Thursday, November 16, 2017

Hou Jou Wortels Sterk




Twee afgetredenes het langs mekaar ingetrek. Een van hulle was ‘n afgetrede onderwyser en die ander ‘n assuransie agent. Die afgetrede assuransie agent was vreeslik geintresseerd in tegnologie en het voortdurend gepoog om die nuutste tegnologiese inligting te gebruik in al sy projekte.

Beide van hulle het tuintjies aangelê en verskeie plante geplant in die beddings en akkers. Die afgetrede onderwyser het sy plantjies min water gegee en het nie altyd sy volle aandag net aan die plantjies toegewy nie. Die afgetrede assuransie agent daarinteen het al sy aandag aan sy plantjies gegee en het hulle dag en nag versorg. Hulle het baie water gekry en is gepamperlang met die nuutste plantvoedings en kunsmis beskikbaar.

Die afgetrede onderwyser se plante was die doodgewone plante wat in alledaagse tuine aangetref word, maar hulle was gesond en het goed gelyk. Die afgetrede assuransie agent se plante was ‘n verskeidenheid van die gewone tuin plante en ander eksotiese plante maar hul was oor die algemeen baie  voller en groener as die van die onderwyser.

Eendag was daar gedurende die nag ‘n geweldige storm met swaar reën en sterk winde. Die volgende oggend het beide bure uitgegaan om die skade te ondersoek in hul tuine. Die afgetrede assuransie agent het gesien dat sy plante omtrent almal met wortel en tak uit die grond geruk is deur die storm en totaal verwoes is. Maar die afgetrede onderwyser se plante het nog almal stewig gevestig gestaan in die grond en die skade aan die plante was minimaal.

Die assuransie agent was verbaas om te sien dat die onderwyser se plante relatief min skade opgedoen het en hy stap na hom toe en vra, “Ons altwee het soortgelyke plante saam aangeplant, ek het beslis my plante beter versorg as jy en hulle baie meer water gegee as wat jy jou plante gegee het. Steeds het my plante die slegste daarvan afgekom met die storm. Hoe is dit moontlik?”

Die afgetrede onderwyser glimlag en sê, “ Jy het jou plante baie meer aandag en water gegee, maar as gevolg daarvan het jou plante nie nodig gehad om te werk om self ekstra water in die hande te kry nie. Jy het dit maklik gemaak vir die plante, terwyl ek my plante net genoeg water gegee het om aan die lewe te bly en toegelaat dat hul wortels self soek na ekstra water. As gevolg daarvan het hul wortels sterker geword en dieper gegaan op soek na water. Dis hoekom my plante die storm oorleef het.

Die verhaal het ook sy toepassing in ons daaglikse lewe en ouerskap waar ons kinders soos die plante is. As alles net aan hulle gegee word sal hulle nooit verstaan die harde werk wat dit geverg het om al die dinge vir hulle te bekom nie. Hulle sal nie leer om self te werk vir dit wat hulle benodig in die lewe en om dit te respekteer nie. Soms is dit beter om hulle te lei as net om vir hulle te gee.
Leer hulle om te loop, maar laat hulle toe om hul eie pad te volg.

No comments: