Thursday, October 30, 2008

Die Lampie in die Winkel Venster


Eensaam en verlate het die pragtige olie lampie in die winkel venster gestaan. Elke aand het hy gesien hoe die mense verby die winkel venster loop met hulle olie lampies in hulle hand om vir hulle die pad te verlig na hul huise. Dit was lampie se groot begeerte, om so lig te maak vir sy eienaar.

Eensaam lampie was glad nie lelik nie, inteendeel was hy ‘n pragtige lampie. Sy maker het die lamp glasie pragtig versier met die mooiste patrone op wat lieflike patrone teen die mure van die huis kon weerkaats. Sy olie houertjie was van egte koper en was blink gepoleer sodat wanneer die son daarop skyn het dit eintlik die mense se oë verblind wat na lampie gekyk het.

Maar helaas, al lampie se prag en praal het niks gebaat tensy daar ‘n vlammetjie brand binne die lamp glasie om die lieflike beelde oral heen te laat uitstraal nie.

Eensaam lampie was nie ‘n goedkoop lampie nie maar afgesien van sy prys was hy nie ‘n groot lamp nie en dit het gemaak dat daar nie veel belangstelling in hom was nie.
Klein Claudette het vir lampie die eerste keer gesien toe die winkelier hom in die venster uitstal en sy het dadelik verlief geraak op lampie, hy het vir haar ‘n besonderse bekoring ingehou. Claudette hulle was baie arm gewees en haar ouers sou nooit die lampie vir haar kon koop nie. Maar sy het haar voorgeneem dat sy nog eendag vir lampie sal besit.

Sy het in die middae na al haar huis werkies afgehandel was na die gegoede deel van die stad gegaan en daar vir die ryk mense in hul huise gewerk om al die koper en silwer eetgerei en beeldjies blink te poleer. Op die manier kon sy geldjies bymekaar maak om haar ouers te help en ‘n klein bietjie opsy te sit om vir lampie te koop. Dit was baie harde werk en wanneer Claudette in die middae huistoe stap en sy moeg en moedeloos voel het sy net by die winkel venster verby geloop en sommer weer moed geskep as sy vir lampie nog in die venster sien staan. Elke keer het die winkelier opgekyk wanneer Claudette by die venster staan en vir lampie bewonder en dan vir haar geglimlag.

Dit was asof lampie net vir haar gewag het om hom te kom koop. Na ‘n jaar se harde werk en spaar het Claudette uiteindelik genoeg geld bymekaar gehad om vir lampie te gaan koop. Sy kon nie wag om al haar werkies af te handel sodat sy na die winkel toe kon gaan om vir lampie te koop nie.

By die winkel gekom, loer sy vinnig weer in die venster om te sien of lampie nog daar is en in ‘n oomblik voel dit vir haar of haar hart gaan staan want lampie is nie meer in die venster nie.
Met trane vlak in haar oë hardloop sy die winkel binne en vra aan die winkelier waar die lampie is.
Die winkelier kyk haar stip aan terwyl daar ‘n ondeunde vonkel in sy oe is en sê, “My pa, die eienaar van die winkel, het gesê ek moet die lampie uit die venster haal want hy het hom nodig vir iets, maar vra hom maar self, hy sit daar by die tafeltjie agter in die stoor.”

Dit voel vir Claudette of haar hart aan duisend stukke geskeur is – was al die harde werk en spaar dan tevergeefs gewees?
Toe sy agter by die winkelier se vader kom kon sy die trane nie meer keer nie en hulle het vrylik oor haar wange geloop.
Die eienaar vra toe, “Kan ek vir jou help, Claudette?”
Claudette skrik eers en dink by haarself, hoe ken die oom my naam?
Met ‘n bewende stemmetjie stamel sy, “Die oom het gesê ek moet vir oom kom vra oor die lampie wat in die venster was. Ek wil so graag die lampie koop want ek spaar nou al ‘n hele jaar lank om genoeg geld bymekaar te kry om die lampie te kan koop.”

Die eienaar vra toe, “Hoekom wil sy so graag die lampie hê, daar is tog baie ander groter en goedkoper lampe wat jy kan koop?”

Claudette antwoord, “Die lampie is spesiaal, van die eerste dag wat ek dit gesien het was ek verlief daarop. Die etswerk op die glasie en die graveerwerk op die olie houertjie is die mooiste wat ek nog gesien het. Vir ander mense is dit seker nie veel nie maar vir my is dit soos ‘n kosbare skat wat ek nie kan wag om in die hande te kry nie. Dit sal my kamertjie so pragtig verlig en wanneer ek in die donker moet wandel sal dit genoeg lig gee sodat ek nie dalk struikel en val nie.”

Die eienaar staan op en stap na ‘n rak teen die stoorkamer se muur en haal ‘n pakkie af wat toegedraai is in die mooiste papier wat Claudette nog ooit gesien het. Hy sit die pakkie voor haar op die tafel neer en sê, “Dit is spesiaal vir jou.”

Claudette sê, “Baie dankie oom, maar die lampie…. kan ons nie eers gesels oor die lampie nie.”

Die eienaar sê vir haar, “Maak eers die pakkie oop dan gesels ons verder oor die lampie.” Met bewende vingertjies maak Claudette die pakkie vinnig oop en binne is haar lampie. Al wat sy kan uiter is, “Maar oom ….. wat …. hoe …. hoeveel moet ek nou betaal vir die lampie?”

Die eienaar antwoord, “Nee my kind, dis ‘n geskenk van my en my seun. Ons het elke dag gesien hoe jy na die lampie kom kyk en ek het ook gehoor by van die dorpsmense hoe hard jy werk om die lampie te kan koop. Ek en my seun het besluit dat as jy so hard werk vir so ‘n klein lampie, sal jy dit baie goed oppas en mooi daarna kan kyk.

Omdat dit so besonderse lampie is het ons gevoel om nie die lampie te verkoop nie maar aan iemand te skenk sodat die persoon dit kan oppas en versorg namens die winkel. Die lampie is joune maar is ook ‘n advertensie vir die winkel en jy moet vir almal vertel dat die lampie ‘n getuie is van die winkel. Verder moet jy gereeld hier verbykom sodat ons die olie van die lampie kan aanvul want die lampie moet altyd kan skyn in die donker.”

Claudette was oorstelp van vreugde en sy kon nie genoeg vir die mense vertel van haar wonderlike lampie nie. Met die lig van haar lampie het sy vir baie ander mense lig gemaak wanneer die paadjie bietjie duister was om te bewandel en elke keer het sy vertel van die wonderlike winkel en die vader en sy seun wat aan haar die lampie geskenk het.

Psalm 18:28 Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar.
Psalm 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
Spreuke 6:23 Want die gebod is ‘n lamp en die onderwysing ‘n lig en die teregwysinge van die tug ‘n weg tot die lewe,
Spreuke 13:9 Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood.

Tuesday, October 28, 2008

Wat is Belangrik vir Jou



Die plaasjapie en sy vriend het in die middestad naby ‘n plein verbygeloop. Dit was etensuur en die strate was gevul met mense wat haastig oppad is. Motors wat op hul toeters lê, taxies wat heen en weer verby jaag – die stads geraas was oorverdowend. Skielik stop die plaasjapie en sê, “Ek hoor ‘n kriek.”

Sy vriend sê, “Wat? Jy is seker mal. Daar is nie ‘n manier wat jy ‘n kriek in hierdie stads geraas kan hoor nie!”

“Nee, ek is seker daarvan,” sê die plaasjapie, “Ek hoor ‘n kriek.”

“Dis malligheid,” sê sy vriend.

Die plaasjapie luister aandagtig vir ‘n rukkie en stap oor die straat na ‘n groot beton plant houer waarin struike groei. Hy kyk en krap tussen die blare en takke van die struike en sowaar daar is die klein kriek. Sy vriend was oorbluf.

“Dit is ongelooflik,” sê sy vriend. Jy moet bo-menslike ore hê.

“Nee,” sê die plaasjapie. “My ore is glad nie verskillende van joune nie. Alles hang net af van waarvoor jy luister.”

“Maar dit kan nie waar wees nie!” sê sy vriend. “Ek sal nooit ‘n kriek in hierdie stads verkeer kan hoor nie.”

“Ja, dis waar,” kom die antwoord. “Alles hang af van wat is regtig belangrik vir jou. Kom, laat ek jou wys.”

Hy steek sy hand in sy broeksak, haal ‘n paar muntstukke uit en laat val dit op die sypaadjie. En toe, te midde van al die stads geraas wat steeds in hul ore weerklink merk hulle op dat almal binne ‘n radius van tien meter stop en omdraai om te kyk of dit nie dalk hul geld is wat verloor het nie.

“Sien jy wat ek bedoel?” vra die plaasjapie. “Dit alles hang af van wat is belangrik vir jou.”

Friday, October 24, 2008

Wat Is In Jou Spons


Daar is vyf sponse wat op die kombuis tafel lê. Elke lid van jou huisgesin het ‘n verskillende deel van die huis skoongemaak en al die sponse lyk presies dieselfde. Jy is nuuskierig om uit te vind wat was alles in jou huis skoongemaak, maar jy kan niks wys word deur na die sponse te kyk nie…. hulle lyk almal dieselfde….. so wat doen jy?

Jy druk elke spons om te sien wat uitkom. Soos jy die eerste spons druk sien jy daar kom coke uit en besluit iemand het die kombuis tafel afgevee waar die kinders die coke gemors het toe hulle vir hul ingegooi het.

Soos jy die twee spons druk kom daar teël reiniger uit – die een was gebruik om die badkamer skoon te maak.

Die derde een, kom daar motor olie uit – manlief het weer die motorhuis skoongemaak!

In die vierde een pof daar babapoeier uit die oomblik wat jy druk aan die spons – yip, die babakamer is met die een skoongemaak.

En die laaste een, vloer politoer – die een was gebruik op die teëlvloer in die gang.

Wanneer jy die laaste spons neersit kyk jy weer hoe eenders hulle lyk en besef dat die eendersheid stop sodra jy hulle druk.

Gelowige is baie keer dieselfde soos die sponse, hulle lyk en praat almal dieselfde totdat die lewe hul begin te druk, dan kom daar ‘n klomp verskillende goed uit soos – woede van die een, ‘n behoefte aan wraak van die ander, trane van die een, jammerte van ‘n ander – asook hebsug, valsheid, sluheid – en laastens van een opregte vloei voort die liefde vir Yahshua, die Gesalfde.

Net soos die sponse, kan slegs uitgedruk word wat ingesit is – daar kan nie olie uitkom as Handy Andy daarmee opgevee is nie.
Bly in die Woord van God daagliks sodat wanneer die lewe begin druk, Yahshua en slegs Hy alleen vanuit jou skyn.

(Mat 7:16) Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
(Mat 7:17) So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte

Monday, October 20, 2008

Blou Roos


Hoekom ek altyd die een moet wees wat begin met die wasgoed wanneer al die waspoeier klaar is sal gun mens weet nie. Nou ja, dis was tyd vir my “gryp en betaal” lopie by die supermark en ek het toe sommer maar ‘n paar ander noodsaaklikhede gekry soos gloeilampe, papier handdoeke en vullissakke.

Ek haas my deur die winkelrakke, gryp van die rakke wat ek nodig het en maak vir die betaalpunt net om geblokkeer te word in die nou winkel gangetjie deur ‘n jong seuns van so ongeveer sestien jaar oud. Gelukkig is ek nie ‘n baie ongeduldige mens nie en het rustig gewag dat die seun my moes opmerk en dan opsy te staan.

Dit was toe dat hy baie opgewonde met sy arms in die lug waai en met ‘n luide stem verklaar, “Moekie, ek is hier.” Dit was nou baie duidelik dat die seun verstandelik gestremd was en dat hy geskrik het toe hy omdraai en my so naby aan hom sien, wat wag om verby te skuur.
Sy oë het behoorlik gerek en die verbasing was groot op sy gesig toe ek vraag, “Hi Boet, wat is jou naam?” “My naam is Denny en ek doen inkopies saam met my Moekie,” antwoord hy trots. “Wow,” sê ek, “dis ‘n kool naam, ek wens my naam was Denny, maar my naam is Hal.” “Hal soos in hallo?” vra hy. “Ja” antwoord ek. “Hoe oud is jy Denny?”

“Hoe oud is ek Moekie?” vra hy sy ma terwyl sy stadig aangestap kom vanaf die gangetjie langsaan. “Jy is vyftien jaar oud Denny, maar wees nou ‘n soet seun en laat die man verbykom.” Ek groet haar en sit my gesprek voort met Denny en ons gesels vir ‘n paar minute oor die somer, fietse en die skool. Ek sien sy bruin oë vonkel met opgewondenheid omdat hy die middelpunt van iemand anders se gesprek is.

Hy het toe skielik omgedraai en koers gekies na die speelgoed afdeling.

Denny se ma het ‘n verbaasde uitdrukking op haar gesig gehad en my bedank omdat ek tyd geneem het om met haar seun te gesels.

Sy vertel my dat die meeste mense wil nie eens na hom kyk nie wat nog te sê om met hom te gesels….. Ek het haar meegedeel dat dit vir my ‘n plesier was en toe sê ek vir haar iets wat ek geen idee het waarvandaan dit kom nie, behalwe deur die influistering van die Heilige Gees.

Ek vertel haar toe dat daar baie rooi, geel en pienk rose in God se tuin is, maar
‘Blou Rose’ is baie skaars en moet waardeer word vir hul skoonheid en uitsonderlikheid. Jy sien, Denny, is ‘n ‘Blou Roos’ en as iemand nie stop en ruik aan daardie roos met sy hart en dit aanraak met sy welwillendheid nie, dan het hulle ‘n seën van God gemis.

Sy het vir ‘n oomblik stil gebly en met ‘n traan in haar oog gevra, “Wie is jy?” Sonder om te dink het ek geantwoord. “Oh, ek is seker maar net ‘n Aster of ‘n Kappertjie, maar ek is verseker dankbaar om in die tuin van God te mag bly.”

Friday, October 17, 2008

Die Vrye Wil


Sekerlik die grootste verantwoordelikheid wat ons Ewige Almagtige Vader op die skouers van die adamiet kon plaas.

Die vermoë om self keuses te kon maak – ‘n vrye wil om te besluit.

Buiten die feit dat dit meebring dat ons verantwoordelik te werk moet gaan met die “mag” wat aan ons verleen is moet ons ook self die gevolge dra van ons besluite. Die gevolg van swak keuses wat ons maak kan dus nou nie voor iemand anders se deur geplaas word nie maar slegs voor ons eie.

Inherent bestaan die gevolg van keuses deur die vrye wil uit slegs twee kategorieë te wete goed of kwaad.
Baie sal daar wees wat hulself probeer verontskuldig deur te beweer dat hulle bedoeling nie die kwaad was nie maar eintlik goed. Hiermee kan hulle baie van hul mede broers en susters om die bos lei maar daar is Iemand wat veel dieper kan sien, Hy sien tot in die hart van die mens.

Die gevolge naamlik goed of kwaad kan ook anders omskryf word naamlik liefde of haat. Verkondig of spreek die gevolg van die vrye keuse van liefde tot God en die naaste of van haat teenoor God en die naaste?
Ongelukkig (of gelukkig) is daar geen grys areas tussenin nie dis óf vir óf teen God.

Enige van jou besluite wat nadelige gevolge vir jou naaste mag inhou of hom of haar op enige wyse mag te na kom is ‘n kwade besluit, ‘n besluit teen God. Selfs besluite om die naaste te straf wanneer hy / sy die wet en gebooie van God oortree het val onder besluite vir God, mits die bestraffing in liefde plaasvind en ten doel het om die naaste terug te bring op die regte pad van God.

Nou kom die wonder van die besluit om God lief te hê ter sprake. Watter wonder is dit nie dat God ons die keuse gegee het om hom lief te hê. Net so maklik kon Hy ons geskape het dat almal Hom onvoorwaardelik sou liefhê en dien. Maar sou dit kwalifiseer as liefde of eenvoudig net nog ‘n aksies soos om asem te haal omdat my liggaam die lug nodig het.

Nee, beslis nie. Die warmte van die liefde lê juis daarin dat dit vrywillig is, ‘n bewuste keuse. Daardeur gee ek nie net my hele hart nie maar ook my hele self.
Dit is juis die liefde wat ons lewend maak, dit skep ‘n waardering binne ons vir alles wat mooi, pragtig en rein is, van mooi melodieë, gedigte, die gesig van ‘n geliefde tot by die genade van ‘n Barmhartige Lewende God.

Moet vir geen oomblik die mag van die vrye wil onderskat nie want dit is een van die grootste magte wat aan die mens geskenk is.
Oorloë en slagtings het al plaasgevind ter wille van die vrye wil, om te kan kies hoe ek wil leef en wat ek wil doen.
Vandag word dit geklee in ander kleding soos demokratiese reg of vryheid van keuse maar steeds bly dit presies dieselfde ding.

Wees baie versigtig hoe jy die mag gebruik want soveel seën soos wat dit mag bring net so kan dit die persoon wat dit verkeerd aanwend berowe van sy siel.

(Spreuke 11:23) Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn.

Wednesday, October 15, 2008

Sand en Rots


Twee vriende het neergestort in die woestyn met hul ligte vliegtuig. Die twee het ongedeerd daarvan afgekom maar die vliegtuig was ‘n wrak en daar was geen manier wat hulle hulp kon ontbied nie. Hul besluit toe die beste raad is om maar te stap en kyk of hulle uit die woestyn kan kom.
Terwyl hulle stap raak hulle twee in ‘n argument betrokke en die een klap sy vriend deur die gesig.

Die een wat geklap is was baie seergemaak en sonder om ‘n woord te sê, skryf hy in die sand:

“Vandag het my beste vriend my deur die gesig geklap.”

Hulle het aanhou stap tot hulle uiteindelik by ‘n oase in die woestyn uitkom. Nadat hulle klaar water gedrink het besluit hulle om in die water te spring en af te koel van die versengende hitte.
Die een wat geklap was deur sy vriend het eerste ingespring maar in die middel van die poel was dryfsand en hy was besig om weg te sink in die sand. Sy vriend het dadelik gehelp en hom gered van ‘n gewisse dood.

Nadat hy herstel het van nou ontkoming aan die dood, skryf hy op ‘n rots by die oase:

“Vandag het my beste vriend my lewe gered.”

Sy vriend vra hom,” Hoe werk dit? Nadat ek jou geklap het skryf jy in die sand en nou skryf jy in die rots, hoekom?”

Sy vriend antwoord, “Wanneer iemand ons seermaak of verontreg moet ons dit in die sand skryf waar die winde van vergiffenis daaroor kan waai en dit uitvee. Maar, wanneer iemand iets goeds vir ons doen moet ons dit in die rots skryf waar geen wind dit ooit kan uitwis nie.”

Leer om jou seerkry in die sand te skryf en kerf jou blydskap uit in die rots.

Moenie waarde heg aan wat jy in jou lewe het nie, maar waardeer wie jy in jou lewe het!

Monday, October 13, 2008

Ware Vrede


Daar was eendag ‘n koning wat in sy ryk ‘n prys uitgeloof het vir die skilder wat die beste skildery kan maak wat vrede voorstel.
Baie skilders, beroemd en amateur het gepoog om die prys te wen.

Die koning het na al die skilderye gekyk, maar daar was net twee waarvan hy werklik gehou het en hy moes kies tussen die twee.

Die eerste was van ‘n pragtige kalm meer in die berge met die meer wat die detail en majesteit van die berge met die son op hulle perfek reflekteer. Bokant die meer en berge was ‘n pragtige blou hemelruim met hier en daar ‘n spierwit wolkie.
Almal wat die skildery gesien het was oortuig dat dit die beste voorstelling van vrede is van al die skilderye.

Die ander skildery het ook berge gehad, maar hulle was ru, kaal en somber. Bokant hulle was ‘n hemelruim wat gevul was met die aller vreeslikste onweerswolke wat gietende reën laat neerstort het op die ongenaakbare berg. Flitsende weerligstrale het die harde ongenaakbare landskap verlig.
Langs die kant van die berg was daar ‘n skuimende waterval wat teen die rotse aftuimel na benede.
Op die oog af was dit ‘n baie onrustige skildery en het geensins van vrede getuig nie.

Maar toe die koning die waterval van naderby bekyk sien hy agter die skuimende watermassa ‘n klein struikie wat in ‘n rotsskeur groei. In die struik het ‘n voëltjie vir haar ‘n nes gebou. Daar te midde van die donderende weer, gietende reën en kaaie waterval sit die voëltjie op haar nes …. perfekte vrede.

Die koning het die laaste skildery gekies as die wenner en toe sy vriende by hom wil weet, “maar waarom die onrustige een?”
Was sy antwoord:
“Want, vrede beteken nie om in ‘n plek te wees waar daar geen geraas, gevaar, moeilikheid of harde werk is nie. Vrede beteken om te midde van dit alles steeds kalm in jou hart te wees. Dit is die betekenis van ware vrede.”

(Joh 16:33) Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Wednesday, October 8, 2008

Die Heilige Feesdae


Nee, dis nie die Kersfees en paasfees waarvan ek praat nie maar die dae soos vir ons opgeteken is in Lev 23. Die Dag van Basuine, Dag van Versoening, Loofhutte Fees en die Groot Dag – die feeste wat ons in die tyd van die jaar onderhou.

Vir ‘n groot deel van die volk het die feeste verlore geraak omdat volgens moderne teologie is dit wat in die Ou Testament geskrywe is mos nie meer vandag van toepassing nie en dan word die argument gevoer dat God gesê het dat Hy die feeste haat.

Hoe sal Hy die feeste haat wat deur Homself verordineer is as hulle gevier word ooreenkomstig Sy insetting en die ware betekenis daarvan in herinnering geroep word? Ja, die feeste wat Hy sal haat is die feeste wat deur die wêreld ingestel is om kamstig Hom te vereer. Dit is ‘n leuen wat deur die wêreld aan die mens voorgehou word. Paasfees is die fees van Astarte en Kersfees is ‘n onheilige afgodsfees.

Die ironie is dat die meeste mense dit weet maar die wil ontbreek om hul los te wikkel van die feeste en ons hou maar aan om dit te vier en vas te hou aan die “geestelike” betekenis daarvan. Watter klug is dit tog nie voor die aangesig van die Almagtige nie.
Verdien ons Vader nie eerder totale respek en liefde as om in leuens Hom te vereer nie.

Ons leef nie meer in ‘n tyd van totale onkunde nie en die kennis word aan ons gebring deur die Skrif, deur die profete en deur die Heilige Gees self, maar ons het doof geraak vir die influisteringe van God en al hoor ons die lering wil ons dit nie aanvaar nie, want as ons daarop moet reageer sal dit van ons ‘n verstoteling van die wêreld maak – die snaakse een, die waansinnige, die sekte.

Met liefde sal ek al die benamings om my hals dra want die liefde van God dwing my om te breek met dit wat onwaar en leuenagtig is. Die ware boodskap van die feeste bevestig aan ons voortdurend Sy Almagtige Genade, Liefde en Verlossing aan Sy volk, Sy eiendom.
Elke fees is soos om te stap deur die blomtuin van God, oral is die genade werke van Sy hande te bespeur, die waaragtige liefde is in volle blom en die lieflike reuk van die blomtuin versag die hart en laat die hart bloei met die liefde vir ons Skepper.

Die wêreld haat die feeste want daar is geen kommersiële waarde vir hulle daarin nie want dit wat God verlang kan nie gekoop word nie naamlik ‘n opregte hart wat gevul is met die volkome liefde vir God en ons medemens.

Die laaste feeste van die jaar is gemik op die volk van God in teenstelling met die eerste feeste van die jaar wat gemik is op die indiwidu self.

Eerste fees is die Dag van Basuine: die dag waarop die basuine geblaas word om die volk bymekaar te maak en sodat hulle kan luister na die Wet en Insettinge van God. Daardeur word hulle geleer, maar hulle spieël ook hulself as volk aan die hand van die gebooie en daardeur word hul ongeregtighede ook aan hulle openbaar deur die Wet. Dit het weer ‘n herlewing en terugkeer tot God se Wet onder die volk teweeg gebring. In die land waarin die Boervolk homself vandag bevind het dit weer broodnodig geraak dat ons in die spieël van die Wet moet kyk om te sien hoe vol vuil en goddeloos het ons geword. Dan sal ons seker terugkeer na Sy Wet en insettinge en kan ware herlewing plaasvind.

Die tweede is die Dag van Versoening: waarop die fokus is op die versoening wat vir ons bewerkstellig is deur die versoenings offer van ons Verlosser Yahshua (Jesus). Die fokus is hier nie op die redding deur Sy bloed nie (dit is by die eerste feeste van die jaar) maar die versoening of betaling wat Hy gedoen het deur vir ons sondes te sterf in ons plek aan die vloekhout. Hy het ons sondes versoen voor God die Almagtige.

Die derde is die Loofhutte Fees: die fokus is op die woning wat God kom maak het onder Sy volk maw Sy teenwoordigheid by die mens. Die geboorte van Yahshua (Jesus) toe God (in vleeslike vorm) kom verbly hou het met Sy mense op aarde. Verder bevestig dit ook dat God Sy Ewige Koninkryk op aarde sal vestig wanneer Hyself by die mens sal woon in die nuwe Jerusalem. (die volmaakte – die Laaste dag)

Deur al die bogenoemde feeste is die lyn baie duidelik naamlik: volk versamel, spieël hulself aan die Wet, herlewing, die versoening vir ons ongeregtighede, die aanvaarding deur God deurdat Hy by Sy volk kom woon en dat alles volmaak sal wees wanneer Hy weer kom en die Ewige koningskap opneem.

Die feeste hou vir ons soveel beloftes van seën in en dit is wat hierdie volk in hierdie tye nodig het maar om by die seëninge uit te kom sal die volk eers moet terugkeer na Sy Skepper met ‘n volkome en opregte hart en ons sal ons moet afsonder om slegs God te dien want ons kan nie God en die wêreld dien nie.

Tuesday, October 7, 2008

Die Pottebakker en die Klei


Hoe geneig het ons nie geraak om net by die verhaal van die Pottebakker en die klei stil te staan nie. Ons konsentreer net op die een begrip of deel van die proses naamlik hoe die Pottebakker die klei vorm en maak in dit wat vir Hom behaaglik is.

Ons elkeen wil ‘n mooier potjie of vasie wees as die ander en ons is soms baie ongelukkig met die vorm waarin ons gemaak is. Ons kyk net vas teen ons uiterlike vorm sonder om na te dink oor die doel waarvoor ons gevorm word.

Almal kan tog sekerlik nie dieselfde pot, houer of vaas wees nie – die een hou blomme in wat vir ander verfris en inspireer, die ander hou kos om die honger siel te voed, die ander water om die dors van die reisiger te les.

Maar waar kom die klei vandaan, wat is die proses waardeur die klei moes gaan om geskik te wees vir die Pottebakker om te gebruik?

Die klei word uit die aarde gehaal waar dit besoedel is met stukkies gras, bossies, stokkies en klippies.
Die Pottebakker moet eers al die onsuiwerhede uit die klei haal voordat hy dit kan gebruik op die draaitafel.
Soms is die klei baie halsstarrig om die besoedel deeltjie af te staan en is dit nodig vir die pottebakker om ‘n stuk van die klei af te sny en weg te gooi sodat die res geskik is om mee te werk.

Die pottebakker kan sy pottebakkers ware slegs maak uit geskikte klei – enige ander grondstof soos grond of sand sal nie werk nie en daarom is dit nie vir alle grond beskore om op die pottebakkers tafel te beland en daar omvorm te word tot iets wat bruikbaar is nie.
Maar tog is daar ook klei wat nie gebruik kan word nie want dit is te hard en te droog vir die pottebakker en ongeag hoeveel water die pottebakker byvoeg dit sal net ‘n klein bietjie sagter word maar steeds nie bruikbaar wees nie.
Die klei kan in die klei bak gebêre word om sag te word en later gebruik te word.

Die bewerkbaarheid van die klei hang nie van die pottebakker af nie maar van die klei self. Die klei se eie samestelling maak dit bruikbaar of nie.

My liewe klei – hoe is dit gesteld met jou samestelling? Is jy al reg vir die Pottebakker se omvorming van ‘n hoop nuttelose klei tot ‘n bruikbare pottebakkers ware of weerstaan jy nog die vormende hande van die Pottebakker?

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Friday, October 3, 2008

Die Waarheid oor Mislukking


Mislukking beteken nie dat jy ‘n mislukking is nie…
Dit beteken wel dat jy nog nie suksesvol was nie.

Mislukking beteken nie dat jy nog niks bereik het nie…
Dit beteken wel dat jy al iets geleer het.

Mislukking beteken nie dat jy ‘n dwaas was nie…
Dit beteken wel dat jy hope geloof het.

Mislukking beteken nie dat jy verneder is nie…
Dit beteken wel dat jy bereid is om te probeer.

Mislukking beteken nie dat jy nie oor die vermoë beskik nie…
Dit beteken wel dat jy dit op ‘n ander manier moet probeer doen.

Mislukking beteken nie dat jy minderwaardig is nie…
Dit beteken wel dat jy nie perfek is nie.

Mislukking beteken nie dat jy jou lewe gemors het nie…
Dit beteken wel dat jy ‘n rede het om van vooraf te begin.

Mislukking beteken nie dat jy moet moed opgee nie…
Dit beteken wel dat jy harder sal moet probeer.

Mislukking beteken nie dat jy dit nooit sal maak nie…
Dit beteken wel dat dit ‘n rukkie langer sal neem.