Monday, March 23, 2009

Die Leë Stoel


’n Sterwende man se dogter het die plaaslike prediker versoek om haar vader te besoek en vir hom te bid. Toe die prediker by die huis arriveer vind hy die man in die bed. Hy was in ’n sittende posisie en is ondersteun deur ’n klompie kussings agter sy rug. Langs sy bed het ’n leë stoel gestaan. Die prediker het aangeneem dat die sterwende man ingelig is van sy besoek. “Ek neem aan jy het my verwag?” vra die prediker toe.

“Nee, wie is jy?” vra die man.

“Ek is die nuwe prediker vir die gemeente in die dorp.” antwoord die prediker. “ Toe ek die leë stoel gewaar het ek aanvaar dat jy bewus was dat ek op pad is om jou te kom besoek.”

“O ja, die stoel,” sê die sterwende man. “Sal jy omgee om die deur toe te maak, asseblief?”

Bietjie verbaas maak die prediker die deur toe.

“Ek het dit nog nooit vir iemand vertel nie, nie eens vir my dogter nie,” sê die man. “Maar my hele lewe deur het ek nog nooit geleer hoe om te bid nie. By die kerk het ek die predikant hoor praat oor gebed, maar ek kon dit nooit verstaan of begryp nie...”

“Ek het alle pogings om te bid laat vaar,” gaan die ou man voort, “tot een dag so ongeveer vier jaar gelede toe my beste vriend vir my gesê het, ‘Johan, gebed is ’n baie eenvoudige saak. Dis soos om ’n gesprek met Jesus te voer. Hier is wat ek voorstel. Gaan sit op ’n stoel en plaas ’n leë stoel voor jou en in geloof sien vir Jesus op die stoel. Dit is nie onnatuurlik nie, want Hy het belowe, ‘Ek sal altyd met jou wees.’ Praat dan net met Hom en luister op dieselfde wyse soos jy nou met my doen.”

“Wel, ek het dit probeer en het so baie daarvan gehou dat ek dit nou ’n paar ure per dag doen. Ek is tog versigtig, want as my dogter sien dat ek met ’n leë stoel gesels sal sy ’n oorval kry of my groendakkies toe stuur.”

Die prediker was diep geraak deur die verhaal van die sterwende ou man en het hom aangemoedig om voort te gaan met die gesprekke. Hulle het saam gebid en die prediker is weer terug dorp toe.

Twee dae later bel die dogter die prediker om hom in kennis te stel dat haar vader die middag oorlede is.

“Het dit gelyk of hy in vrede gesterf het?” vra die prediker.

“Ja, toe ek die huis verlaat die middag 2 uur om ’n paar inkopies te gaan doen het hy my geroep na sy bed, eers een van sy droë grappies vertel en my op die wang gesoen. “Toe ek sowat ’n uur later by die huis kom, van die dorp af, vind ek dat hy reeds dood was. Maar daar was tog iets baie vreemds gewees, inteendeel meer as vreemd – ontstellend.

Klaarblyklik, net voordat Pappa gesterf het, het hy oorgeleun en sy kop laat rus op die leë stoel wat altyd langs sy bed gestaan het”

No comments: