Tuesday, November 9, 2010

Die Drie Poppe


Die wyse man het drie poppe aan die prins gegee as ’n geskenk. Die prins was nie beïndruk deur dié geskenk nie.
“Is ek miskien ’n meisie dat jy vir my drie poppe gee?” vra hy.

“Dit is ’n geskenk vir ’n toekomstige koning,” sê die wyse man. “Indien jy die poppe van naderby bekyk sal jy sien dat elke pop ’n gaatjie in hul oor het.”

“En wat daarvan?”

Die wyse man oorhandig aan hom ’n stukkie tou.

“Druk dit in die gaatjie by die oor van elke pop,” sê hy.

Geamuseerd, tel die prins die eerste pop op en druk die toutjie by die pop sê oor in. Dit kom toe by die ander oor uit.

“Dit is een tipe persoon,” sê die wyse man. “Wat jy ook al vir hom vertel of sê kom by die ander oor uit sonder dat hy enigsins ag slaan op dit wat jy hom vertel.”

Die prins tel die tweede pop op en ryg die toutjie by die pop sê oor in. Die toutjie kom toe by die pop se mond uit.
“Dit is die tweede tipe persoon, sê die wyse man. “Wat jy hom ook al vertel, gaan vertel hy net so oor aan ander.”

Die prins tel die derde pop op en herhaal die proses. Die toutjie kom nêrens te voorskyn nie.
“Dit is die derde tipe persoon,” sê die wyse man.” Wat jy hom ook al vertel sluit hy binne homself op. Dit kom nooit weer te voorskyn”

“Wat is die beste tipe persoon?” vra die prins.

In plaas van ’n antwoord oorhandig die wyse man aan die prins ’n vierde pop.
Toe die prins die toutjie by die oor inryg kom dit by die ander oor uit. “Doen dit weer.” beveel die wyse man.
Die prins herhaal die proses. Die keer kom die toutjie by die mond uit.
Toe hy die toutjie die derde keer inryg, kom dit glad nie uit nie.

“Dit is die beste tipe persoon,” sê die wyse man. “Om betroubaar te wees moet ’n man weet wanneer om nie te luister nie, wanneer om stil te bly en wanneer om wel te praat.”

No comments: