Thursday, October 30, 2008

Die Lampie in die Winkel Venster


Eensaam en verlate het die pragtige olie lampie in die winkel venster gestaan. Elke aand het hy gesien hoe die mense verby die winkel venster loop met hulle olie lampies in hulle hand om vir hulle die pad te verlig na hul huise. Dit was lampie se groot begeerte, om so lig te maak vir sy eienaar.

Eensaam lampie was glad nie lelik nie, inteendeel was hy ‘n pragtige lampie. Sy maker het die lamp glasie pragtig versier met die mooiste patrone op wat lieflike patrone teen die mure van die huis kon weerkaats. Sy olie houertjie was van egte koper en was blink gepoleer sodat wanneer die son daarop skyn het dit eintlik die mense se oë verblind wat na lampie gekyk het.

Maar helaas, al lampie se prag en praal het niks gebaat tensy daar ‘n vlammetjie brand binne die lamp glasie om die lieflike beelde oral heen te laat uitstraal nie.

Eensaam lampie was nie ‘n goedkoop lampie nie maar afgesien van sy prys was hy nie ‘n groot lamp nie en dit het gemaak dat daar nie veel belangstelling in hom was nie.
Klein Claudette het vir lampie die eerste keer gesien toe die winkelier hom in die venster uitstal en sy het dadelik verlief geraak op lampie, hy het vir haar ‘n besonderse bekoring ingehou. Claudette hulle was baie arm gewees en haar ouers sou nooit die lampie vir haar kon koop nie. Maar sy het haar voorgeneem dat sy nog eendag vir lampie sal besit.

Sy het in die middae na al haar huis werkies afgehandel was na die gegoede deel van die stad gegaan en daar vir die ryk mense in hul huise gewerk om al die koper en silwer eetgerei en beeldjies blink te poleer. Op die manier kon sy geldjies bymekaar maak om haar ouers te help en ‘n klein bietjie opsy te sit om vir lampie te koop. Dit was baie harde werk en wanneer Claudette in die middae huistoe stap en sy moeg en moedeloos voel het sy net by die winkel venster verby geloop en sommer weer moed geskep as sy vir lampie nog in die venster sien staan. Elke keer het die winkelier opgekyk wanneer Claudette by die venster staan en vir lampie bewonder en dan vir haar geglimlag.

Dit was asof lampie net vir haar gewag het om hom te kom koop. Na ‘n jaar se harde werk en spaar het Claudette uiteindelik genoeg geld bymekaar gehad om vir lampie te gaan koop. Sy kon nie wag om al haar werkies af te handel sodat sy na die winkel toe kon gaan om vir lampie te koop nie.

By die winkel gekom, loer sy vinnig weer in die venster om te sien of lampie nog daar is en in ‘n oomblik voel dit vir haar of haar hart gaan staan want lampie is nie meer in die venster nie.
Met trane vlak in haar oë hardloop sy die winkel binne en vra aan die winkelier waar die lampie is.
Die winkelier kyk haar stip aan terwyl daar ‘n ondeunde vonkel in sy oe is en sê, “My pa, die eienaar van die winkel, het gesê ek moet die lampie uit die venster haal want hy het hom nodig vir iets, maar vra hom maar self, hy sit daar by die tafeltjie agter in die stoor.”

Dit voel vir Claudette of haar hart aan duisend stukke geskeur is – was al die harde werk en spaar dan tevergeefs gewees?
Toe sy agter by die winkelier se vader kom kon sy die trane nie meer keer nie en hulle het vrylik oor haar wange geloop.
Die eienaar vra toe, “Kan ek vir jou help, Claudette?”
Claudette skrik eers en dink by haarself, hoe ken die oom my naam?
Met ‘n bewende stemmetjie stamel sy, “Die oom het gesê ek moet vir oom kom vra oor die lampie wat in die venster was. Ek wil so graag die lampie koop want ek spaar nou al ‘n hele jaar lank om genoeg geld bymekaar te kry om die lampie te kan koop.”

Die eienaar vra toe, “Hoekom wil sy so graag die lampie hê, daar is tog baie ander groter en goedkoper lampe wat jy kan koop?”

Claudette antwoord, “Die lampie is spesiaal, van die eerste dag wat ek dit gesien het was ek verlief daarop. Die etswerk op die glasie en die graveerwerk op die olie houertjie is die mooiste wat ek nog gesien het. Vir ander mense is dit seker nie veel nie maar vir my is dit soos ‘n kosbare skat wat ek nie kan wag om in die hande te kry nie. Dit sal my kamertjie so pragtig verlig en wanneer ek in die donker moet wandel sal dit genoeg lig gee sodat ek nie dalk struikel en val nie.”

Die eienaar staan op en stap na ‘n rak teen die stoorkamer se muur en haal ‘n pakkie af wat toegedraai is in die mooiste papier wat Claudette nog ooit gesien het. Hy sit die pakkie voor haar op die tafel neer en sê, “Dit is spesiaal vir jou.”

Claudette sê, “Baie dankie oom, maar die lampie…. kan ons nie eers gesels oor die lampie nie.”

Die eienaar sê vir haar, “Maak eers die pakkie oop dan gesels ons verder oor die lampie.” Met bewende vingertjies maak Claudette die pakkie vinnig oop en binne is haar lampie. Al wat sy kan uiter is, “Maar oom ….. wat …. hoe …. hoeveel moet ek nou betaal vir die lampie?”

Die eienaar antwoord, “Nee my kind, dis ‘n geskenk van my en my seun. Ons het elke dag gesien hoe jy na die lampie kom kyk en ek het ook gehoor by van die dorpsmense hoe hard jy werk om die lampie te kan koop. Ek en my seun het besluit dat as jy so hard werk vir so ‘n klein lampie, sal jy dit baie goed oppas en mooi daarna kan kyk.

Omdat dit so besonderse lampie is het ons gevoel om nie die lampie te verkoop nie maar aan iemand te skenk sodat die persoon dit kan oppas en versorg namens die winkel. Die lampie is joune maar is ook ‘n advertensie vir die winkel en jy moet vir almal vertel dat die lampie ‘n getuie is van die winkel. Verder moet jy gereeld hier verbykom sodat ons die olie van die lampie kan aanvul want die lampie moet altyd kan skyn in die donker.”

Claudette was oorstelp van vreugde en sy kon nie genoeg vir die mense vertel van haar wonderlike lampie nie. Met die lig van haar lampie het sy vir baie ander mense lig gemaak wanneer die paadjie bietjie duister was om te bewandel en elke keer het sy vertel van die wonderlike winkel en die vader en sy seun wat aan haar die lampie geskenk het.

Psalm 18:28 Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar.
Psalm 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
Spreuke 6:23 Want die gebod is ‘n lamp en die onderwysing ‘n lig en die teregwysinge van die tug ‘n weg tot die lewe,
Spreuke 13:9 Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood.

No comments: