Monday, February 23, 2009
Die Gat in die Muur
Lank gelede in ’n baie vêr land en soos wat geeneen van julle nog gesien het nie, het daar ’n baie wyse man gebly met die naam van Shaddai. Shaddai was ’n groot man met ’n baie sagte hart wat gevul was met liefde en barmhartigheid. Hy het helder blou oë gehad en lang, dik baard. Wanneer hy gelag het, iets wat Hy gereeld gedoen het, sou sy wange oplig totdat Sy oë sulke pragtige half maantjies word van pure vreugde.
Wanneer Hy gesing het, wat ook iets is wat Hy gereeld gedoen het, het alles gestop om daarna te luister. Lang bome sou buig om te hoor. Eekhorings, vlinders en voëls sal stop waarmee hulle besig is. Selfs die kinders sou omdraai wanneer hulle Sy stem hoor. Tereg ook so want dit was vir hulle vir wie Hy gesing het.
Vir Sy kinders het Hy ’n wonderlike dorpie gebou. Dit was meer as waarvan enige kind kon droom. Die kinders het geplas en gespeel in die lieflike poel wat gevoed word deur die skoonste fontein. Hulle het gegil van plesier soos hulle hoog swaai op die hoë swaaie wat vasgemaak is aan die dik takke van die reuse appelbome. Hulle hardloop en speel deur die gras bedekte vlaktes en deur die vrugte gevulde boorde. Dit het nooit gevoel of die son te vroeg ondergaan nie en die aandskemering het altyd vertroos. En bowenal, Shaddai was altyd naby.
Wanneer Shaddai nie saam met Sy kinders in die grasvlakte of die vrugte boorde was nie, was Hy in Sy werkswinkel – met die kinders. Hulle het baie gehou van die reuk van vars saagsels, om Hom te hoor sing en te kyk terwyl Hy ’n stoel kerf uit ’n hout stomp of ’n tafel maak uit ’n boom. Hulle sal om Hom versamel en beurte maak om hulle klein handjies plat teen Sy groot hand te plaas.
Elke aand het Hy al die kinders versamel op die lowerryke gras en aan hulle stories vertel en hulle geleer. Vasgenael, sou die kinders luister solank Shaddai sou vertel of hulle oë kon oopbly.
Die kinders was ontsettend lief vir Shaddai en Shaddai was net so ontsettend lief vir sy kinders. Wanneer hulle Hom by Sy naam geroep het, het Hy alles net so gelos en na die een gegaan wat Hom geroep het. Sy hart het ’n duisend stringe gehad – elke een vasgehou deur ’n ander kind.
Dis hoekom Hy die muur gebou het.
Die muur was ’n klipmuur wat reg rondom die hele dorpie gestrek het. Met groot sorg het Shaddai al die rotse van die muur op mekaar gestapel. Die basis van die muur was dikker as twee van Sy tree. Die muur was baie hoër as Shaddai, selfs hoër as Hy sou staan met sy arms in die lug. Hy het dae spandeer om die muur te bou. Terwyl Hy bou aan die muur het Hy glad nie gesing nie. ’n Dodelike wildernis het aan die buitewyke van die dorpie gelê. Terwyl Shaddai die muur gebou het, het Hy ’n paar keer gestop en sou stip staar in die skaduwees van die wildernis. Wrede dorings, verskeurende ongediertes en verborge lokvalle het die donker wou gevul. Dit was geen plek vir kinders met ’n sagte velletjie nie. ’n Verseker dood wag vir die een wat dit waag om die woud te betree.
“Anderkant die mure is daar geen lewe nie,” het Shaddai Sy kinders ernstig vermaan.
“Julle is gemaak vir My dorpie, nie vir die verskriklike woud wat anderkant die mure lê nie. Bly by my. Dit is veilig hier.” Maar in Sy hart het Hy geweet dis net ’n kwessie van tyd.
Die dag toe Hy die laaste klip gebou het van die muur, het Hy terug gekeer na Sy werkswinkel. Hy het ’n lang tak geneem en daarvan ’n staf vir Hom uitgekerf en dit in die hoek van die werkswinkel geplaas. Hy sou reg wees.
Eendag hardloop daar in Shaddai se werkswinkel in. Die seun met die roesbruin hare, soekende oë en rustelose energie het aan die Skepper vreugde en bekommernis besorg.
“Shaddai!”
In een beweging het Shaddai Sy hamer neergesit en omgedraai. “Wat is dit Filippi?”
Die seun praat stotterend soos hy snak na asem. “Die muur .... ek het ’n ....... opening gevind. Dit is groot opening Meester.” Die seun strek sy arms uit om te beduie hoe groot die opening is. “Iemand kan deur die gat kruip.”
Shaddai trek ’n stoel nader en sit. “Ek het geweet dit sal jy wees Filippi, my kind. Vertel my hoe het jy op die gat afgekom?”
“Ek het met die muur langs geloop op soek na ----“
“Gate?”
Filippi verpoos ’n oomblik, verbaas dat Shaddai weet waarna hy opsoek was. “Ja, ek was op soek na gate.”
“Sodat jy kon uitkyk in die woud in?”
“Ek was nuuskierig, Shaddai. Ek wou graag weet wat is so verskriklik daar in die woud dat Jy ons nie wou toelaat om soontoe te gaan nie.”
“Shaddai beduie vir die seun om nader te kom. Toe hy naby is, plaas die Skepper Sy hande om Filippi se klein gesiggie en lig sy kyk dat hy direk in Shaddai se oë kan kyk. Die dringendheid van Sy kyk maak dat Filippi skoon ‘’n hol kol op sy maag kry.
“Filippi, luister na my. Die gebied aan die anderkant van die muur is nie vir jou nie. Hulle is ook nie vir My nie. ’n Reis in die wildernis in sal versekere dood beteken. Jy was nie gemaak vir daardie gebiede nie. Laat jou voete jou dra na al die plekke waarheen jy mag gaan --- maar nie na die een plek waarheen jy nie mag gaan nie. As jy hierdie plek verlaat, sal jy nie jou pad terugvind nie.”
“Filippi spreek saggies. “Sal U dan die gat regmaak?”
“Nee, Filippi, ek het die gat self geskep.”
“U het die muur gebreek? Maar U het sopas gesê U wil nie hê dat ons die plek moet verlaat nie.”
“Dis heeltemal reg, Ek wil nie hê dat julle die plek verlaat nie. Maar ek het die opening daar gelos toe ek die muur gebou het.”
“Maar as U dit nie regmaak nie----“
“---sal die kinders My dalk verlaat. Ek weet, Filippi. Maar solank as wat die kinders hier moet bly, is hulle nie werklik hier nie.”
Filippi het nie verstaan nie, maar hy wou nie nog verdere vrae vra nie. Ongemaklik, draai hy om om te loop. Toe hy uitstap in die sonlig in, kyk hy terug in die werkswinkel in. Daar het Shaddai steeds gesit, vooroor geleun, steeds met Sy oë vasgenael op Filippi.
Filippi was verward. Deel van hom het verlang na die veiligheid van Shaddai se werkswinkel, terwyl ’n ander gedeelte hom gelok het na die opening in die muur. Hy kyk weer haastig in werkswinkel. Shaddai het nou gestaan – bewegingloos met Sy grote arms uitgestrek na die seun.
Filippi draai vinnig om so asof hy dit nie gesien het nie. Hy stap so vinnig hy kan, eers doelloos maar baie gou vasberade na die muur.
“Ek sal nie te naby gaan nie.” sê hy aan homself. “Ek sal net uit loer.”
Vrae ontstaan so vinnig soos sy tree. Wat is die aantrekking wat ek voel .... die nuuskierigheid? Hoekom sal Shaddai vir my sê om ’n behoefte wat so sterk is te ignoreer? Is die verlange om anderkant die muur te sien dan so verkeerd?
Teen die tyd was hy alreeds by die gat in die muur. Sonder om te stop en te heroorweeg gaan lê hy op sy maag en seil deur die opening. Net vêr genoeg sodat sy kop kan uitsteek aan die anderkant van die muur.
“Hoekom sal ’n reis na die wildernis die dood meebring?” Vra Filippi homself terwyl hy na die verbode woud staar. “Wat is dit wat Shaddai my van beskerm of .... nie wil hê ek moet sien nie?”
So asof sy knieë vanself beweeg kruip Filippi verder. Gou is sy hele lyf deur die gat in die muur en hy staan stadig op. Vir ’n paar oomblikke het hy glad nie beweeg nie. Hy wonder of daar iets vanuit die woud sal afstorm op hom om hom te beseer. Niks het uitgekom nie. Hy ontspan bietjie en slaak ’n sug van verligting. “Dis glad nie so sleg nie” sê hy hardop om net die stilte te verbreek. “Dis baie lekker hier buite. Waaroor was Shaddai so bekommerd oor?”
Na ’n paar treë stop hy. Hy hou van die wildernis. “Niks om voor bang te wees hier nie.” Vir die eerste keer in sy lewe het hy gevoel dat Shaddai verkeerd was. “Wag net totdat ek die ander klomp hiervan vertel.” Hy draai om om terug te keer na die gat in die muur.
Maar die gat was weg!
Hy gaan staan en staar na die muur. Al wat hy kan sien is ’n soliede muur. Filippi hardloop na die muur en stop op die presiese plek waar hy deurgekom het. Hy weet dit was die plek. Maar daar was geen gat nie en ook geen teken dat daar ooit ’n gat was nie. Hy hardloop ’n paar treë langs die een kant van die muur af en toe weer ’n paar treë langs die anderkant van die uur af. Niks
Skielik hoor hy ’n vreemde geluid vanuit die woud agter hom. Hy swaai om maar sien niks nie. Filippi kyk in die woud in. Nou lyk die woud glad nie meer so aanloklik en vriendelik nie. Dit was donker en lyk wreed, asof dit hom enige oomblik wil verslind.
Desperaat deursoek Filippi die muur. Dit was te hoog om oor te klim, te dik om deur te grou. Daar was geen weg terug huis toe nie.
“As jy hierdie plek verlaat, sal jy nie jou pad terugvind.” Weerklink Shaddai se woorde in sy gedagtes
Die seun se oë was wyd gesper van vrees. Hy het op die grond gaan sit en sy knieë teen sy bors vasgetrek en bitterlik begin te huil.
“Shaddai, Shaddai! Ek is so jammer. Asseblief kom help my.”
Filippi se hulpkreet is gehoor voordat hy dit nog kon uiter. Want toe hy Shaddai se werkswinkel verlaat het, het die Skepper hom dopgehou solank Hy kon. Toe die seun buite sig was, het Shaddai omgedraai, maar nie om aan te gaan met Sy werk nie maar om Sy werks voorskoot af te haal. Hy het Sy gereedskap gebêre en toe gereik na Sy staf in die hoek, wat Hy gekerf het net nadat Hy klaar was met die muur.
Nog voordat Filippi die muur bereik het, het Shaddai reeds Sy werkswinkel verlaat. Nog voordat Filippi kon roep om hulp was Shaddai op pad om dit te gee. Nog voordat die gat in die muur toegegaan het, het Shaddai reeds ’n ander opening in die muur gemaak. Sy strek hande het gou die klippe weggeneem totdat Hy in die woud in kon sien.
Met Sy staf langs Hom het Shaddai deur die gat in die muur gekruip. Hy het die dorpie verlaat wat Hy gemaak het en die land ingegaan waarvoor Hy nie gemaak was nie om te gaan soek na Sy verlore kind.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment