Friday, September 28, 2012

In My Hart...



Elke dag gaan ek my gaan.
Van moeilikhede raak ek gedaan.
Ek soek na blydskap diep binne my.
‘n Plek waar ek ‘n bietjie liefde kry
Maar ek weet U kyk deur my oë.
Sodat ek my pad
kan vind.
Na die Vader daar bo.
U is my lewensraam.

U laat my mooi lyk daar waar ek staan.
Daar gaan ek voort met my hart vol vreugde
Met my lewensverhaal.
Waarvan U is- die grootste gedeelte.

Ek raak weereens stil met my hart vol pyn.
En wanneer ek U vra, maak U my weer rein.
Ek gee my bietjie liefde aan U, liewe Heer.
U vergewe my net weer en weer.
So dankbaar is ek.
As my trane aflek.
Dat ek die smaak van sout-
as soet onthou.

Ek is baie klein.
Maar ook baie groot.
As ek dink aan die liefde vir U my
Pa.
Gee dit my ‘n hupstoot.
Ek is so lief vir U.
En U is so lief vir my.
Mag U vir ewig en altyd
In my hart bly.

Deur J. v Z.

Wednesday, September 19, 2012

Die kerkbasaar



 In ‘n oorvol parkeerruimte staan ‘n hoopvolle bedelaar en hy wonder of een of
 meer kerklidmaat sy behoefte sal gewaar. Ja, eenmaal 'n jaar kom ‘n gemeente
 kleurvol bymekaar en fyngebak en vleis produkte staan georden maar ook
 deurmekaar en in die ritme van die hoer se hoofslagaar daar klink in dreunsang
 satans’ stem as die afslaer terwyl hy ook as beskermheer gierig die kerk se beurs
 bewaar.

 En terwyl die gemeentelede so uitspattig op hul kerk se bierfees baljaar- roep
 daar krom ou weduwees: kyk die pannekoek is nou gaar en so staan ook die
 kerrie en rys kant en klaar- met die nagereg vanjaar werklikwaar so ongeëwenaar.
 En terwyl die hoof ouderling se maag van al die bier in die kleedkamer nie wil
 bedaar met die predikant wat broederlik troostend verklaar- "byt net vas ou broer
 en begin bedaar want vanaand kom ons weer vir die een of ander sangpaar
 bymekaar en as die seremoniemeester moet jy die erns van die fondsinsameling
 uitklaar".

 En terwyl die bedelaar met tanende hoop na die oorvol kostafels staar- luister hy
 na die gemeente se kinders wat luidrugtig en onbeheers op die springkasteel
 baljaar en hy wonder of het die duiwel ook nou in hulle ingevaar. So sien hy ook
 ‘n vrou met `n onnatuurlike- uitspattige haarkleur wat in haar onsamehangende
 woordespel teenoor haar vriendinne net nie wil of kan bedaar en eenkant staan
 haar man fronsend daar en hy bereken; teen ‘n bees ‘n jaar raak die kerkbasaar
 vir hom nou ‘n bietjie swaar. Maar ‘n gemeentelid-broer staan nader en dié is ‘n
 groot vrymesselaar en of dit nou die gholfbaan of kerkbasaar is, hy bly nou
 eenmaal ‘n makelaar en in sy winsbejag- daar wil hy nou eenmaal net nie bedaar
 en dit kos die boer op die einde van die dag meer as net ‘n bees ‘n jaar.

 En so staan daar in die oorvol parkeerruimte die eensame bedelaar en hy voel
 oor dit wat hy sien skielik onverklaarbaar naar en hy wens daar kom ‘n Man met
 `n sweep en Hy slaan die hele kerkbasaar heeltemal uitmekaar- sodat die duiwel
 tog net ‘n bietjie kan bedaar en ‘n engel kom wat die kosbare gebed van die
 rondloper na die hemel toe dra- met woorde wat lui: ek dank U O' God, ek is nie
 ‘n gesiene kerklidmaat maar net ‘n eenvoudige, ja, ‘n honger bedelaar.

Openbaring 1749
 Woensdag 5 September 2012 06:00
 
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer

Friday, September 14, 2012

Paar Konstantes



Te midde van vandag se lewe van tegnologiese vooruitgang en fenominale ontdekkings, is daar ‘n paar dinge wat hier was van die begin van tyd en sal bly voortbestaan tot aan die einde toe.

Vrede: Jy sal nie vrede vind in enige self-help boek of enige van die new age tydskrifte nie. Ons moet daarna streef met ons hele wese, dissipline aan die dag lê om te weet wat is ons beperkinge voordat die vrede in ons hart versteur word en die moed hê om te voorkom dat ander ons verby die perk dryf.

Liefde: Liefde is nie die gevoel of emosies waarmee so baie van ons assosieer nie. Liefde is die voortdurende toegewydheid wat ons beloof aan die sake of verhoudinge wat ons die meeste voor omgee, selfs wanneer dit nie meer so goed gaan met die sake of verhoudinge nie.

Deernis: Deernis is nie om jammer te voel vir iemand of een of ander saak waarvoor jy een maal ‘n maand vrywilliglik van jou tyd afstaan nie. Ware deernis skyn deur wanneer ons kwaad, ongelukkig of bly genoeg is om te baklei vir verandering van dinge wat ons weet nie so hoort nie.