Vandag se inspirasie word spesiaal opgedra in herinnering aan Dries Kriel. Sterkte en ondersteuning deur ons Almagtige Vader word vir sy gesin en familie toegebid.
Die gedig bly vir my een van die treffendste oor die hartseer van die konsentrasie kampe en beeld die pyn en verlange in 'n kleine kinderhart so pragtig uit.
LAPPOP
Sy is van Boere afkoms
Net vier kort jaartjies oud
Haar oë is soos die hemel
En vlegseltjies van goud
Op hul plaas daar in die Vrystaat
Waar hul klipsteen woning staan
Neem sy haar tuisgemaakte lappop
Oral waar sy gaan
Die diere het sy almal
By die naam geken
So weet sy altyd eerste
Waar broei die weglê hen
Maar toe kom daar ‘n oorlog
En haar pappie gaan vêr weg
Dit was so sê haar mammie
Om vir die Republiek te veg
Die oorlog duur toe langer
As wat almal eers wou wis
En die traantjies vloei gedurig
Soos sy haar pappa mis
Die uitlanders kom later
En laai hul op ‘n wa
So sit sy met haar lappop
Verwese langs haar ma.
Sy sien hoedat die Kakies
Haar diereryk vermoor
En toe hul huis in vlamme opgaan
Wis sy hul het als verloor
Haar rokkies was altyd
Vir haar alte fraai
Nou dra sy ‘n meelsak rokkie
Dit vertoon vir haar so saai
Haar lyfie raak al dunner
En haar armpies word krom
Want in die moordkamp heers daar honger
En haar mamma sit daar stom
Die mondjie wat eers kon skater
Het nou ‘n bitter trek
En hartverskeurend is die fronsie
Wat oor haar gesiggie strek
Sy sit daar in die kamptent
Haar lappop knel sy vas
Want haar mammie is reeds gister
Verlos van aardse las
So kry hul haar ook later
Daar by haar lappop lê
En laat haal ‘n ou seepkissie
Om haar en haar ou lappop
In die aarde weg te lê
Sy was van Boere afkoms
Net vier kort jaartjies oud
Haar oë was soos die hemel
En vlegseltjies van goud
No comments:
Post a Comment