Friday, November 29, 2013

Die Nutsman’s Filosofie




My werkswinkel is my tempel.
My gereedskap is soos hoofstukke in die Bybel.
Dit is hier waar waar ek iets wat oud en afgeleef  is kan herstel.
Dit is hier waar ek iets seldsaams kan skep.
Dit is hier waar ek vrede met myself kan ervaar.

Elke gereedskapstuk leer my om my karakter te verbeter.
Elke gereedskapstuk toon aan my ‘n riglyn vir die lewe.
Elke gereedskapstuk leer my hoe my interaksie met ander moet wees.
Elke gereedskapstuk het ‘n doel.

My gereedskaps rak bestaan uit die volgende stukke en elkeen van hul vorm my karakter:

My Beitel:
om harde kwaste in my gewoontes mee weg te kap en te sny. Die kettings van gewoontes is te swak om te voel totdat hulle te sterk is om te breek.

My Hammer:
leer my om die aanslae van die lewe met moedigheid  te verduur. Een man met moed vorm ‘n meerderheid.

My Saag:
om slegte gedagtes uit te saag en af te sny. Verandering van my denke kan my houding verander en my hele wêreld.

My Passer:
om my te herinner dat die lewe in sirkels loop. Wat ek uitstuur is dit wat later weer terugkom na my. Wees waaksaam oor wat jy in die sirkel doen want dit kom altyd terug na jou – tienvoudig – hetsy goed of sleg.

My Winkelhaak:
om regverdigheid aan die dag te lê wanneer ek die aksies van ander beoordeel. Die eerste plig van elke gemeenskap is regverdigheid.

My Liniaal:
om mense te meet aan dit wat hulle doen en nie aan wat hulle sê nie. Ek beoordeel ‘n boom nie aan sy blare nie maar aan sy vrugte wat hy voortbring.

My Merkers Potlood:
om duidelik my foute te merk. Die grootste fout wat ek kan maak is om nie te weet ek het ‘n fout gemaak nie.

My Boor:
om my slegte bedoelings tot in die wortel in uit te haal en te verwyder. Hulle spruit gewoonlik voort uit my onkunde.


My Bankskroef:
om die feite aan te gryp en die waarheid uit te pers want ek het geleer dat die waarheid meer belangrik is as die feite.

Die Slypsteen:
om my werk te doen sonder om te mor en te kla. Werk help my om iets te bereik en nie net te verkry nie.

Die Moersleutel:
om die “Ek gee nie om” houding skiet te gee en die “Ek is verantwoordelik” houding bietjie stywer te draai.

Die Skroewedraaier:
om die verkeerd ongedaan te maak en die reg te herstel. Die goeie is kennis en die bose is onkunde.

My Veiligheids Brille:
om pynlike geskinder af te weer en my oë oop te hou vir die waarheid.

My Vyl:
om die weg vir iemand anders gelyk te maak. Geduld en volharding oorwin alle probleme.

My Tang:
om my foute mee te gryp. Om my foute te erken is die wegspring tot oorwinning en bewys my wyser as voorheen.

My Skaaf:
om my splinters van nood leuentjies en wit leuentjies weg te skaaf. ‘n Halwe waarheid is hele leuen.

My Aambeeld:
om my te herinner om sterk te staan teen die lewens aanslae. Teenspoed openbaar wysheid, voorspoed verberg dit.

My Blikskêr:
om die behoefte om ‘n leuen te vertel af te sny. Die grootste leuen in die wêreld begin met die woorde, “Hulle sê ..............”

My Langbek Tangetjie:
om versigtig die geleentheid uit elke probleem uit te haal. ‘n Probleem wat goed gedefinieer is, is ‘n probleem wat al halfpad opgelos is.

My Sweismasjien:
om vriendskapsbande te smee wat ‘n leeftyd sal bestaan.


“Maak nie saak hoe groot jou pa was of is nie, jy moet steeds jou eie groeiwerk doen.”

Tuesday, October 8, 2013

Die Huwelik




Toe ek daardie aand by die huis kom, terwyl my vrou besig was met die voorbereiding van aandete, het ek haar hand in myne geneem en gesê, daar is iets wat ek haar moet vertel. Ons het aangesit vir aandete en sy het in stilte haar kos geëet. Terwyl ek na haar kyk merk ek weereens die pyn in haar oë op.

Skielik weet ek nie meer hoe om die onderwerp te begin nie, my mond maak oop maar daar kom geen geluid uit nie. Maar, ek moes haar in kennis stel wat ek van plan was om te doen. Ek wil ‘n egskeiding hê. Ek het die onderwerp baie kalm geopper.

Dit het nie gelyk of my woorde haar vreeslik ontstel het nie, in plaas van woede het sy my saggies gevra, Hoekom?

Ek het haar vraag probeer ontduik. Dit het haar kwaad gemaak. Sy laat val haar  mes en vurk in die wasbak en krap haar kos in die vullis drommetjie uit terwyl sy op my gil, “Jy is nie ‘n man nie, want jy kan nie eens die waarheid aan my vertel nie!” Daardie aand het ons nie verder met mekaar gepraat nie. Sy het op die bed gelê en huil. Ek het geweet sy wou uitvind wat het skeefgeloop in ons huwelik. Maar ek kon kwalik aan haar ‘n bevredigende antwoord gee; ek het my hart verloor op Karlien. Ek was nie meer lief vir haar nie. Ek het haar net bejammer!

Met ‘n diepe skuldgevoel, het ek ‘n egskeidings ooreenkoms opgestel wat bepaal dat sy kry die huis, ons motor en 30 % belang in my maatskappy.

Sy het net so na die dokument geloer nadat ek dit aan haar oorhandig het en dit toe in stukke geskeur.Die vrou wat reeds vyftien jaar van haar lewe saam met my spaardeer het, het ‘n vreemdeling geword. Ek het jammer gevoel vir die tyd en energie wat sy ingesit het in die verhouding, maar ek kon nie terugtrek wat ek gesê het nie, want ek was so bitter lief vir Karlien. Uiteindelik, het sy hardop voor my gehuil, wat ek eintlik verwag het moes aanvanklik gebeur het. Vir my was haar gehuil eintlik ‘n soort van verligting. Die idee van ‘n egskeiding, wat by my ‘n obsessie begin raak het die afgelope paar weke, het meer defnitief en duideliker geraak in my geestesoog.

Die volgende dag, het ek eers baie laat by die huis gekom, en tref haar aan waar sy by die tafel besig was om iets te skryf. Ek het nie aandete genuttig nie maar is reguit kamer toe en het baie gou in ‘n diep slaap verval. Ek was moeg van ‘n dag vol opwinding saam met Karlien.

Deur die nag het ek wakker geword en gesien dat my vrou steeds besig was om te skryf by die tafel. Dit het my nie veel gepla nie en ek het omgedraai en verder geslaap.

Die volgende oggend het sy haar egskeidings voorwaardes aan my voorgelê: sy wou niks van my gehad het nie, maar het ‘n maand kennisgewing periode verlang voor die egskeiding. Sy het versoek dat ons in daardie een maand albei hard sou poog om so ‘n normale lewe as moontlik te lei. Haar rede was eenvoudig: ons seun sou oor ‘n maand begin met sy eksamens en sy wou nie sy lewe omverwerp met ons gebroke huwelik nie.

Die was aanvaarbaar vir my. Maar sy het nog ‘n addisionele voorwaarde gehad, sy het my gevra om terug te dink hoe ek haar oor die drumpel van ons huwelikskamer gedra het op die dag van ons troue.

Sy het versoek dat ek vir die duur van die maand haar elke oggend, voor werk, uit ons slaapkamer moet dra na die voordeur. Ek het gedink sy was besig om mal te word met die versoek, maar ter wille van die vrede het ek besluit dat ek sal voldoen aan die vreemde versoek van haar.

Ek het Karlien ingelig oor my vrou se vreemde egskeidings voorwaardes. Sy het hardop gelag en gedink dit is absurd. Maak nie saak met watse toertjies sy vorendag kom nie, sy sal maar die egskeiding moet aanvaar, het sy naywerig opgemerk.

Ek en my vrou het nie enige fisiese liggaamlike kontak gehad nadat ek my voorneme vir ‘n egskeiding duidelik gemaak het nie. Dus, toe ek haar die eerste dag optel het ons beide maar redelik lomp voorgekom. Ons seun het agter ons aangeloop en sy hande geklap met die woorde, “Pappa dra mamma in sy arms!”
Sy woorde het ‘n mate van pyn vir my meegebring. Van die kamer, af met die trappe, na die sitkamer deur die gang,  na die voordeur, ek het meer as 20 meter met haar in my arms geloop. Sy het haar oë toegemaak en saggies aan my gefluister; “moet asseblief nie aan ons seun vertel van die egskeiding nie.” Ek het my kop geknik en het ‘n bietjie onsteld gevoel oor haar versoek. Ek het haar buite die voordeur neergesit. Sy is daar weg oppad na die bushalte om die bus te haal vir haar werk. Ek het alleen na my kantoor gery.

Op die tweede dag het beide van ons meer normaal opgetree en was die draery makliker. Sy het met haar kop op my bors geleun. Ek kon die geurigheid van haar bloes ruik. Ek het besef dat ek in ‘n baie lang tyd nie baie intens na haar gekyk het nie. Ek het besef sy was nie meer jonk nie. Daar was fyn plooitjies op haar gesig en haar hare was besig om hier en daar grys te word. Ons huwelik het sy tol van haar geëis. Vir ‘n oomblik het die skuldgevoel my oorweldig en het ek gewonder wat ek haar aangedoen het.

Op die vierde dag, toe ek haar optel, voel ek ‘n mate van intimiteit wat terugkeer en ‘n teerheid vir haar. Dit was die vrou wat vyftien jaar van haar lewe aan my gegee het.

Op die vyfde en sesde dag het ek besef dat die gevoel van intimiteit besig was om vir beide van ons te groei. Ek het nie vir Karlien hiervan vertel nie. Dit het makliker geword om haar te dra soos wat die dae van die maand verby snel. Miskien het die oefening om haar elke dag te dra my bietjie sterker begin maak.

Sy het die een oggend baie besluiteloos voor die klerekas gestaan en die een rok na die ander probeer, maar kon nie ‘n geskikte rok vind nie. Sy sug toe hardop, “al my rokke het te groot geraak vir my.” Ek het skielik besef dat sy baie gewig verloor het en eintlik vreeslik skraal geword het, dit was die rede hoekom ek haar die laaste ruk so maklik kon dra.

Skielik tref dit my ...... sy het soveel pyn en hartseer wat sy in haar binneste verberg die laaste tyd. Onbewustelik reik ek uit met my hand en raak haar sagte hare aan.

Op daardie oomblik kom ons seun die kamer in en sê, “Pappa, dis tyd om weer vir mamma uit te dra.” Vir hom, om te sien hoe sy pa sy ma uitdra na die voordeur het ‘n essensieële deel van sy lewe geraak. My vrou beduie vir ons seun om nader te kom en sy gee hom ‘n stywe drukkie. Ek het my kop weggedraai, want ek was bevrees dat ek op die nippertjie van plan kan verander. Ek het haar opgetel in my arms en haar gedra van die kamer na die sitkamer deur die gang oppad voordeur toe. Haar arm was saggies om my nek gevou en dit het so natuurlik gevoel. Ek het haar tenger liggaam bietjie stywer vasgehou; dit was net soos ons huweliks dag.

Maar haar baie ligter liggaams gewig het my hartseer gestem. Op die laaste dag van die kennis maand, terwyl ek haar in my arms hou kon ek skaars ‘n treetjie gee. Ons seun was reeds skool toe. Ek het haar styf vasgehou en gesê, “ek het nooit opgemerk dat daar so groot leemte aan intimiteit in ons lewens was nie.

Ek ry na Karlien se woonstel toe........... spring vinnig uit my motor uit, sonder om die deur te sluit. Ek was bevrees dat enige vertraging kon veroorsaak dat ek van gedagte verander.... ek stap vinnig na haar  woonstel en klop aan die deur. Karlien maak die deur oop en ek sê aan haar, “Jammer Karlien, maar ek wil nie meer skei nie.”
Sy kyk verstom na my en vat aan my voorkop. “Het jy ‘n koors of wat makeer?” sê sy. Ek neem haar hand weg van my voorkop. “Jammer Karlien,” sê ek, “maar ek kan nie voortgaan met die egskeiding nie. My getroude lewe was vervelig, maar dit was omdat ons nie meer waardering gehad het vir die klein detail in ons lewens nie en nie omdat ons nie meer lief was vir mekaar nie. Nou besef ek eers dat vandat ek haar as bruid in my huis ingedra het, ek veronderstel was om haar vas te hou totdat die dood ons skei.

Dit lyk asof Karlien skielik wakker skrik. Sy gee my ‘n harde oorveeg, klap die deur toe en bars in trane uit. Ek stap met die trappe af en ry weg.

By die bloemiste, op my pad kantoor toe, bestel ek ‘n pragtige ruiker vir my vrou. Die verkoopsdame vra aan my wat moet op die kaartjie geskryf word. Ek glimlag, neem die kaartjie by haar en begin skryf, “Ek sal jou elke oggend dra totdat die dood ons skei.”

Ek besluit om bietjie vroeër weg te loop by die kantoor en my vrou te verras by die huis voordat ons my seun gaan haal by die nasorg.
Ek arriveer by die huis, blomme in die hand en glimlag op die gesig. Ek hardloop met die trappe op na ons kamer om my vrou aan te tref op ons bed – dood.

My vrou het reeds maande ‘n oorlewings stryd aan die gang gehad met kanker en ek was te besig met my verhouding met Karlien om op te merk dat daar fout was met my vrou. Sy het geweet dat sy nie meer lank het om te leef nie en steeds het sy my probeer beskerm teen die negatiewe reaksie wat my seun jeens my sou gehad het indien ek voortgegaan het met die egskeiding. Ten minste in die oë van ons seun – is ek ‘n liefdevolle eggenoot.....

Die klein detail van ons lewens is wat werklik saak maak in ‘n verhouding. Dit is nie die paleis van ‘n huis, die blink motor, eiendomme of die geld in die bank nie. Dit skep miskien ‘n omgewing wat bevorderlik is vir geluk, maak kan nie opsigself geluk voortbring nie. Dus, maak tyd om jou eggenoot se beste vriend te wees en doen daardie klein dingetjies vir mekaar wat intimiteit bou.

Thursday, October 3, 2013

Die Koekie Dief




Die middeljarige vrou het een aand in die lughawe se sitkamer gewag op haar vlug om te arriveer. Met nog ‘n paar ure wat sy moes verwyl voordat sy haar vlug huistoe kon haal, het sy die lughawe geriefwinkel deursoek vir ‘n geskikte boek om te lees en sommer vir haar ‘n pak koekies gekoop om aan te peusel terwyl sy wag.
Sy het haar tuis gemaak op een van die meer gemaklike banke in die lughawe sitkamer.

Sy was baie verdiep in haar boek wat sy gelees het, maar kon nie help om op te merk dat die man wat langs haar sit ewe braaf ‘n koekie of twee uit die sak neem wat hier langs haar staan op die bank. Sy maak maar of sy dit nie gesien het nie want sy wil nou nie ‘n hele bohaai daarvan maak nie.

Dus kou sy maar lustig voort aan die koekies en hou die horlosie dop terwyl die voorbarige koekie dief haar voorraad koekies verorber. Dit was nou behoorlik ‘n geval van hoe later hoe kwater en sy het meer geirriteer geraak hoe langer die minute verby tik. Sy dink by haarself, “As ek darem nie so nice was nie, sou ek hom nou ‘n blou oog gepot het!”

Met elke koekie wat sy neem, vat hy ook ‘n koekie. Toe daar slegs een koekie in die pak oor is, wonder sy by haarself wat die man nou gaan doen. Met ‘n glimlag op sy gesig en ‘n effe senuweeagtige laggie neem hy die laaste koekie, breek dit in die helfte en offer haar die een helfte.
Terwyl hy sy helfte eet gryp sy die ander helfte uit sy hand uit en dink ...... ooooooh gee my krag. Die ou is regtig voorbarig en ongeskik en hy het haar nie eens bedank vir die koekies wat hy so lustig aan saam geëet het nie.

Sy weet nie wanneer lanklaas was sy so kwaad vir iemand gewees nie en dit is met ‘n sug van verligting toe sy hoor dat haar vlug se passasiers moes aanmeld. Sy raap gou al haar handbagasie bymekaar en loop haastig na die vertrek uitgang. Sy weier om terug te kyk na die voorbarige koekie dief.

Sy het haar gemaklik gemaak in die vliegtuig op haar aangewese sitplek en vinnig na haar boek begin soek wat feitlik klaar gelees was. Terwyl sy in haar drasak begin grou vir die boek, sien sy geskok haar pakkie koekies, onoopgemaak hier vlak voor haar oë.

“As my pak koekies hier is, dan beteken dit ..................” sy voel hoe die rooi gloed van skaamte oor haar gesig kruip “................dan beteken dit die ander pak was syne ......................... wat hy gedeel het met ‘n glimlag.”
Dit was te laat om jammer te sê – sy was die ongeskikte een, die ondankbare een, die koekie dief.

Tuesday, August 13, 2013

Inspirerende boodskap op Badkamerdeur.





‘n Inspirerende boodskap is Maandag op ‘n badkamermuur in ‘n damesbadkamer by ‘n universiteit in Amerika opgeplak.

Dis nie ongewoon om notas, graffiti en stories op ‘n badkamermuur te sien nie, en ‘n Reddit-gebruiker, chellylauren, het vertel dat van die dames in die universiteit soms glo tragiese verhale op die mure skryf. 

Iemand het die afgelope week op dié boodskappe reageer.

Die volledige teks van die boodskap volg:

Aan die meisie wat verkrag is: Jy is so sterk. Ek kan my nie indink deur hoeveel pyn jy moes gaan nie. Die feit dat jy braaf genoeg was om daaroor te skryf (al is dit op ‘n badkamermuur), gee my hoop.

Aan die meisie met die eetversteuring: Glo my, al ken ek jou nie, is jy pragtig, jy verdien jou gesondheid. Jy verdien verlossing uit daardie hel.

Aan die meisie met die alkoholis-pa: Ek is so jammer vir die lyding wat dit veroorsaak. Weereens is sulke dapperheid merkwaardig. Jy moet ‘n sterk persoon wees om sulke pyn te sien.

Aan die meisie wie se pa dood is: Die verlange gaan nooit weg nie. Die seer van hul afwesigheid gaan nooit weg nie. Maar die liefde wat hulle ervaar het, die herinneringe wat julle deel sal verseker voortduur. Ek is uit die diepte van my hart oortuig dat diegene wat jou in dié wêreld verlaat het, uitsonderlik trots is op wie jy is.

Elke keer wat ek hierdie mure sien, hierdie belydenisse lees, voel ek so geseënd dat ek die voorreg het om dit te sien. Julle oomblikke, hierdie geheime, is alles kosbaar, al is dit soms so hartseer.
Aan almal van julle (insluitend diegene wie ek nie genoem het nie, en diegene wat nog nie geskryf het nie)
- Jy is waardig.
- Jy is sterk.
- Jy is dapper.
- Jy is geliefd
- Iemand gee om.