloop van jare so gewoond geraak om te kla en murmureer dat dit al tweede natuur by hulle geword het.

Die aand het die wolkkolom wat hulle gelei het verander in ’n vuurkolom sodat hulle dag en nag kon trek, weg van hul slawemeesters af.
Hul leier het hulle gelei tot teen die see en daar het hulle kamp opgeslaan. Die atmosfeer was weer vrolik en opgewonde want dis nou vir ’n geruime tyd dat daar geen teken van hul slawemeesters is nie. Verder is dit baie lekker hier teen die see, die klein kinders is opgewonde want dit is die eerste keer dat hulle by ’n see is en daar is ’n heerlike vars koel briesie wat vanaf die see oor die moeë reisigers waai.

Die vrolikheid is vinnig gedemp toe hulle leier aan hulle vertel dat God hom meegedeel het dat hy die koning van die land van hul gevangeskap se hart verhard het en dat hy op pad is om teen hulle oorlog te voer.

Maar hulle moes hulle nie bekommer nie, want hulle gaan nie deelneem aan die stryd nie, die Almagtige sal self met die koning en sy gevolg afreken. Dit was moeilik vir hulle om te vertrou want in die jare van slawerny het hulle so gewoond geraak om die gode te aanbid van die land waar hulle slawe was en hulle het nou eers weer die God van hul voorvaders leer ken. Alhoewel hulle gesien het wat Hy in Sy Almag gedoen het aan hul slawemeesters was daar maar tog die effense vertwyfeling.

Jacobus het van die ruskansie gebruik gemaak en sy kossakkie oopgemaak, maar die brood en vleis was nie meer so lekker vars en smaaklik soos die vorige kere nie. Die brood het al begin hard word en die vleis was droog gewees. Tog was Jacobus dankbaar vir die kos en dit het hom herinner aan die aande se lekker kos nadat hulle van ’n dag se harde werk terug gekeer het.
Die oggend vroeg toe die volk ontwaak sien hulle die slawe koning wat hulle agtervolg het. Die vertroue wat hulle in hul leier en God gehad het verdwyn soos mis voor die son en almal het uitgeroep; Hoekom het hy hulle nie net so gelos in die land van hul gevangeskap nie, nou sal hul hier in die woestyn, teen die see sterf terwyl hulle eerder in rus en vrede die koning kon dien.
Hulle leier het hulle vermaan om stil te bly en te kyk hoe hul verlossing geskied.

Hul leier het sy staf opgehef oor die see en die water het oopgekloof sodat daar ’n enorme voetpad vir hulle deur die see was. Hulle het onmiddellik begin trek deur die see. Jacobus was baie benoud gewees want hy het teen die kant van die muur van water geloop. Behalwe sy benoudheid was hy sprakeloos oor die groot wonderwerk wat sopas plaasgevind het en hy vergaap hom aan die berg water wat hier langs hom staan.
Aan die oorkant aangekom sien hulle hoe die koning se weermag die voetpad deur die water aandurf om by hulle uit te kom.
Toe die soldate en die strydwaens in die middel van die oopgekloofde see was, het die water toegemaak en is die hele leërmag van die koning verswelg deur die water.

So is hul agtervolgers vernietig en nou eers het hulle geglo aan die Almag van God en aan die woord van hul leier.
Terwyl die volk verder trek het hulle gejubel en lofsange opgehef tot hul Verlosser wat op wonderbaarlike wyse hul vryheid bewerkstellig het. Hulle het drie dae getrek in die woestyn sonder om op enige water af te kom. Die derde dag het hulle by water gekom maar die was te bitter om te drink.

Gou het die ou gewoonte van mor en kla kop uitgesteek en die vertroue en bewyse van God se wonderwerke het gevlug uit die hart van die volk. Hulle geheue van Sy wonderbaarlike verlossing was maar baie kort. Jacobus het begin kwaad raak vir sy mede reisigers, hoe kon hulle so ondankbaar wees ? Kan hulle nie sien, as God hulle kon verlos van een van die grootste leërmagte van die tyd, hoe maklik sal hy nie vir hulle kan voorsien aan vars water om te drink nie.
Wonderbaarlik het hul leier ’n stomp in die water geplaas en die water het soet geword en die hele volk kon drink.

Jacobus het besluit dat hy gou weer die padkos pakkie sal aandurf voordat hulle verder trek. Die brood en vleis was nou regtig besig om baie oud te raak maar hy het nie omgegee nie, want te midde van al die onbekendheid was sy kospakkie tog vir hom baie bekend en het die bekendheid daarvan hom vertroos.

Hul het weer opgepak en verder getrek die woestyn in. Dit was alreeds omtrent een en ’n halwe maand vandat hulle getrek het uit hul land van gevangeskap.
Die volk het nou aanhoudend gekla en bly vrae, hoekom het hulle leier hulle uit gevangeskap gelei net sodat hulle in die woestyn moet sterf van die honger. In die land waar hulle vandaan kom was daar oorgenoeg brood en vleis gewees en hulle verlang terug na die kospotte van die land waar hul vandaan kom.
God het met die leier gepraat en gesê dat daar elke oggend vir die volk brood sal wees op die aarde en saans vleis in die vorm van voëls.

Die eerste oggend het Jacobus die brood so gekyk wat op die grond lê en effens daaraan geproe. Dit was baie lekker maar tog vreemd. Miskien sal hy maar eers van sy kos nog eet wat in sy padkos sakkie is. Sjoe, die padkos smaak nou al aaklig, maar tog eet hy dit want hy ken dit. En hy moet erken die effense bekendheid van die ou kos uit die land waaruit hulle getrek het laat hom bietjie meer gerus voel hier in die vreemde. Sy liggaam is hier teenwoordig maar ’n deel van sy hart is nog in slawerny.
Deur die dag voel Jacobus nie baie lekker nie en sy maag is baie seer. Hy dink dit is maar seker van die lang trek deur die woestyn. Miskien sal hy vanaand beter voel.
Die aand terwyl die kwartels in die laer val maak hy so twee bymekaar maar op die ou einde los hy hulle weer want dis baie makliker om sommer van die padkos te eet.

Die aand eet hy maar weereens van die padkos, hy wurg dit maar af met klein slukkies water so nou en dan. Die kos, alhoewel sleg, is vir hom bekend en dit herinner hom aand die goeie ou tye wat hulle saans gehad het.
Daardie nag is Jacobus behoorlik siek en hy gaan na hul leier en vra of hy hom tog nie kan help nie, want hy voel of hy wil doodgaan.

Die leier vra vir Jacobus wat presies fout is en of hy van die brood en die vleis geëet het wat God uit die lug uit vir hulle geskenk het. Jacobus sê nee, ek verkies maar nog die padkos wat ek saamgebring het, want dit is vir my bekend en vertroos my in die onbekende omstandighede.
Hy sê toe aan Jacobus, dit is die fout, die kos is lankal nie meer goed nie en dit is wat hom so siek maak. Maar afgesien van die toestand van die kos is dit die feit dat hy nog met die een hand vashou aan die slawe diens en die ander aan God. Hy kan nie al twee dien nie, hy moet die een los en die ander dien anders gaan dit hom nog baie meer kos as net sy gesondheid.

Jacobus is terug na sy tentjie, hy het ’n geweldige stryd, hy weet nou hy moet die ou padkos weggooi en hom totaal verlaat op die nuwe kos wat God aan hulle skenk. Dis moeilik om die bekende vir die onbekende te verruil. Wat as dit dalk nie goed met hom akkordeer nie ? Maar hul leier het hom verseker dat die kos spesiaal is, dit proe vir elkeen soos wat hy graag wil hê dit moet proe en dit sal hulle volkome versadig sonder om enige een siek te maak.
Met ’n swaar gemoed het Jacobus die ou padkossie gaan begrawe buite die laer, met sy terugkeer het hy ’n gevoel van groot verligting ervaar.
Sy vertroue kan nou slegs wees in God wat vir hulle voorsien en nie in maaksels van mensehande nie veral nog as dit kom uit die land van hul gevangeskap.
Hy het nou met blymoedigheid die brood en die vleis geëet wat God elke oggend en aand aan hulle geskenk het en dis met dankbaarheid wat hy kon opsien na Vader vir sy voorsiening.

Hoe baie kere dra ons nie self aan so ’n gevaarlike padkos bondeltjie nie, wat uiters giftig vir ons is en net meer giftig word hoe langer ons dit dra: soos die wrok wat ek koester teen iemand anders, ek vergewe maar vergeet nie. My liefdeloosheid teenoor my mede broer en suster. Die sonde waaraan ek nog so vasklou want ek wil dit nie graag los nie.

Jy weet self wat is jou bondeltjie padkos wat jy dra ............. dink jy nie dit is tyd om die ou kos te begrawe en te deel in die heerlike wat vir jou bestem is nie ?

Friday, November 6, 2009

Belangrike Lesse ......


Wat Kinders Geleer het:

1. Wanneer jou Ma kwaad is vir jou Pa, moenie dat sy jou hare kam nie.
2. As jou suster jou slaan, moenie terug slaan nie, hulle vang altyd die tweede persoon.
3. Jy kan nie honde vertrou om jou kos op te pas nie.
4. Moenie nies terwyl iemand jou hare sny nie.
5. Jy kan nie ’n stukkie blomkool in jou glas melk wegsteek nie.
6. Die beste plek wanneer jy hartseer is, is op Ouma of Oupa se skoot.
7. Maak nie saak hoe jy die koeldrank meet nie, maar jou broer het altyd meer koeldrank as jy.
8. As daar lekker nagereg is moenie laaste by die bak uitkom nie.
9. Lekkergoed is geneig om jou eetlus weg te neem en jou boude te laat brand.
10. Honde en katte hou ook nie ertjies nie.

Wat Volwassenes Geleer het:

1. Om ’n tiener groot te maak is soos om jellie aan ’n boom vas te kap.
2. Plooie maak nie seer nie.
3. Middeljare is wanneer jy jou ontbytgraan kies vir die vesel en nie die plesier nie.
4. Jy kry jou kinders uit die huis maar nie uit jou sak nie.
5. Geduld is soms die enigste behoud wat keer dat jy in ’n gestig beland.
6. Ek het nog nooit gedink aan skei nie, maar moord, heelwat.
7. Selektiewe doofheid is nie ’n fisiologiese gebrek nie maar ’n verdedigings meganisme.
8. Haarkleursel is spesiaal ontwerp vir ouers met tieners.
9. Tieners beskryf die ouderdom tussen tien en nêrens.
10. Ma’s en Pa’s kan nie waag om hulle lekkers oor te los vir môre nie.

Wat die Ouderdom ons Leer:

1. Om oud te word, is verpligtend, om groot te word, is opsioneel.
2. Vergeet die gesondheids kosse, ek het al die preserveer middels nodig wat ek kan inkry !
3. Wanneer jy val, wonder jy wat jy nog kan doen terwyl jy daar onder lê.
4. Jy word baie oud wanneer jy dieselfde sensasie ervaar van ’n skommelstoel as wat jy vroeër ervaar het van ’n roller coaster.
5. Dit is frustrerend wanneer jy al die antwoorde weet maar niemand doen die moeite om jou te vra nie.
6. Tyd mag miskien ’n wonderlike geneser wees maar ’n patetiese skoonheidskundige.
7. Wysheid kom met die ouderdom, maar somtyds kom net die ouderdom.
8. Jou sig verbeter met die ouderdom want jy moet die boek al verder weghou van jou oë af.
9. Die enigste een wat jou gereeld wil sien is nou dokter.
10. Oumas en Oupas behoort altyd ’n lekkertjie in hul sak te hê.

Wednesday, November 4, 2009

Die Reën van die Gees


Vir my is daar seker nie ’n mooier klank as die val van reëndruppels op ’n sinkplaat dak nie. Dit het ’n bekoring van sy eie en dit is wonderbaarlik hoe selfs net die geluid van die reën al klaar mens se siel vernuwe en ophef in dankbaarheid.

Vanoggend tydens my stiltetyd het dit weer heerlik begin reën en die gelykenis van die saaier het onmiddellik in my gedagtes opgekom. Hoekom dié gelykenis en die les daaragter sal ons nou by kom.

Die mens is soms so geneig om die lering van God so ingewikkeld te maak dat geen persoon dit op die einde verstaan nie en dat dit mense slegs deurmekaar maak in plaas daarvan om hulle die eenvoudige waarheid van Vader se liefde en genade te leer.
As ons net bereid is om vir ’n oomblik stil te staan en te luister wat Hy ons wil leer deur Sy skepping, dan kan ons dalk miskien van die wonderlikste lesse leer wat geen mens aan ons kan oordra nie maar slegs die Gees van God.

Die Saaier wat die saad gesaai het in die landerye moes dit tog gedoen het in opdrag van iemand. ’n Boer sal byvoorbeeld ’n saaier huur om die saad te saai en aan hom opdrag gee waar hy oral die saad moet saai.
Maar tog is daar ’n paar faktore wat in ag geneem moet word wanneer daar gesaai word, naamlik is dit nou saaityd, met ander woorde is dit die regte seisoen om te saai. Is die reën naby om die saadjies te benat sodat hulle kan ontkiem en groei.
Mens kan tog nie saai te midde van ’n droogte of in die droë seisoen nie. Is die grond goed voorberei vir ontvangs van die saad, is dit behoorlik geploeg en geëg.
Daar moet ’n samewerking wees tussen die boer, die saaier en die reën om ’n vrugbare oes te verseker.

In hierdie gelykenis sien ons ook die volheid van Vader werksaam in die hart van die mens.
God het Sy eniggebore Seun ons Verlosser Yahshua gestuur om die saad van liefde in ons harte te kom saai. Ons harte moet voorberei wees sodat die saad in vrugbare en goeie grond kan val om uit te spruit en in oorvloed vrug te dra.
Maar die saad moet versorg word nadat dit gesaai is en daarom het die Heilige Gees in ons hart kom woon, die “Reën” wat die saad moet benat en die jong plantjies moet versorg.

Ons het die “Reën” van Vader nodig om te groei tot volheid en oorvloedig vrug te dra. Maar Vader het aan ons die keuse gegee, ons kan kies of ons Hom wil toelaat om volle beheer te neem van ons hart sodat ons geseën kan word deur die “Reën” van Sy genade of ons kan kies om nie die saad te laat uitspruit en vrug dra nie.
Soms is ons versamelaars van saad maar ons wil dit net saam met ons dra, ons wil nie toelaat dat dit gesaai word en groei nie, want dan moet ek die beheer van my “landery” oorgee aan die groot “Landbouer” en daarvoor sien mense nie kans nie.

’n Landery wat nie beplant is nie of waarop ’n misoes is, is slegs goed vir die vee om op te loop en af te wei.

Is jy gereed vir die “Reën” se seën ?

Monday, November 2, 2009

Klein Appeltjies


Ouerskap ......... As dit bedoel was om maklik te wees dan sou dit nooit begin het met iets soos kraam PYNE nie !

Om op jou kinders te skree sodat hulle moet luister is soos om ’n motor se toeter te gebruik om die motor te stuur en jy kry omtrent dieselfde resultate met beide.

Om môre in jou kinders se herinnering te wees, moet jy vandag in hul lewe wees.

Die beste advies om kinders groot te maak: Geniet hulle terwyl hulle nog aan jou kant is.

Wreek jouself ..... Leef lank genoeg om ’n probleem vir jou kinders te wees.

Die beste manier om kinders by die huis te hou is om die huis so aangename plek as moontlik te maak.

Om ’n tiener groot te maak is soos om jellie aan ’n boom te wil vas spyker.

Kinders mors nooit op ’n vuil vloer nie.

As jy ’n probleem het om jou kinders se aandag te kry, gaan sit net en maak jouself baie gemaklik.

Kranksinnigheid is oorerflik, ..... jy kry dit van jou kinders.

Dit is selde dat tieners besef dat hulle eendag net so min sal weet soos hul ouers.

Jy kan baie dinge van kinders leer ...... soos hoeveel geduld het jy.

Vakansies is die enigste tyd wat ouers besef dat onderwysers hopeloos te min betaal word.

Daar is drie maniere om dinge gedoen te kry:
1. doen dit jouself
2. huur iemand om dit vir jou te doen
3. verbied die kinders om dit te doen.

Die wat sê hulle “slaap soos ’n baba” het nie een nie.

Hulle sê die appel val nie vêr van die boom nie, maar party dae dink ek die bure het hulle appels onder my boom gegooi.