Friday, January 29, 2010

MAG JY


MAG JY:

-Nooit omdraai wanneer jy teleurgestel word nie.
-nooit ophou wanneer jy verloor nie.
-nooit bly lê wanneer jy geval het nie.
-nooit haat wanneer jy nie waardeer word nie.
-nooit hoogmoedig word wanneer jy presteer nie.
-nooit rus wanneer jy voorspoed gevind het nie.
-nooit in die steek laat wanneer jy vertrou word nie.

MAG JY:

- Altyd lewe met die wete dat jy met 'n doel lewe.
- altyd ly in die geloof dat lyding krag bring.
- altyd doen met die besef dat dit jou taak is.
- altyd gee en deur jou gawe verryk word.
-altyd lewe met die oog op die onsienlike.

Wednesday, January 27, 2010

Die Kosbare Geskenk


Nadat God klaar was met Sy skepping wou Hy ’n stukkie agterlaat van Sy eie Heiligheid, ’n vonkie van Sy wese, ’n belofte aan die mens van wat hy kan word met bietjie moeite. Hy het gesoek na ’n plek om die kosbare geskenk te versteek, want het Hy verduidelik, want die mens te maklik kan vind die sal hy nooit waarde aan heg nie.

“Dan moet U die kosbare geskenk op die hoogste berg piek op aarde versteek,” sê een van die engele aan Hom.

God het Sy kop geskud, “Nee, want die mens is ’n avontuurlustige wese and hy sal gou genoeg leer om die hoogste berg piek uit te klim.”

“Versteek dit dan in die dieptes van die aarde, Almagtige Koning”

“Ek dink nie so nie,” sê God, “want die mens sal eendag ontdek dat hy kan grou in die diepste gedeeltes van die aarde.”

“Wat van in die middel van die oseaan, Meester?”

Gô’s skud weereens Sy kop. “Ek het aan die mens ’n verstand gegee en eendag sal hulle leer om skepe te bou en sal die grootste oseane deurkruis.”

“Waar dan, Meester?” vra Sy engele.

God glimlag, “Ek sal dit versteek waar elke man, vrou en kind in staat sal wees om dit te vind indien hulle opreg genoeg is en bereid is om diep genoeg daarvoor te soek.”

“Ek sal dit in hul hart versteek.”

Dit wat kosbaar is dink ons soms is op vêr, afgeleë, onbereikbare plekke terwyl dit die hele tyd reg voor ons oë is.

Monday, January 25, 2010

Laaste Eerbetoon


Die werknemers van ’n groot maatskappy het teruggekeer van hul ete breek en by die ingangs portaal van die kantore is hulle begroet deur ’n kennisgewing. Die kennisgewing het gelees: “Die persoon wat jou die meeste verhinder het om te groei in die onderneming is gister oorlede. Ons nooi jou uit na die roudiens en laaste eerbetoon wat in die gimnasium sal plaasvind, vanmiddag om 16H00.”

Almal was eers vreeslike hartseer om te hoor dat een van hul kollegas afgesterwe het, maar na ’n rukkie was almal baie nuuskierig om uit vind wie is die kollega wat oorlede is.

Die afwagting het gegroei soos wat die werknemers by die gimnasium opgedaag het om hul laaste eer te betoon aan die oorledene. Almal het gewonder wie is die persoon wat hulle die meeste verhinder het in hul groei in die onderneming en elke een het gespekuleer wie dit kan wees. Die meeste se gevoel was in elk geval, “Maak nie regtig saak wie dit is nie, ten minste is hy of sy nie meer daar nie !”

Een vir een het die werknemers nader gestaan aan die oop kis en wanneer hulle in die kis kyk was almal sprakeloos. Hulle was geskok, so asof iemand hul diepste wese aangeraak het.

Daar was ’n spieël binne die kis en elkeen wat inkyk kon sy eie refleksie in die kis bodem sien. ’n Nota was langs die spieël aangebring wat as volg gelees het:
“Daar is slegs een persoon wat in staat is om beperkinge op jou groei te plaas: dit is JYSELF.”

Jy is die enigste een wat in staat is om jou lewe te verander. Die enigste persoon wat kan bepaal hoe gelukkig jy vandag gaan wees of hoe suksesvol. Jy is die enigste persoon wat jouself kan help of jouself belemmer om te groei.

Jou lewe verander nie as jou werkgewer verander, of jou vriende verander, of jou ouers verander, of jou lewensmaat verander of jou kinders verander nie.
Jou lewe verander slegs wanneer JY verander, wanneer jy verder strek as wat jy dink jy in staat is om te strek.
Wanneer jy glo dat jy tot alles in staat is, slegs dan eers sal jy werklik tot alles in staat wees.

Jy moet lief wees vir jouself en in jouself glo want hoe anders sal jy jou naaste kan liefhê of in jou naaste glo as jy nie in jouself glo nie.

Friday, January 22, 2010

Geheime Agente.


’n Groot gedeelte van die “Christendom” soos ons dit vandag ken, het van “geloofs beroep” verander. Baie was gewone burgers wat vry kon praat en getuig van hul geloof in die Lewende God.
Maar ongelukkig het die wêreld so verander dat gewone “geloofs burgers” nie meer baie welkom is in verskeie plekke, samekomste en vergaderings nie.

Derhalwe het ’n klomp van die gewone “geloofs burgers” besluit dat dit baie beter is vir hul eie heil om geheime agente te word vir die geloof.

Die probleem het ontstaan dat oral in die wêreld het dit onvanpas geraak om te getuig van die Lewende Almagtige God, Yahweh, want die mense moet onthou dat daar nog baie ander gelowe is met hul eie gode (afgode) en dit is baie ongeskik om hulle nie in ag te neem nie. Dit word beskou as ’n onverdraagsaamheid wat met tyd ’n strafbare oortreding sal word. (in sommige lande is dit al.)

Soos gewoonlik het die “Christene” (ek plaas Christene in aanhalings want sommige mense glo dat alle mense wat glo in ’n god ’n christen is. Ek self verkies eerder die beskrywing, kinders van die Almagtige) besluit dat die woord - naasteliefde - ook van pas is vir dié wat afgode dien en dat ons hulle en hul afgode behoort te omhels want dan bewys ons regtig wat naasteliefde is. Ongelukkig is die voorstanders van die “maak- nie-saak-watter-god-jy dien-naasteliefde” juis die wat die leiding behoort te gee aan hul mede broers en susters.
Maar helaas het baie broers en susters besluit om nie meer vir hulself te dink nie (ten opsigte van geloof) en laat die prediker vir hulle dink en besluit.

Ek kon dit nog nooit verstaan hoe dit moontlik is dat mense beheer van hul eie lewe wil hê, hulle wil besluit waar hul bly, werk, gaan vakansie hou en hoe hul wil lewe, maar wanneer dit by hul ewige lewe kom, dan kan hy of sy geen besluite neem, wil nie standpunt inneem nie en laat toe dat ’n prediker vir hom al die besluite neem wat hom of haar van haar ewige lewe kan beroof.

Het die mens se geestelike oë so blind geraak dat hy nie verder kan sien as die materiële nie? Dis asof sy verstand en wese vasgevang is in hierdie wêreld en geen ag slaan op dit wat gebeur na hierdie kort tydelike bestaan nie.

Dit is ook so dat baie van die werkgewers en besighede waar die “Christene” werk nie wil hê dat hulle werknemers moet getuig van hul ware geloof nie, want dit is sleg vir besigheid en verdryf afgode-dienende kliënte of dit gee aanstoot aan ander nie-gelowiges.
Erger nog is die wat besluit hulle sal self teenoor vriende en familie niks getuig nie, want netnou veroorsaak dit ’n getwis wat baie onsmaaklik kan raak en groot vyandskap kan bewerkstellig tussen families. Dit is so belangrik om te onthou dat daar ’n verskil is tussen getuig en oortuig. Ons roeping is om te getuig van die Almagtige wat ons aangeneem het in Sy wonderlike liefde. Die Heilige Gees is die Een wat die oortuig werk doen.

Daar is net twee keuses wat ons kan maak, die een is, kom wat wil, ek sal getuig van die Lewende Almagtige God en die gevolge dra vir my getuienis, hetsy vervolging of verwerping en die ander is om ’n geheime agente te word vir die geloof.

Alhoewel die gevoel bestaan by die mense dat hulle geheime agente vir die Koninkryk is, is hul totaal verkeerd oor hul affiliasie. Hulle is agente vir twee welbekende organisasie naamlik die CIA of FBI. Dit kan soms gebeur dat hulle vir een of beide partye werk.

Wie is die twee sal jy vra? kom ek verduidelik:
Die CIA is Christene in Afdwaling en FBI is False Believers Incorporated.

Daar is geen manier wat enige ware kind van Vader ’n geheime agent vir die Koninkryk kan wees nie. Vader het sy aangesig nog nooit vir Sy kinders verberg en doen nie dinge in die geheim nie. Sy opdrag is dan ook dat ons, ons lig in die wêreld moet laat skyn. Die lig is die lig van Yahweh wat in ons harte brand.

Mat 5:14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
Mat 5:15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
Mat 5:16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.


Tye sal daar sekerlik kom wanneer ons beproef sal word of ons ware gelowiges is of geheime agente. Waak net dat jy nie so geheime agent is dat wanneer jy die dag vir Vader vra, “Ken U my dan nie? dat Hy nie dalk vir jou sê, “Jy was so geheim dat ek jou glad nie geken het nie.”

Wednesday, January 20, 2010

Die Skrynwerker se Huis


’n Bejaarde skrynwerker het op die punt gestaan om af te tree. Hy het sy werkgewer meegedeel van sy planne om af te tree en die huis bouery heeltemal te laat vaar. Hy wil sy oudag bietjie rustiger vat en dit saam met sy vrou en kinders geniet.

Hy sal die geldjie aan die einde van elke maand mis, maar dit is tyd om af te tree. Hulle sal oorleef van die geldjie wat hy opsy gesit het vir sy oudag. Die werkgewer was baie jammer om te verneem van sy planne om af te tree maar vra hom of hy nie net nog een huis wil bou, as ’n persoonlike guns nie. Die skrynwerker het ingestem, maar dit het gou duidelik geword dat sy hart nie in sy werk was nie. Die vakmanskap was baie swak en hy het van minderwaardige materiaal gebruik gemaak. Dit was ’n ongelukkige laagtepunt om sy loopbaan af te sluit.

Nadat die skrynwerker klaar was met die huis het die bestuurder gekom om na die huis te kyk. Die bestuurder het aan die skrynwerker die sleutel van die voordeur oorhandig. “Dit is jou huis, ons geskenk aan jou vir al die jare diens.” het die bestuurder gesê.

Wat ’n skok ! Wat ’n jammerte ! As hy maar net geweet het dat hy besig was om aan sy eie huis te bou, sou hy alles so anders gedoen het. Nou moet hy in die huis bly wat hy so swak gebou het met minderwaardige boumateriaal.

So is dit ook met ons. Ons bou ons lewens asof ons aandag nie daarby is nie, ons reageer in plaas daarvan om proaktief te wees. In sit alles behalwe ons beste daarin. Wanneer dit die nodigste is dan gee ons nie altyd ons beste nie. Dan met ’n skok kyk ons terug na die situasie wat ons geskep het en besef dat ons nou in die “huis” bly wat ons gebou het. As ons besef het wat die uiteinde gaan wees dan sou ons dit heeltemal anders gedoen het.

Dink aan jouself as die skrynwerker. Dink aan jou huis wat jy bou. Elke dag kap ons ’n spyker in, bou ’n muur, sit ’n dakkap op. Bou met wysheid. Dit is die enigste lewe wat jy ooit sal bou.

Die lewe is ’n doen-dit self projek. Jou lewe môre is die resultaat van jou keuses en optrede vandag.

Monday, January 18, 2010

Die Dertig Sekonde Vasvra


Moenie moeite doen om ’n pen en papier te kry nie ....... lees net ..... indien jy nie die antwoord weet nie, gaan net aan met die vraelys.

1. Noem die drie rykste mense in die wêreld.

2. Noem die laaste drie wenners van die Dakar tydren.

3. Noem die laaste drie wenner van die Mej. Suid-Afrika titel.

4. Noem die laaste vyf mense wat die Nobel prys vir vrede.

5. Noem die laaste vyf wenners van die Academy Awards vir beste akteur en beste aktrise.

Hoe het jy gevaar? Maar gesukkel?

Die punt is, niemand van ons onthou die hoof opskrifte van gister nie. Die mense is veronderstel om die beste op hul gebied te wees, maar die applous vervaag, die toekennings raak is nie meer so blink soos gister nie. Hul sukses raak vergete.

Nou hier is ’n ander vasvra. Kyk hoe vaar jy met die een:

1. Noem drie mense wat jou beïndruk het in jou vormings jare.

2. Noem drie vriende wat jou gehelp het terwyl jou nood die grootste was.

3. Noem drie mense by wie jy iets geleer het wat jou hele lewe jou sal bybly.

4. Noem vyf mense wat jou laat voel het of jy gewaardeer word en spesiaal is.

5. Noem vyf mense met wie jy dit geniet om tyd te spandeer.

Makliker as die eerste vasvra?

Die les?

Die mense in jou lewe wat ’n verskil maak, is nie die met die beste getuigskrifte, die meeste geld of die meeste toekennings nie. Hulle is die wat omgee vir jou. Jou liefhet omdat jy, jy is.

Friday, January 15, 2010

Die Wonderlike Mosterd Saadjie


Daar is ’n baie ou verhaal van ’n vrou wie se enigste seun gesterwe het. In haar droefheid het sy gegaan na die wyse man in die dorp en hom gevra. “Hoe gaan ek vertroos word met die afsterwe van my enigste kind. Wat kan ek doen om hom terug te bring van die dode. Watse raad het jy vir my om my kind weer lewendig te kry ?”

In plaas daarvan om haar weg te stuur of met haar te redeneer oor die afsterwe van haar seun, sê hy aan haar, “Bring vir my ’n mosterd saadjie van ’n huis wat nog nooit enige hartseer geken het nie. Ons sal die saadjie gebruik om die hartseer uit jou lewe te verdryf.” Die vrou is onmiddellik daar weg in haar soektog na die wonderlike mosterd saadjie.

Eerste kom sy by pragtige woning, klop aan die deur en vra, “Ek is op soek na ’n huis wat nog nooit enige hartseer geken het nie. Is die so ’n huis ? Dis baie belangrik vir my.”

Die huismense vertel toe vir haar, “Jy is verseker nou by die verkeerde huis.” en hulle begin te beskryf al die tragiese gebeure wat hulle die afgelope tyd oorgekom het.

Die vrou sê toe vir haarself, “Wie is beter geskik om die arme mense te help as ek, wat hartseer, ongeluk en droefheid so goed ken ?”

Sy het by die mense aangebly om hulle te vertroos en te versterk. Na ’n wyle is sy weer daar weg opsoek na die huis wat geen hartseer ken nie. Maar maak nie saak waar sy gekom het nie, huise, hotelle, plase vind sy die een verhaal na die ander van hartseer en teëspoed.

Die vrou het so betrokke geraak om ander te help met hul hartseer dat sy uiteindelik van haar eie hartseer en pyn begin vergeet het.
Iewers langs die pad het haar soektog na die wonderlike mosterd saad verander in ’n missie van vertroosting van ander.

Na amper ’n jaar het sy teruggekeer na die wyse man en hom meegedeel dat sy haar soektog na die wonderlike mosterd saad laat vaar, want daar is nie ’n huis wat geen hartseer ken nie. Maar in haar soeke na die wonderlike mosterd saad het haar eie hartseer en droefheid vervaag en bestaan feitlik nie meer nie.
Die wyse man het aandagtig na haar geluister en wat sy alles deurgemaak het met die ander bedroefde mense wat sy teëgekom het in haar soektog.

Nadat sy van al haar wedervaringe vertel het, deel hy haar mee dat dit die soektog na die wonderlike mosterd saad is wat haar droefheid verdryf het en nie die mosterd saad self nie.

Soms oorval droefheid en hartseer ons tot so mate dat ons nie in staat is om die pyn en hartseer van ander kan raaksien nie totdat ons begin luister en ’n hand van hulp uitstrek, dan begin ons eers te besef dat ons almal ’n bietjie ondersteuning en simpatie nodig het. Iemand wat net vir ’n paar oomblikke die las van ons skouer kan lig sodat ons weer kan asem skep en ons hoof oplig om die son te sien skyn aan die einde van die moeilike pad.

Wednesday, January 13, 2010

Tyd


’n Begrip waarom alles omtrent draai. “Tyd is kosbaar”, “Tyd is geld”, “Moenie my tyd mors nie”, “Tyd staan vir niemand stil nie”, so kan ons hulle maar opnoem, die een gesegde na die ander en daar is hordes van hulle.

Daar word vertel dat wetenskaplike navorsing bevind het dat tyd relatief tot mens se ouderdom is, met ander woorde hoe ouer jy word hoë vinniger gaan die tyd vir jou verby en hoe jonger hoe stadiger.
Daar is seker ’n mate van waarheid daarin, die van ons wat al so “bietjie ouer” is, sal daarvan kan getuig. Miskien is dit omdat meer as die helfte van ons verwagte leeftyd reeds verby is en daar is nog so baie wat mens graag wil doen.
Die probleem is dat ons seker al verby ons “best before” datum is ! ! !

Miskien is dit meer ’n sielkundige effek as enigiets anders, omdat elkeen wat oor vyftig is onbewustelik besef dat hoe ouer jy hierna word, jy op geleende tyd is. Dis bonus jare. Want wat is ons gemiddelde verwagting, sewentig ... tagtig jaar?
Die Woord antwoord vir ons hierdie vraag in Psalm 90:10 .....
“Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”
Van 0 tot 50 lyk nog baie vêr maar van 50 na 70 lyk baie kort en is verseker baie kort. Die vooruitsig van baie minder jare wat oorbly as die wat ons reeds geleef het, kan mens soms oorweldig en baie moeg en afgeleef laat voel. Sommige besluit dan ook sommer om maar die handdoek in te gooi en te leef soos hulle voel – oud en afgeleef.

In vandag se terme klink oor die vyftig glad nie so oud nie, veral vir die van ons wat daar is, gaan vra maar vir een van twintig is, hoe oud is vyftig ? Hmmm, moenie verbaas wees nie, die antwoord kan jou dalk bietjie vies maak. (Voel soms lus en wys hulle net hoe hard kan ’n ou toppie van in die vyftig nog klap – hehehe)

Maar soos met elke munt is daar twee kante aan die saak.

Gelukkig is daar ook die wonderlike kant, want vir die ware gelowige is dit nie ’n kwessie van verlore jare en afskeid van die aardse nie maar dis ’n weersiens na die wonderlike wat wag. Daar is ’n afwagting want die tyd raak min wanneer ons, ons “Geliefde” sal ontmoet.

Vir my is die lekkerste van alles .... die geestelike groei in die latere jare is fenominaal in vergeleke met die jonger jare. Daar is ’n dringendheid om ons Geliefde Vader intens te leer ken. Ek wil naby aan Hom wandel. Ek wil doen wat voor Hom welbehaaglik is. Daar is ’n besef dat my lot, my ewigheid, in Yahweh se Hand is en dat ek wil terugkeer na waar ek vandaan kom ....... na my Vader se Huis.

Die ander wonderlike moontlikheid is dat ons nog die koms van ons Geliefde kan sien op die wolke kom. Watter wedervaring sal dit nie wees vir die kind van die Almagtige nie. Ek is net bevrees dat die wat nie vir Vader ken nie sal dit nie ’n blye gesig wees nie.

So, as ek alles teen mekaar moet opweeg, ten spyte van tyd wat vinnig uitloop, is dit ’n baie goeie tyd in die mens se lewe.

Daar is net altyd een ding waaroor ek vandag baie spyt is en dit is dat die liefde en nabyheid wat ek vandag met Vader ervaar ek graag sou wou ervaar van kleintyd af, hoeveel groter sou my liefde en nabyheid aan Vader vandag nie gewees het. Geestelik sou ek al ’n baie groter wasdom bereik het.
Ja, tyd gaan vir my te vinnig verby, want daar is soveel wat ek van Vader wil leer en die tyd is te min om die grote Almag van Vader in hierdie korte aardse bestaan werklik te leer ken.

Ongeag die spyt wat altyd te laat is, is ek bly oor die tyd wat Vader my vergun om Hom te leer ken en elke dag te groei in Sy Liefde.
Hetsy tyd vinnig of stadig gaan vir jou, gebruik elke oomblik om jou te omvou in die liefde van ons Koning want wie van ons weet wanneer môre te laat is.

Thursday, January 7, 2010

Koekies


’n Jong seun wat vir die somervakansie op ’n jeugkamp was ontvang ’n groot pak koekies van sy ma deur die pos. Hy het ’n paar van die koekies geëet en die res onder sy bed gebêre. Die volgende dag, met middag koffie, gaan hy na sy tent om ’n paar van die koekies te kry om saam met sy koffie te eet. Maar die boks met koekies het spoorloos verdwyn.

Die middag het een van die kamp leiers, nadat hy gehoor het van die koekies wat gesteel is, ’n seun agter ’n boom sien sit wat van die gesteelde koekies eet. “Daardie jong man,” sê hy by homself, “moet geleer word om nie te steel nie.”

Die kamp leier keer terug na die groep en soek die seun wie se koekies gesteel is. “Willie,” sê hy, “ek weet wie het jou koekies gesteel. Sal jy my help om hom ’n les te leer ?”

“Ja, maar .... gaan jy hom nie straf omdat hy my koekies gesteel het nie ?” vra die seun effens verward.

“Nee, dit sal net maak dat hy jou verwerp en haat,” verduidelik die kamp leier. “Ek wil hê jy moet jou ma bel en vir haar vra of sy nie vir jou nog ’n boks koekies wil stuur nie.”

Die seun het gemaak soos die kamp leier versoek het en ’n paar dae later word nog ’n boks koekies afgelewer.

“Nou,” sê die kamp leier, “die seun wat jou koekies gesteel het is daar onder by die dam. Gaan soontoe en deel jou koekies met hom.”

“Maar,.....” protesteer die seun, “.....hy is die dief.”

“Ek weet. Maar probeer dit en kyk wat gebeur.”

Sowat ’n halfuur later sien die kamp leier die twee seun die heuwel opkom, arm aan arm. Die seun wat die koekies gesteel het probeer sy beste dat die ander een sy beste knipmes moet neem in ruil vir die koekies wat hy gesteel het. Hy kan nie ophou verskoning vra vir dit wat hy gedoen het nie. Die seun wie se koekies gesteel is weier om die knipmes te neem van sy nuwe vriend, sy argument, ’n paar ou koekies is in elk geval nie so belangrik nie.

Soms is ons so vinnig om ons naaste te oordeel en te veroordeel sonder dat ons oor al die feite beskik. Laat ons volgende keer eers so bietjie stilstaan en die feite versamel en die “skuldige” ’n kans gee om te verduidelik voordat ons hulle verdoem tot alles wat sleg is.

Monday, January 4, 2010

Kennisse en Vriende


Daar is ’n verskil om ’n kennis te wees en om ’n vriend te wees. ’n Kennis is iemand wie se naam jy ken, wie jy elke nou en dan sien, met wie jy heel moontlik iets in gemeen het en met wie jy gemaklik voel om by te wees.

Dit is ’n persoon wat jy kan oornooi na jou huis en sekere dinge met hulle deel. Maar hulle is mense met wie jy nie jou lewe deel nie, wie se aksies somtyds nie vir jou sin maak nie omdat jy nie genoeg van hulle af weet nie.

Die teendeel, ’n vriend is iemand vir wie jy lief is. Nie dat jy “verlief” is op hulle nie, maar jy gee om vir hulle, jy dink aan hulle wanneer hulle nie daar is nie. Die persoon aan wie jy herinner word wanneer jy iets spesiaals sien waarvan hulle sal hou. Jy weet dit omdat jy hulle so goed ken. Hulle is die mense wie se foto’s jy het en wie se gesigte gereeld in jou gedagtes opkom.

Vriende is die mense saam met wie jy veilig en beskut voel omdat jy weet hulle gee om vir jou. Hulle bel net om te hoor hoe gaan dit met jou, want ’n vriend het nie ’n verskoning nodig om te bel nie. Hulle vertel jou die waarheid, die eerste maal en jy doen dieselfde. Jy weet dat indien jy ’n probleem het, is hulle daar om te luister en te help waar hulle kan sonder enige verskonings, asse of mare.

Vriende is die mense wat nie vir jou sal lag of jou sal seermaak nie en indien hulle jou wel per abuis seergemaak het, sal hulle alles doen in hul vermoë om op te maak vir die seer wat hulle veroorsaak het. Hulle is die mense wat jy liefhet ongeag of jy dit wil weet of nie.

Hulle is die mense wat wanneer jy hulle ’n drukkie gee, jy nie dink hoe lank drukkie sal jy hulle gee of wie gaan die eerste wees om die drukkie te laat los nie.

Hulle is die mense wat jou sal stop wanneer jy ’n fout gaan maak en jou help wanneer jy reeds ’n fout gemaak het. Hulle is die mense wie se hand jy kan vashou, hulle druk of ’n soentjie gee sonder om ongemaklik te voel want hulle verstaan die dinge wat jy doen en hoekom jy dit doen en hulle het jou juis lief vir die rede.

Hulle bly heeltyd aan jou sy. Hulle hou jou hand deur dik en dun. Hulle sien jou lewe en jy sien hulle lewe en julle leer van mekaar soos wat julle groei en leef. Jou lewe is nie dieselfde sonder hulle nie.
Vriende is daar om die lewens ervaring te verryk en te deel in die genot en die hartseer sonder enige verwyte maar met volgehoue blymoedigheid.