Tuesday, July 5, 2011

Totsiens Soen


Die komitee vergadering loop ten einde. Gideon is besig om op te staan en stamp per ongeluk die tafel, sy koffie beker val om en die koffie beland op al sy notas. “Watter verleentheid. Ek is besig om baie lomp te raak op my ouderdom.” merk Gideon op.

Almal het lekker gelag vir Gideon se opmerking en gou het ons almal stories begin te vertel van ons grootste verleentheid. Eindelik kom hul by Frans, wat stil gesit en na die ander se stories geluister het. “Kom Frans,” sê een, “Kom vertel ons jou grootste verleentheid.”

Frans lag en begin te vertel van sy kinderdae. “Ek het groot geword in Velddrif. My vader was ’n visserman en hy was ontsettend lief vir die see. Hy het sy eie boot gehad, maar dit was ’n harde lewe om te oorleef uit die see. Hy het hard gewerk en sou tot laat uitbly op die see totdat hy genoeg gevang het om die hele familie te voed. Nie net genoeg vir ons familie nie, maar ook vir sy moeder en vader en die ander kinders wat nog in die huis was.”

Hy kyk na ons en sê, “Ek wens julle kon my Pa ontmoet. Hy was ’n groot man en ontsettend sterk van nette trek en veg met die see vir sy vangs. Wanneer jy naby hom kom het hy soos die see geruik. Hy sou sy ou oorpak dra met die reën oorjas en die rubber voorskoot. Sy reën hoed het hy laag oor sy oë getrek. Dit maak nie saak hoeveel keer my moeder sy klere sou was nie, hulle sou steeds na vis en reën ruik.”

Frans se stem raak bietjie dieper. “ Wanneer dit slegte weer was, sou hy my skool toe karwei. Hy het ’n ou bakkie gehad wat hy ook vir die vis besigheid gebruik het. Die bakkie was nog ouer as wat my pa was. Dit het gerammel en geraas wanneer hy met dit in die pad afry. Jy sou sy bakkie al ’n paar straatblokke vêr hoor aankom. Soos wat hy nader aan die skool gekom het, het ek al laer in die sitplek afgesak en gehoop ek verdwyn sommer. Die helfte van die tyd het die bakkie met ’n ruk tot stilstand gekom voor die skool en ’n bol rook uitgeblaas met ’n harde knel. Hy sou reg voor die skool se hoofingang aan stop en dit het altyd gelyk of die hele skool daar staan en die petalje gade slaan. Dan sou hy oorleun en my ’n soen op die wag gee en sê dat ek moet soet wees. Dit was so ’n verleentheid vir my. Hier was ek, ’n jong mannetjie van twaalf jaar oud en my Pa wat oorleun en my ’n totsiens soen gee!”

Frans huiwer vir so ’n oomblik en gaan aan, “Ek onthou die dag toe ek besluit het dat ek te oud is vir ’n totsiens soen. Toe ons by die skool aankom en die bakkie tot stilstand kom het my Pa sy gewone breë glimlag gehad. Hy het begin oorleun na my maar ek het my hand opgesteek en sê, Nee, Pa.”

Dit was die eerste keer dat ek op so ’n manier met hom gepraat het en hy het ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig gehad.

Ek sê, “Pa, ek is te oud vir ’n totsiens soen. Ek is te oud vir enige tipe soen.”

My pa het na my gekyk vir seker die langste oomblik wat ek kan onthou en daar het trane in sy oë opgewel. Ek het hom nog nooit voorheen sien huil nie. Hy het teruggesit en deur die windskerm gestaar. “Jy is reg,” het hy gesê. “Jy is ’n groot seun ........ ’n man. Ek sal jou nie weer soen nie.”

Frans het ’n snaakse uitdrukking op sy gesig en die trane begin opwel in sy oë terwyl hy verder praat. “Dit was nie lank daarna dat my Pa see toe is en nie weer teruggekom het nie. Dit was ’n dag waarop die meeste van die vissers vloot tuis gebly het, maar nie Pa nie. Hy het ’n groot gesin gehad om te versorg.
Hulle het sy boot gevind terwyl dit op die oop see dryf met die nette half in, half uit. Hy moes in ’n storm beland het en het probeer om die nette en die boeie te red.”

Ek het na Frans gekyk en opgemerk dat die trane vrylik oor sy wange vloei. Frans begin weer praat. “Kerêls, julle weet nie wat ek alles sal prysgee net om my Pa hier by my te hê om my net nog een soen op die wang te gee nie ........om sy harde ou gesig teen my wang te voel ............. om die see aan hom te ruik .............om sy arm om my nek te voel. Ek wens ek was daardie tyd ’n man. Indien ek ’n man was, sou ek nooit vir my Pa gesê het dat ek te oud is vir ’n totsiens soen nie.”

No comments: