Tuesday, June 29, 2010
Nuut Versus Oud
Teen die tyd weet almal seker al hoe ek voel oor die Sabbat en die Heilige Feesdae van Vader. Die Sabbat is vir my ’n dag van heerlike rus en ek is so bevoorreg dat Hy die dag spesiaal vir ons gemaak het.
Die Heilige feesdae is soos ’n oase in die woestyn van die lewe. Met elke feesdag is daar opnuut ’n boodskap van redding en belofte.
Maar saam met die vreugde en heerlikheid van die dae is daar ook die hartseer van die verwerping omdat mens graag wil doen wat Vader vir ons voorskryf in Sy Woord.
Gaan kyk so bietjie self hoeveel weerstand is daar wanneer jy die Sabbat vier op die Saterdag soos dit veronderstel is om te wees. Of verwerp Kersfees en Paasfees omdat dit afgods verering is, dan moet jy sien hoe word jy uitgewerp in die ‘buitenste duisternis’ deur vriende en familie.
Maar daar is ’n klein geheimpie wat elkeen moet weet – die verwerping is nie in die ‘buitenste duisternis’ nie maar binne die arms van my Geliefde Koning Yahshua wat my vasdruk teen Sy bors en my vertroos.
Mense dink baie keer dis iets heel nuuts om te leer oor die Sabbat, die feesdae, kersfees en paasfees maar die week terwyl ek so bietjie loer op een van die forums kom ek af op wat een persoon gesê het en dit was absoluut treffend.
“Terloops ... die leerskool van God gaan nie oor nuwe dinge aanleer nie, maar gaan meer oor dinge AFLEER ... die dag toe ek DIT gesnap het, het oorweldigende dinge skielik verstaanbaar geword!”
Hoeveel waarheid is daar nie opgesluit in die stelling nie. Die Israeliete het rondgeswerf in die woestyn nie om nuwe dinge aan te leer nie maar die afgods gewoontes af te leer en terug te keer na die ou weë van die vaders, om die wil van Vader weer te leer ken.
Die Sondag aanbidding was nie van die begin af daar nie, daar is die Sabbat onderhouding wat vir ons in die tiende gebooie reeds beskryf word. Kersfees was ’n instelling wat glad nie in die vroeë gemeentes onderhou is nie. Paasfees is ingestel om die Pasga van Vader te vervang en Astarte te vereer.
Dit het tyd geword dat ons die heidense gewoontes moet AFLEER en terugkeer na wat Vader vir ons in Sy Woord beskryf.
Moet nie jou laat mislei deur die vals leringe van predikante en leuenaars nie, gaan terug na die Woord van Vader dat Hy self jou kan onderrig deur die Heilige Gees.
Dit is nie ‘rocket science’ nie dis net ’n kwessie van glo.
Opregte kinderlike geloof.
Thursday, June 24, 2010
Die Getroue Waghond
Daar is ’n legende van die vrou wat ’n baie getroue hond gehad het. Die hond was so betroubaar dat die vrou haar jonge baba by die hond kon los terwyl sy uitgegaan het om aandag te skenk aan ander sake. Sy het elke keer teruggekeer na ’n baba wat vas aan die slaap is en die getroue hond wat die baba oppas soos ’n kosbare kleinood.
Maar eendag, het iets baie tragies gebeur.
Die vrou het soos gewoonlik die baba in die ‘versorging’ gelaat van die betroubare hond terwyl sy gou uitgegaan het om ’n paar noodsaaklike goedjies te gaan koop by die mark. Met haar terugkeer tref sy ’n ontstellende toneel aan. Die klein huisie was in totale chaos.
Die baba se wiegie was aan stukke gebreek. Sy kleurtjies en beddegoedjies aan flarde geskeur met bloedvlekke oral op die vloer en teen die muur van die vertrek waar sy die baba en die hond gelos het. Geskok, het die hartverskeurende vrou begin om na haar baba te soek.
Op daardie oomblik kom die getroue waghond uitgekruip onder die bed. Die hond was vol bloed gewees en het sy bek afgelek asof hy sopas ’n heerlike maaltyd geniet het. Die vrou, buite haarself van waansin, het aangeneem dat die hond haar baba verslind het. Sonder om veel daaraan te dink gryp sy ’n yster van die vuurherd en slaan die hond daarmee dood.
Maar terwyl sy besig is om te soek na enige ‘oorblyfsels’ van haar baba, ontdek sy ’n ander toneel.
Naby aan die bed, in die hoek van die vertrek, lê haar op die kaal vloer baba ongeskonde. Terwyl daar onder die bed die karkas van ’n wolf lê wat aan stukke geskeur is. Dit moes ’n verwoede geveg gewees het tussen die wolf en die hond, wat nou dood is.
Die realiteit van die situasie tref die vrou, wat nou eers begin te besef wat werklik plaasgevind het in haar afwesigheid. Die hond het geveg om die baba se lewe te beskerm teen die aanval van die verwoede wolf. Maar dit was nou te laat om spyt te wees oor haar ongeduld, woede en wantroue, haar getroue waghond was klaar dood.
Vraag: Hoe baie kere het ons nie al mense verkeerd geoordeel en hulle aan stukke geskeur met harde en ongenaakbare woorde voordat ons die situasie behoorlik geëvalueer het nie? Ons is so vinnig om afleidings te maak voordat ons oor al die feite beskik.
’n Klein bietjie geduld en seker maak kan drastiese lewenslange foute verminder.
Tuesday, June 22, 2010
Die 99 Klub
Eendag lank, lank gelede was daar ’n koning wat ten spyte van sy luukse lewenswyse nooit gelukkig of tevrede was nie.
Een dag kom die koning een van sy onderdane tee wat vrolik gesing het terwyl hy/sy werk verrig. Dit het die koning vreeslik gefassineer. Hoekom was hy, die opper heerser van die koninkryk so ongelukkig en mismoedig, terwyl die eenvoudige dienskneg soveel vreugde en geluk ervaar?
Die koning vra toe vir die dienskneg, “Hoekom is jy so vrolik?”
Die man antwoord, “U majesteit, ek is maar ‘’n eenvoudige dienskneg maar ek en my gesin het nie veel nodig nie – net ’n dak oor ons koppe, ’n lekker bed om in te slaap en lekker warm kos om ons magies mee te vul.”
Die koning was glad nie tevrede met die antwoord nie, want dit was te eenvoudig. Later die dag gaan soek hy die advies van sy betroubaarste adviseur.
Nadat hy die koning se klagte en betoog asook die dienskneg se antwoord op die koning se vraag aangehoor het, antwoord die adviseur hom, U majesteit, ek glo nie die dienskneg is al deel gemaak van die 99 Klub nie.”
“Die 99 Klub? en wat presies is dit?” vra die koning.
Die raadgewer antwoord, “U majesteit, om regtig die beginsel van die 99Klub te verstaan, plaas 99 goue munte in ’n sak en los dit op die drumpel van die dienskneg se huisie.”
Toe die dienskneg die sakkie sien, tel hy dit op en neem dit in die huis in. Toe hy die sakkie oopmaak, gil hy van opgewondenheid ..... so baie goue munte!
Hy begin toe die goue munte te tel. Nadat hy dit ’n hele paar keer oorgetel het, was hy oortuig dat daar net 99 goue munte in die sakkie is. Hy wonder toe by homself, “Wat kon gebeur het met daardie laaste goue munt? Sekerlik sal niemand 99 munte in ’n sak los nie, dit behoort afgerond te wees tot 100 munte.”
Hy het oral gesoek of die 1 munt nie dalk iewers uitgeval het nie, maar die 1 munt het hom bly ontwyk. Moeg en uitgeput van die soektog besluit hy dat hy net harder sal moet werk as ooit tevore om die 1 goue munt te kry sodat sy versameling volledig sal wees.
Van daardie dag af het die dienskneg se lewe verander. Hy was oorwerk, gedurig moeg, knorrig en het voortdurend met sy familie baklei omdat hulle hom nie help werk om die 100 ste goue munt te verdien nie.. Hy het heeltemal opgehou om te sing terwyl hy werk.
Die koning was totaal verbaas oor die transformasie wat die dienskneg ondergaan het, waarvan hy ’n getuie was. Hy nader toe weer sy getroue adviseur om aan hom te verklaar wat hier gebeur met die dienskneg. “U majesteit, die dienskneg het nou amptelik by die 99 Klub aangesluit.”
Hy gaan voort, “Die 99 Klub is ’n naam wat aan mense gegee word wat genoeg het om mee gelukkig te wees maar nooit tevrede is nie, want hulle soek en streef altyd na daardie 1 ekstra een terwyl hul hulself wysmaak: “Laat ek nog net daardie laaste ding in die hande kry, dan sal ek vir die res van my lewe gelukkig wees, maar na die laaste is daar nog ’n volgende en nog ’n volgende laaste.”
Ons kan baie gelukkig wees met bitter min in ons lewens, maar die oomblik wat aan ons iets groters en beters gegee word dan wil ons nog meer hê! Ons verloor slaap daaroor, ons geluk, ons maak mense rondom ons seer, alles ter wille van ons eie behoeftes en begeertes.
Is dit regtig die moeite werd om lid te word van Die 99 Klub ? ? ?
Is die prys wat ons betaal, die moeite werd ? ? ?
Tuesday, June 15, 2010
Die Drie Wedlope
Lank gelede was daar ’n jong atleet wat honger was na sukses, vir hom was die oorwinning alles gewees en hy het sy sukses gemeet aan sodanige resultaat.
Eendag was die jong atleet besig om hom voor te berei vir ’n wedloop in sy klein dorpie, teen twee ander jong atlete. ’n Groot skare het byeengekom vir die sport gebeurtenis in die dorp en daar was ’n wyse ou man wat ook gekom het om die wedloop te aanskou.
Die wedloop het begin, voor die wenstreep was die drie atlete nog redelik kop aan kop en was daar nie veel te kies tussen die drie nie, maar ons jong atleet het, het diep binne homself gereik en sy laaste deursettingsvermoë en krag gebruik ...... hy is eerste oor die wen streep. Die toeskouers was in ekstase en het die jong atleet toegejuig en vir hom gewaai. Die wyse ou man het eenkant stil en kalm gesit sonder enige uitdrukking van emosies. Die jong atleet, daarenteen, was baie trots en ingenome met homself. Hy was trots op sy oorwinning.
Daar is gevra vir ’n tweede wedloop en twee ander jong atlete wat ons jong atleet wou uitdaag het na vore gekom. Die wedloop is begin en weereens het ons jong atleet uitgeblink en is eerste oor die wenstreep. Die skare was weereens in ekstase oor die jong atleet se prestasie en het hom toegejuig. Steeds het die wyse ou man eenkant gesit sonder enige emosies wat toon. Die jong atleet was nog meer ingenome met sy tweede prestasie en het nou eers belangrik gevoel want in sy oë was daar niemand wat hom in ’n wedloop kan klop nie.
“Nog ’n wedloop, nog ’n wedloop!” het die jong atleet gepleit by die toeskouers, “Is daar nie nog iemand onder julle wat teen my wil hardloop nie?” Die wyse ou man staan op en stap na die jong atleet met twee nuwe uitdagers, ’n sieklike ou dame en ’n blinde man. “Wat is dit?” vra die jong atleet. “Dit is geen wedloop nie!” roep hy uit. “Hardloop!” sê die wyse ou man. Die wedloop is begin en die jong atleet was die enigste een wat die wedloop voltooi het, hy was reeds oor die wenstreep terwyl die ander twee uitdagers steeds by die wegspring streep gestaan het. Die jong atleet was in ekstase en het sy arms van vreugde in die lug gegooi. Maar die toeskouers, daarenteen, was stil gewees en het vreugde gehad oor die jong atleet se oorwinning nie.
“Wat het gebeur?” Hoekom deel die toeskouers nie in my sukses en oorwinning nie?” vra hy die wyse ou man. “Hardloop weer,” antwoord die wyse ou man, “ ......maar die keer sorg dat julle almal saam klaarmaak, al drie van julle moet saam oor die wenstreep gaan” sê die wyse ou man. Die jong atleet staan ’n bietjie en dink oor die saak, gaan staan tussen die twee uitdagers en neem die sieklike ou dame en die blinde man aan die hand. Die resies begin en die jong atleet loop baie stadig met die twee, een aan elke arm totdat hulle na ’n lang ruk die wenstreep oor is. Die skare was op hulle voete en juig vir die jong atleet. Die wyse ou man het geglimlag en instemmend sy kop geknik. Die jong atleet het baie trots en belangrik gevoel.
“Ou man, ek verstaan dit glad nie! Vir wie juig die toeskouers nou? Watter een van ons drie?” vra die jong atleet. Die wyse ou man kyk in die jong atleet se oë en plaas sy hand op sy skouer en antwoord saggies..... “Jong man, met hierdie resies het jy baie meer gewen as al die vorige wedlope waaraan jy deelgeneem het, want met die wedloop het die skare glad nie gejuig vir enige wenner nie of vir jou atletiese vermoë nie maar vir dit wat in jou hart is !”
Monday, June 7, 2010
Die Ystersmid
Daar was ’n ystersmid wat sy hart vir Yahshua gegee het. Alhoewel hy meer heilig gelewe het as voorheen was dit asof hy nie geseënd was nie. Inteendeel, vandag hy bekeer is, het dinge net al moeiliker geword, meer probleme en teëspoed, groter verliese en minder kliënte. Alles wat vir hom kon verkeerd loop het verkeerd gegaan.
Eendag stop daar ’n vriend by hom, wat nie ’n gelowige is nie en praat ’n wyle met hom. Terwyl hy met hom simpatiseer oor dit wat alles verkeerd loop, sê die vriend:
“Dit is vir my vreemd dat daar soveel teëspoed oor jou pad kom net toe jy besluit het om jou hart vir Yahshua te gee en jou te bekeer. Natuurlik, wil ek nie jou geloof in Yahweh afbreek of iets nie. Maar, hier is jy, deur die hulp en genade van God en tog lyk dit of dinge net al slegter met jou gaan. Ek kan nie help om te wonder hoekom dit so is nie.”
Die ystersmid het nie dadelik geantwoord nie en dit was duidelik dat hy oor dieselfde saak reeds moes gewonder het. Maar, uiteindelik sê hy:
“Sien jy die onverwerkte stuk yster wat ek moet verander in ’n perd se skoen. Weet jy wat ek moet doen daarmee? Ek neem ’n stuk yster en plaas dit in die vuur totdat dit rooiwarm is, amper wit van die hitte. Dan slaan ek dit genadeloos met die hamer in die vorm wat ek weet dit moet wees. Dan dompel ek die yster in ’n emmer koue water om dit te temper. Ek maak dit weer rooiwarm en kap dit nog meer met die hamer. Plaas dit weer in die water en so doen ek totdat die perde skoen klaar is.”
“Maar soms vind ek ’n stuk yster wat nie geskik is vir die behandeling nie. Die hitte en die gekap en die koue water is eenvoudig te veel vir die yster. Ek weet nie hoekom dit faal in die proses van smid’s werk nie, maar ek weet dat dit nooit ’n goeie perde skoen sal maak nie.”
Die ystersmid beduie na ’n hoop skroot yster wat naby die deur van die smidswinkel lê.
“Wanneer ek ’n stuk yster kry wat nie die hitte en temper kan deurstaan nie, gooi ek dit op die skroot hoop. Dit sal nooit goed genoeg wees vir enigiets nie.”
Hy gaan voort, “Ek weet dat Yahweh my in die vuur van beproewing hou en ek het Sy hamer voel kap op my. Maar ek geen nie om nie, net solank Hy my kan maak wat ek veronderstel is om te wees. En, te midde van al die swaar kry is my gebed net dit:”
“Vorm my en maak my net soos U wil Yahweh, laat my lei en swaar kry, maar moet my net nie op die skroot hoop gooi nie.”
Thursday, June 3, 2010
Die Veerpyltjie Toets
’n Jong dametjie met die naam van Sally kan nog soos gister onthou die ondervinding wat sy gehad het in een van haar Bybelkunde klasse deur haar onderwyser, Mnr. Smit.
Mnr. Smit was bekend vir sy vindingryke metodes om ’n klas aan te bied.
Een spesifieke somers oggend stap Sally in die Bybelkunde klas in en sy het onmiddellik geweet hierdie gaan weer een van daardie onvergeetlike dae wees.
Teen die muur was ’n groot afdruk van ’n veerpyltjie bord en op die tafel daar naby het ’n klomp veerpyltjies gelê.
Mnr. Smit het gevra dat hulle elkeen ’n skets moet maak van die persoon wat hulle die meeste verafsku of iemand wat hulle kwaad gemaak het en hy sal hulle toelaat om van die veerpyltjies na die persoon se skets te gooi.
Sally se vriendin het ’n skets geteken van die ander meisie wat haar kêrel gesteel het. ’n Ander vriend het ’n skets geteken van sy jonger boetie. Sally het ’n skets geteken van ’n voormalige vriend van haar. Sy het baie detail ingevoeg op die skets, selfs van die puisies op sy gesig. Sally was baie tevrede met haar skets en dit was nogal ’n goeie weergawe van die voormalige vriend.
Die klas het in ’n ry gestaan en hulle beurt afgewag om van die veerpyltjies na hul skets te gooi. Sommige studente was so meegevoer deur die hele ondervinding dat hulle van die veerpyltjies so hard gegooi het dat hulle sketse geskeur het. Sally kon nie meer wag op haar beurt om haar frustrasie op die skets van haar voormalige vriend uit te haal nie.
Sy was baie teleurgestel toe Mnr. Smit die gooiery stop en die studente vra om hul sitplekke weer in te neem omdat die tyd bestem vir die klas feitlik verstreke was.
Terwyl Sally sit en dink hoe kwaad sy is omdat sy nie ’n beurt kon kry om van die veerpyltjies na haar skets te gooi nie, begin Mnr. Smit die afdruk van die veerpyltjie bord van die muur af te haal.
Onder die afdruk van die veerpyltjie bord was ’n prentjie van Yahshua. ’n Grootse stilte het op die klas neergedaal soos wat elke student kon sien hoe verwronge die prentjie van Yahshua se gesig gelyk het. Daar was oral gate en skeure in die prentjie van Sy gesig en die oë was deurboor met die veerpyltjie gate.
Mnr. Smit het net die volgende woorde aangehaal ......... “vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”
Mat 25:40.
Geen verdere woorde was nodig terwyl studente met oë wat vol trane is steeds staar na die prentjie van Yahshua ons Messiah.
Tuesday, June 1, 2010
Twee Kommervrye Dae
Daar is twee dae in elke week waaroor ons, ons nie moet bekommer nie, twee dae wat vry gehou moet word van vrees en besorgdheid.
Een hiervan is Gister met al sy foute en bekommernisse, sy pyne en skete, sy wroeginge en tekortkominge.
Gister is verby en is glad nie meer binne ons beheer nie. Al die geld in die wêreld kan Gister nie weer terugbring nie.
Ons kan nie een enkele aksie wat ons Gister gedoen het ongedaan maak nie; ons kan nie ’n enkele woord uitvee wat ons geuiter het nie.
Gister is vir ewige verlore.
Die ander dag waaroor ons, ons nie moet bekommer nie is Môre, met al sy moontlike probleme en laste, sy belofte van grootheid wat hy mag inhou of sy swak prestasie wat dit mag oplewer.
Môre is buite ons onmiddellike beheer.
Môre se son sal opkom, hetsy in volle glorie of agter ’n wolke masker, maar dit sal opkom.
Totdat dit opkom het ons nog geen aandeel in Môre nie, want dit moet nog gebore word.
Dit los ons net met een dag, Vandag.
Enige persoon kan die geveg net voer vir een dag en dit is Vandag.
Dit is wanneer ons die laste van die twee ander entiteite, Gister en Môre, byvoeg wat maak dat ons gebroke en moedeloos raak.
Dit is nie die ondervinding van Vandag wat ’n persoon tot raserny dryf nie, dit is die spyt en jammerte van iets wat Gister gebeur het en die vrees van wat Môre mag bring.
Daarom moet ons leef vir Vandag en so leef asof elke dag ons laaste is sodat ons met blydskap verantwoording kan doen van ons aksies Vandag voor Vader Yahweh.
Subscribe to:
Posts (Atom)