Monday, August 24, 2009
Trek uit jou Baadjie!
Die verhaal word vertel van n matriek klas by ‘n sekere skool wat regeer was deur die belhamel element. Die klas het haas onregeerbaar geword en een na die ander onderwyser het sy of haar goed gevat en geloop omdat dit nie vir hulle enigsins moontlik was om die dissipline en orde te handhaaf in die klas nie.
Daar was advertensies in al die koerante geplaas maar soos wat die onderwysers aangestel was, so het hulle ‘n paar weke later maar weer hulle goed gevat en geloop.
Maar een oggend was daar n ligte kloppie aan die skoolhoof se deur en ‘n tingerig geboude man het daar gestaan. Die skoolhoof het gegroet en toe stel die man homself voor, “Ek is Mnr. Buys en ek het kom aansoek doen vir die pos van matriek onderwyser.”
Die skoolhoof het die man op en af gekyk en toe vir hom gesê, “Dankie Mnr. Buys, maar groter en sterker manne as jy het al aansoek gedoen en het maar weer stert tussen die bene ‘n paar weke later die pad gevat!”
Mnr. Buys het die skoolhoof in die oë gekyk en toe gesê: “Dan het jy mos niks om te verloor deur my ‘n geleentheid te gee nie. Ek sien kans vir hierdie klas.”
Die skoolhoof het sy bedenkinge gehad, maar het te sleg gevoel om vir hierdie man te sê dat hy heeltemal te klein en maer is vir hierdie klomp belhamels en het hom toe aangestel. Want kon hy dan nou immers verloor.
Die volgende oggend was die matriek klas weer op hulle stukke, die geraas
was deur die hele skool hoorbaar. Daar was ‘n vreeslike rumoer wat deur die
gange ge-ego het. Die klas deur het oopgegaan en mnr. Buys het stadig by
die deur ingeloop terwyl hy die hele spul so op en af bekyk. Hy het agter
sy tafel gaan staan en net na die klas gekyk, sonder om ‘n woord te sê.
Daar het skielik ‘n doodse stilte oor die matriek klas neergedaal. Of dit verbasing was omdat so ‘n klein verpiepte mannetjie die manne moed gehad het om in hulle klas in
te stap en of dit net die atmosfeer was wat die man omvou het, wat ookal
die rede, die stilte was voelbaar.
Mnr. Buys het van die geleentheid gebruik gemaak om die klas te groet, homself voor te stel en hulle te vra om asseblief hulle plekke in te neem.
Hy verduidelik toe vir hulle dat hy orde en dissipline gaan toepas, maar met die
verskil, dat hulle die reëls en die straf sal bepaal.
Hy gaan staan toe voor die swart bord en vra hulle, watse reëls wil hulle instel.
Die een groot belhamel met die naam van Jakobus spring toe op en
skree: "Daar mag geen diefstal wees nie, en mnr. Buys skryf toe GEEN DIEFSTAL. Die volgende ou spring toe op en se daar mag geen vloekery wees nie, en mnr.
Buys skryf GEEN VUIL TAAL, en so het die klomp hulle totaal en al oorgegee aan die genot van die maak van die reëls.
Toe staan mnr. Buys eenkant en sê, “Dit is nou goed so, maar wat van die straf as een van hierdie reëls verbreek word?”
”O, dit is maklik!” skree ou Jakobus weer, “tien van die bestes met die rottang!”
”Dis goed so.” sê mnr. Buys, “so sal dit wees.” en skryf toe die straf ook op die bord.
Die dag het redelik vlot verloop en die pouse het aangebreek. Na pouse storm Jakobus die klas binne en sê vir mnr. Buys, "My toebroodjies is gesteel, en die reëls sê daar mag nie gesteel word nie, so die skuldige moet asseblief gestraf word!”
Mnr. Buys vra toe of hy weet wie die brood gesteel het, “Ja!” sê Jakobus, “dit was Klaas.” Mnr. Buys vra toe wie Klaas is, en agter in die klas staan ‘n maer, verwaarloosde seun stadig op.
Mnr. Buys vra hom toe of hy die brood geneem het en hy sê toe ja, hy het.
Mnr. Buys kyk toe vir die kind en sien dadelik die hongerpyne op die seun se gesig raak, maar hy het ook besef, as hy nie die nodige dissipline toepas nie gaan hy ook druipstert die skool verlaat soos al die onderwysers voor hom.
Hy roep toe vir Klaas om vorentoe te kom. Klaas was die toonbeeld
van armoede, die skoene was stukkend, en oor sy skoolbroek het hy ‘n
oorgrote baadjie gedra wat hy styf voor toegevou het.
“Klaas trek uit jou baadjie en kom buk.” gebied mnr. Buys hom. Klaas kom toe vorentoe en buk met die baadjie pante nog steeds styf vasgehou.
“Nee Klaas, die baadjie is te lank en dit hang oor jou boude, jy moet dit asseblief uittrek!” “Ag meneer,” smeek Klaas, “ek sal buk, want ek is skuldig, maar asseblief meneer, net nie my baadjie nie.”
Mnr. Buys voel hoe sy binneste ruk, want hy weet hier is groot behoefte, maar terwille van die dissipline van die klas moet die seun gestraf word.
Hy versoek toe weer vir Klaas om sy baadjie uit te trek, en weer smeek hierdie maer verwaarloosde kind, “Meneer, ek sal enige iets doen maar asseblief meneer, ek kan nie die baadjie uittrek nie.”
Mnr. Buys kon ook nie toegee nie, en sê weer, “Kom Klaas, uit met die baadjie!” en toe Klaas sien daar is nie verbykom kans nie en hy sal moet die baadjie uittrek, toe maak hy dit oop en laat dit stadig grond toe gly en staan voor die onderwyser met net die broek aan sy lyf.
”Klaas, waar is jou hemp?” vra mnr. Buys, “Meneer, in ons huis is daar net
een hemp en een baadjie en dit was vandag my boetie se beurt om die hemp
te dra. En meneer ek het nie bedoel om die brood te neem nie, ek het
gedink Jakobus gaan dit net weer in die asblik gooi soos elke dag, en ek was
so honger, toe dink ek hy sal nie eers agterkom dat die brood weg is nie.”
Mnr. Buys het gemaak of hy na iets op die bord kyk om hom geleentheid te
gee om sy emosies onder beheer te kry. Toe draai hy om en sê, “Klaas, jy
verstaan dat ek wel die dissipline moet toepas. Jy verstaan dat ek nie ‘n uitsondering kan maak nie? Klaas kyk hom in die oë en sê, “Ja meneer,
ek verstaan.” en toe buk hy.
Mnr. Buys tel die rottang op om die eerste hou te slaan, toe breek Jacobus se stem die stilte in die klas, "Wag Meneer, moenie hom slaan nie.” Mnr. Buys kyk na Jacobus en sê, “Nee, die straf moet toegepas word vir die oortreding van die reëls.”
"Nee meneer, moenie hom slaan nie, hy was honger, los hom, ek sal in sy plek kom buk om die straf te dra.”
Daar was nie ‘n droë oog daardie dag in daardie klas nie.
Maar net so het daar Iemand ook voor die Vader gestaan en gesê, “Asseblief Vader, moenie hulle straf nie. Ek sal in hulle plek die straf neem.”
Kom ons maak ‘n punt daarvan om in hierdie nuwe dag, hierdie nuwe week opnuut vir ons Messias dankie te sê vir die straf wat Hy namens ons gedra en verduur het.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment