Tuesday, December 7, 2010

Waar Niemand jou Kan Sien nie.


Lank gelede was opvoeding en geloof so hand aan hand dat baie van die leermeesters was hoogs gelowige manne gewees.
So ’n leermeester was teenwoordig in die klein dorpie, hy was wel bekend aan al die inwoners en baie geliefd.

Hy het vier studente gehad, maar dit het gelyk of hy meer trots was op die een student in die besonder. Sy ander drie studente het dit agtergekom en het op ’n dag besluit om die ou leermeester oor die voortrekkery te konfronteer.

Die ou leermeester was besonder wys en besluit dat hy aan hulle ’n toets sal gee sodat hulle hul eie antwoord op hul vraag te wete kan kom. Hy roep al vier die studente en gee aan elkeen ’n hoender. Hy deel hulle mee dat hy wil hê hulle moet elkeen sy hoender neem na ’n plek waar niemand hulle sal kan sien nie, die hoender doodmaak, dit versteek en terugkeer na die skool.

Al vier neem hul hoender en vertrek haastig in verskillende rigtings. Dit het nie lank geneem vir die drie studente, wat die leermeester gevra het oor die voortrekkery, om terug te keer na die skool nie.
Soos wat die dag besig was om uit te loop het die drie studente die spot begin dryf met die vierde student omdat hy nog nie terug is van die eenvoudige taak wat hulle opgelê is nie. Hulle het hom as ’n dwaas gereken omdat hy nie eens so ’n eenvoudige taak kon uitvoer nie.

Teen ongeveer middernag keer die vierde student eers terug na die skool, met die hoender steeds in sy arms. Die ander drie studente bars uit van die lag en vra aan die leermeester hoe is dit moontlik dat die student wat nie sy taak kon uitvoer sy gunsteling student kan wees?

Die ou leermeester draai om na die vierde student en vra, “verduidelik aan ons hoekom jy steeds met jou hoender in jou arms rondloop.”
Hy antwoord............ “vergewe my leermeester, maar ek kon nie ’n plek vind om te doen wat u my beveel het nie, want oraloor waar ek gegaan het daar was YaHWeH teenwoordig en het Sy alsiende oë my dopgehou!”

Die ou leermeester draai na die drie studente, glimlag en stap weg om te gaan slaap.

No comments: