Monday, March 30, 2009

Ek sal die Rots Skuif


Een nag terwyl ’n man rustig slaap in sy eenvoudige hout huisie op die berg word sy kamer skielik gevul met die mees helderste lig denkbaar en hy hoor die stem van die Almagtige Vader Yahweh wat met hom spreek. Vader deel hom mee dat Hy ’n werk het vir hom wat hy moet verrig en toon hom die massiewe rots voor die man se nederige huisie. Vader verduidelik aan hom dat die man elke dag teen die rots moet stoot met alle krag en mag tot sy beskikking.

Dit het die man gedoen, dag na dag, jaar na jaar. Vir baie jare het hy geswoeg met die taak van sonop tot sononder, sy skouers vierkantig teen die wand van die koue, massiewe onbeweegbare rotsblok. Elke aand keer die man terug na sy huisie, moeg en seer van die heeldag se arbeid met ’n gevoel van nutteloosheid omdat hy niks uitgerig kry teen die rotsblok nie.

Die satan merk op dat die man besig is om moedeloos en mismoedig te raak en neem sy kans waar om in die prentjie te kom en ander gedagtes in die man se kop te plaas en hom nog meer moedeloos te man want hy wil graag hê dat die man die stryd gewonne moet gee. Die satan vertel aan hom: “Jy is nou alreeds jare besig om teen die rots te stoot en dit het nog nie eens beweeg nie. Jy sal dit nooit regkry om dit te skuif nie en kan net sowel nou al handdoek ingooi en jouself baie moeite en verdriet spaar. Gaan doen eerder iets ander met jou kragte.”

Met die gedagtes wat die satan in die man se gemoed gesaai het, het hy begin voel soos ’n mislukking en dat hy in elk geval nooit die taak sal kan verrig nie. Die gedagtes het die man net nog meer neerslagtig gemaak en hy het by homself begin dink: “Hoekom sal ek myself doodmaak om iets te doen wat ek weet ek nooit sal regkry nie. Ek sal maar net my tyd insit en die minimum poging aanwend om die rots te skuif, dit behoort darem genoeg te wees.”

Vir ’n paar dae het hy gedoen soos wat hy homself voorgeneem het, maar hy het gevoel dat iets nie reg is nie en dat die manier van doen hom geweldig baie pla. Hy het besluit om dit ’n saak van gebed te maak en tot Vader te nader met sy kwellinge. “Vader,” het hy gebid, “ek het lank en hard in U diens gearbei. Ek het getrou elke dag al my kragte ingespan om te doen wat U my versoek het om te doen. Tog, na al die jare, kon ek nog nie eens die rots een millimeter verskuif nie. Wat is fout? Hoekom faal ek in my taak?

Met die antwoord Vader hom baie liefdevol, “My vriend, toe ek jou gevra het om my te dien en jy dit aanvaar het, het ek jou meegedeel dat jou taak was om die rots te stoot met al jou krag en mag, wat jy dan ook gedoen het. Nie een maal het ek aan jou gesê dat ek van jou verwag om die rots te skuif nie. Jou taak was om te stoot en nie te skuif nie. En nou kom jy na My toe, toe kragte getap en dink dat jy gefaal het in jou taak.
Maar is dit werklik so?
Kyk na jouself.
Jou arms is sterk en gespierd, jou rug breed en bruin, jou hande vol eelte van die voortdurende drukking teen die rots en jou bene is sterk en stewig.
Deur die weerstand van die rots het jy baie gegroei en jou kragte het baie vermeerder teenoor dit wat jy aanvanklik gehad het.
Steeds het jy nie die rots verskuif nie. Maar jou roeping was om gehoorsaam te wees, om jou geloof en vertroue in My wysheid verder te stoot en te oefen. Dit het jy gedoen.

“Ek, my vriend, sal nou die rots skuif.”

Wanneer ons soms die woord van Vader hoor wil ons ons eie intellek gebruik om te ontsyfer wat Hy verlang terwyl al wat Hy werklik verlang is slegs vertroue en geloof in Hom....

Vader Yahweh, U roep ons elke dag om gehoorsaam te wees. Soms wil ek verby die gehoorsaamheid kyk, ek wil weet hoekom, waarom en wanneer. Tog is dit gewoonlik eers lank na die gehoorsaamheid dat ek begin besef wat U plan toe reeds was. Help my asseblief vandag om gehoorsaam te wees sonder vrae en om nie mismoedig te word terwyl ek die taak volbring wat U my opgelê het nie. Vader, leer my om vandag gehoorsaam te wees sodat ek môre sterker kan wees in U diens.
Dit vra ek in die naam van my Verlosser Yahshua.
Amen

Wednesday, March 25, 2009

Die Sandput


’n Klein seuntjie het sy Saterdag oggend spandeer deur heerlik te speel in sy sandput. Hy het by hom gehad sy trommeltjie met karretjies en vragmotortjies, sy plastiek emmertjie en blink rooi plastiek grafie. In die proses om paadjies en tonnels te maak in die sagte sand ontdek hy ’n groot rots in die middel van die sandput.

Die knapie het om die rots uitgegrou en kon dit regkry om die rots los te uit die grond. Met baie moeite het hy die rots gestoot en gerol deur die sandput met sy klein voetjies. Die knapie was maar baie klein en tingerig en die rots ’n regte knewel. Toe die seuntjie, na ’n lang gesukkel, die rots uiteindelik by die rand van die sandput kry, kom hy agter dat hy nie die groot rots kan oplig en oor die rand van die sandput gestoot kan kry nie.

Vasbeslote, het die klein knapie gestoot en gelig maar elke keer net soos hy dink dat hy vordering maak dan rol die rots sywaarts en terug in die sandput.

Die klein seuntjie het gekreun en gesteun en sy beste probeer maar sy enigste beloning was dat die rots weer terugrol en sy tenger vingertjies vasdruk en knyp.

Uiteindelik het hy in trane uitgebars van frustrasie. Die heel tyd het die seuntjie se vader hom dopgehou deur die venster vanuit die sitkamer terwyl die hele drama met die rots ontvou. Die oomblik toe die trane rol val ’n groot skaduwee oor die seuntjie in sy sandput. Dit was die seuntjie se vader.

Sag maar tog ferm sê hy, “Seun, hoekom het jy nie al die krag tot jou beskikking gebruik nie?”

Mismoedig snik die seuntjie, “Maar ek het Pappa, ek het! Ek het al my kragte gebruik wat ek het!”

“Nee, seun,” korrigeer sy vader liefdevol. “Jy het nie al jou kragte tot jou beskikking gebruik nie. Jy het nie vir my gevra nie.”

Met die buk sy vader af, tel die rots op en verwyder dit uit die sandput.

Monday, March 23, 2009

Die Leë Stoel


’n Sterwende man se dogter het die plaaslike prediker versoek om haar vader te besoek en vir hom te bid. Toe die prediker by die huis arriveer vind hy die man in die bed. Hy was in ’n sittende posisie en is ondersteun deur ’n klompie kussings agter sy rug. Langs sy bed het ’n leë stoel gestaan. Die prediker het aangeneem dat die sterwende man ingelig is van sy besoek. “Ek neem aan jy het my verwag?” vra die prediker toe.

“Nee, wie is jy?” vra die man.

“Ek is die nuwe prediker vir die gemeente in die dorp.” antwoord die prediker. “ Toe ek die leë stoel gewaar het ek aanvaar dat jy bewus was dat ek op pad is om jou te kom besoek.”

“O ja, die stoel,” sê die sterwende man. “Sal jy omgee om die deur toe te maak, asseblief?”

Bietjie verbaas maak die prediker die deur toe.

“Ek het dit nog nooit vir iemand vertel nie, nie eens vir my dogter nie,” sê die man. “Maar my hele lewe deur het ek nog nooit geleer hoe om te bid nie. By die kerk het ek die predikant hoor praat oor gebed, maar ek kon dit nooit verstaan of begryp nie...”

“Ek het alle pogings om te bid laat vaar,” gaan die ou man voort, “tot een dag so ongeveer vier jaar gelede toe my beste vriend vir my gesê het, ‘Johan, gebed is ’n baie eenvoudige saak. Dis soos om ’n gesprek met Jesus te voer. Hier is wat ek voorstel. Gaan sit op ’n stoel en plaas ’n leë stoel voor jou en in geloof sien vir Jesus op die stoel. Dit is nie onnatuurlik nie, want Hy het belowe, ‘Ek sal altyd met jou wees.’ Praat dan net met Hom en luister op dieselfde wyse soos jy nou met my doen.”

“Wel, ek het dit probeer en het so baie daarvan gehou dat ek dit nou ’n paar ure per dag doen. Ek is tog versigtig, want as my dogter sien dat ek met ’n leë stoel gesels sal sy ’n oorval kry of my groendakkies toe stuur.”

Die prediker was diep geraak deur die verhaal van die sterwende ou man en het hom aangemoedig om voort te gaan met die gesprekke. Hulle het saam gebid en die prediker is weer terug dorp toe.

Twee dae later bel die dogter die prediker om hom in kennis te stel dat haar vader die middag oorlede is.

“Het dit gelyk of hy in vrede gesterf het?” vra die prediker.

“Ja, toe ek die huis verlaat die middag 2 uur om ’n paar inkopies te gaan doen het hy my geroep na sy bed, eers een van sy droë grappies vertel en my op die wang gesoen. “Toe ek sowat ’n uur later by die huis kom, van die dorp af, vind ek dat hy reeds dood was. Maar daar was tog iets baie vreemds gewees, inteendeel meer as vreemd – ontstellend.

Klaarblyklik, net voordat Pappa gesterf het, het hy oorgeleun en sy kop laat rus op die leë stoel wat altyd langs sy bed gestaan het”

Tuesday, March 17, 2009

Nommer 10 Moersleutel of Skuif Spaander


Daar is sovele mense wat net vas bly staan by Vader se oorspronklike Hebreeuse name. Moet nie ’n fout maak nie, ekself verkies om my Vader se oorspronklike Hebreeuse name van Yahweh en Yahshua te gebruik want dit is soos Hy oorspronklik aangespreek is. Die probleem is dat die wat so vas bly staan op Vader se name soms niks wil weet van die ander aanspreek vorme soos God en Jesus wat deur die grootste deel van die christen gemeenskap gebruik word nie.
Die mense wat die tradisionele aanspreekvorme gebruik word soort van verwerp en soms is daar ’n afsku om die tradisionele aanspreek vorme te gebruik.

Ons weet dat daar in baie kerke lankal nie meer die ware boodskap van die Lewende God van hemel en aarde verkondig word nie en dat die mense is ’n geestelike slaap verkeer en dat hulle gestreel wil word in die gehoor.

Maar die mense is deel van die volk van Vader wat gered moet word en wie sal hulle red? – die ware gelowiges wat die onvervalste Woord van Abba Vader bring. Hyself sal die gees opwek sodat die vlam van liefde en genade weer kan begin brand in hul gees.
Ons sal hulle moet gryp uit die bek van die doderyk en om hulle aandag te kry sal ons moet kan spreek in ’n taal wat hulle kan verstaan. Vir hulle sal die begrip van Yahweh en Yahshua baie vreemd klink, totdat Vader dit nie in hulle hart vir hulle openbaar het nie sal hulle nie Sy werklike naam herken of daaraan gehoor gee nie. Vir die rede was die dissipels ook toegerus nadat die Heilige Gees op hulle gekom het om die ware Boodskap van verlossing aan die mense in hul onderskei tale te bring.

Ons het die keuse om te wees soos ’n nommer 10 moersleutel (spanner) of soos ’n skuif spaander (shifting spanner).
Die nommer 10 moersleutel, is net goed vir een spesifieke taak en dis om nommer 10 moere en boute los te maak en vas te maak, maar die skuif spaander kan ’n verskeidenheid van moere en boute, van die kleinste tot die grootste, los en vasmaak.

Raak ons so vasgevang in ons tradisies en aanspreek vorme dat ons net een mate ken of kan ons so aanpasbaar wees om aan te pas soos Vader verlang ons moet wees.
Om aanpasbaar en buigbaar te wees beteken nie om die vaste geloofs beginsel prys te gee nie, maar om werklik bruikbaar te wees in die Koninkryk van die Lewende Waaragtige Vader en uit te beweeg uit jou eie gemaksone om te gaan haal of te gaan spreek tot hul wat verlore gaan en dors na die lewende water van ons Heiland.

Die keuse is joune – is jy ’n nommer 10 moersleutel of ’n skuif spaander?

Tuesday, March 10, 2009

Rooi See Wonderwerk


’n Jongman wat onlangs bekeer is, het by die bushalte gesit en met verwondering sy Bybel gelees terwyl hy wag vir sy bus om te arriveer. Elke nou en dan hoor jy net, “Hallelujah, Prys God, Hy is Almagtig!” terwyl hy listig voort lees. ’n Skeptiese man hoor die jongman en stap nader terwyl hy hom vra wat lees hy. Hy antwoord, “Ek lees hoe God die Rooi See verdeel het sodat die Israeliete daardeur kon trek terwyl hulle ontvlug vir Farao en sy leër – dit is ’n absolute wonderwerk!”

Die skeptiese man antwoord, “Moenie alles glo wat jy in die Bybel lees nie. Die feit van die saak is dat die water van die see maar 15cm diep was – so dit was geen wonderwerk nie.”

Die jongman knik sy kop in teleurstelling maar gaan nietemin voort om te lees terwyl die skeptiese man weg stap. Die skeptiese man was baie trots op homself dat hy die jongman sommer gou kon reghelp.

Ewe skielik hoor die skeptiese man hoe die jongman in verwondering uitroep, “Hallelujah, dit is ongelooflik!”
Met die kom die skeptiese man terug na die jongman en vra hom, “Wat is dit nou die keer?”

Die jongman sê opgewonde in een asem, “ Hierdie een is ’n werklike wonderwerk, God het die hele leër van Egipte verdrink in 15 cm water! ! !”

Thursday, March 5, 2009

Wie se Boodskapper is Jy.


Die boodskap gaan oor die afskud van die stof van die voete wanneer die mense van die huis of die stad nie die leer wil aanvaar wat jy bring nie, dan moet jy die stof van die voete afskud en nie meer in die huis of stad kom nie. Daar word self verder gegaan dat diesulkes as totale vyande beskou word van die Lewende God en dat hulle onder geen omstandighede selfs gegroet mag word nie.

Mat 10:14 En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.

Baie keer verwerp ons die hele stad al was ons nog net by een huis of ons verwerp die hele huis al was ons nog net by een persoon in die huis. Is ons nie baie kere soos Jona wat op die heuwel bokant die stad gaan sit en wag dat die stad of huis vernietig moet word nie?, want “ons” het mos die mense gewaarsku – ons wil tog so graag altyd reg wees en kan sê – “I told you so!”
Die mense van Ninevé het God geglo en berou gehad en die koning het die bevel uitgereik dat die hele stad hulle moet verootmoedig en rou klere moet aantrek na die getuienis van Jona. Dit lyk dis of die werk van Jona nou baie gering blyk te wees in lig van die koning se bevel en dat hulle God geglo het en nie Jona nie – dit lyk nou of God en die koning alles gedoen het en Jona is ergerlik daaroor. Maar hy was maar net die boodskapper maar die “Koning” het die verandering in die hart bewerkstellig.

Die ander probleem waarna ons moet kyk, is die boodskap wat ons bring na die huis of die stad – is dit die volkome boodskap van die Ewige liefde van die Lewende God of is dit die boodskap van ons eie oortuiging en siening.
Want die waaragtige boodskap van Vader kom nooit leeg terug nie en die wat sy ore vir die ware boodskap sluit is nie beskore vir die boodskap nie en sal dit nooit aanvaar nie.

Die mense boodskap is gewoonlik een van “doom en gloom” maar die ware boodskap van Vader is een van onuitspreekbare liefde, geduld en genade en dié twee is baie maklik te onderskei van mekaar.

So maak seker wie se boodskap jy bring voordat jy die stof van die stad of die huis van jou voete afskud en maak seker dat Vader die opdrag in jou hart geplaas het om te spreek anders spreek jy vanuit jouself wat geen goeie vrugte kan oplewer nie.

Monday, March 2, 2009

Verlig deur Blindheid


Daar was ’n jong meisie wat haarself vreeslik gehaat het omdat sy blind was. Haar verbitterdheid het so van haar lewe besit geneem dat sy almal om haar gehaat het behalwe haar liefdevolle kêrel. Hy was altyd daar vir haar gewees. Hy het haar by verskeie geleenthede gevra om met hom te trou en elke keer het sy geweier. Die laaste keer wat hy haar gevra het om te trou het sy geantwoord, “As ek maar net die wêreld kon sien, sou ek enige tyd met jou getrou het.”

Eendag, is sy in kennis gestel dat daar donateur oë vir haar beskikbaar geraak het. Sy is inderhaas voorberei vir die oorplanting en die operasie was ’n geweldige sukses. Toe die verbande afkom, kon sy alles sien, insluitende haar kêrel.

Hy vra toe aan haar, “Noudat jy die wêreld kan sien, sal jy met my trou?” Die meisie kyk na haar kêrel en merk op dat hy blind is. Die aansien van sy geslote ooglede het haar geskok. Sy het dit glad nie verwag nie. Die gedagte om die res van haar lewe vas te kyk teen die geslote ooglede was een teveel vir haar en sy het die huweliks aanbod van die hand gewys.

Haar kêrel is daar weg met ’n groot verdriet in sy hart en ’n paar dae later stuur hy die nota met die volgende boodskap aan haar, “Pas jou oë baie goed op my liefste, want voordat hulle joune geword het, was hulle myne.

Dis hoe dit deesdae gesteld is met die mens wanneer ons status verander of dit baie goed met ons gaan. Slegs ’n klein handjie vol onthou hoe dit voorheen was en wie was die hele tyd aan hul sy te midde van die mees pynlikste situasies.

Die lewe is ’n geskenk:
Vandag, voordat jy ’n harde woord uitspreek, dink aan iemand wat glad nie kan praat nie.
Voordat jy kla oor die kos wat nie lekker proe nie, dink aan iemand wat niks het om te eet nie.
Voordat jy kla oor jou man of jou vrou, dink aan iemand wat uitroep tot God om tog vir hom of haar net ’n lewensmaat te stuur.
Vandag, voordat jy kla oor die laste van die lewe, dink aan iemand wat gesterf voordat hul nog die lewe kon begin smaak.
Voordat jy kla oor die lang afstand wat jy moet ry, dink aan iemand wat dieselfde afstand te voet moet aflê.
Wanneer jy moeg is en kla oor jou werk dink aan iemand wat werkloos is en smag na ’n werk om sy gesin te voed.
En wanneer negatiewe gedagtes dreig om jou onder te kry, sit ’n glimlag op jou gesig en dink daaraan dat jy lewe en steeds hier is vir ’n spesifieke doel.