Friday, May 30, 2008

Die Rykste Man in die Vallei


Daar was ‘n baie ryk grondbaron wat gereeld met sy perd al op die grensdrade van sy enorme groot plaas langs gery het. Elke keer as hy die rit gemaak het was hy baie trots op homself oor die groot rykdom wat hy verwerf het.
Eendag terwyl hy weer so om sy plaas ry, op sy geliefkoosde perd, sien hy vir Hans, ‘n bywoner op sy plaas. Hans het onder ‘n heerlike koelteboom gesit toe Karel daar verbyry.

Karel stop vir ‘n wyle en vra vir Hans wat doen hy. Hans antwoord: “Ek was net besig om God te bedank vir die maaltyd.”

Karel sien toe dat die kossies in Hans se bord maar baie karig is en merk op: “As dit al is wat ek het om te eet sal ek nie daarna voel om God te bedank vir die voedsel nie.”

Hans antwoord: “God het my alles gegee wat ek nodig het en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Die ou bywoner merk toe op: “Dis nogal baie toevallig dat jy nou juis vandag hier verbyry want ek het laasnag ‘n droom gehad. In my droom het ‘n stem my meegedeel dat die rykste man in die vallei vannag sal sterf. Ek weet nie wat dit beteken nie maar ek het gedink ek moet jou maar ook vertel.”

Karel snork van verontwaardiging en antwoord: “Drome is sommer twak’” en gallop weg op sy pragtige perd. Maar hy kon nie Hans se woord uit sy gedagtes kry nie, “Die rykste man in die vallei sal vannag sterf.”
Dit was tog duidelik dat hy die rykste man in die vallei is. Hy nooi toe sommer ook dadelik sy huisdokter oor die aand en vertel hom wat Hans gesê het. Na ‘n deeglike mediese ondersoek verklaar die dokter dat hy nog so sterk soos ‘n os is en dat hy beslis nie vannag sal sterf nie.

Afgesien van die dokter se verklaring het Karel, net vir ingeval, die dokter versoek om maar die hele nag by hom te bly. Hulle het toe maar die heel nag kaart gespeel want Karel was in elk geval te bekommerd om te gaan slaap want netnou sterf hy dalk in sy slaap. Die volgende oggend het die dokter vertrek en Karel het plegtig om verskoning gevra dat hy die dokter soveel moeite aangedoen het deur die simpel bywoner se droom.

So teen ongeveer nege uur die oggend arriveer daar ‘n boodskapper by Karel se pragtige woning.

“Wat is dit?” vra Karel die boodskapper kortaf.

Die boodskapper verduidelik, “Dit is oor Hans meneer. Hy is laasnag in sy slaap oorlede.”

Wednesday, May 28, 2008

Jou Aksies Kan ‘n Lewe Verander.


Eendag, terwyl ek nog ‘n groentjie in die hoërskool was sien ek ‘n kind wat ook in die graad 8 groep van ons skool is, huistoe loop. Sy naam was Kallie. Dit het gelyk of hy al sy skoolboeke huistoe gedra het. Ek het by myself gedink, “Waarom sal iemand al sy skoolboeke op ‘n Vrydag saam dra huistoe? Hy moet verseker ‘n ‘nerd’ wees.” Ek kon maar net my kop skud vir die ou en aangaan. Ek self het ‘n vol naweek gehad wat voorlê, ‘n partytjie vanaand en ‘n lekker game rugby môre middag.

Terwyl ek so aanstrompel huistoe sien ek ‘n groepie seuns aanstorm op Kallie. In die hardloop stamp hulle hom onderste bo en jy sien net boeke trek die wêreld vol trek. Met die stamp hulle sy bril af en die val ‘n goeie 3 meter van hom af in die lang grasse. Hy het opgekyk na die klomp en ek het die verskriklike hartseer in sy oë opgemerk. My hart het gebloei vir hom. Ek draf toe vinnig oor na hom terwyl hy rondkruip opsoek na sy bril, daar was trane in sy oë. Terwyl ek sy bril vir hom aangee, sê ek, “Daardie ouens is sommer simpel, plaas laat hulle vir hulself ‘n stokperdjie kry.” Hy het na my gekyk en gesê, “Haai, baie dankie man!” Daar was ‘n groot glimlag op sy gesig en jy kon sien dit spreek van opregte waardering. Ek het hom gehelp om sy boeke op te tel en gevra waar hulle woon. Dit blyk toe dat hulle sommer baie naby aan ons bly en ek vra hom toe hoekom ek hom nog nooit gesien het nie. Hy sê dat hy voorheen in ‘n privaat skool was. Nou, die privaat skool klomp was glad nie maats met ons ander wat in die staatskool was nie. Ons het die heelpad huistoe lekker geloop en gesels terwyl ek hom gehelp het om sy boeke te dra. Die Kallie was toe glad nie so ‘n onaardige ou nie en ek het hom genooi om die naweek saam met ons te kom rugby speel wat hy met ope arms verwelkom het. Ons het die hele naweek saam deurgebring en hoe meer ek met Kallie te doen gehad het hoe meer het ek van hom gehou en my vriende ook.
Maandag oggend het aangebreek en daar was Kallie weer met daardie vreeslike stapel boeke van hom oppad skool toe. Ek het saam met hom gestap en opgemerk, “jy gaan ‘n vreeslike paar mussels bou met die boeke wat jy so dra.” Kallie het net gelag en die helfte van die boeke in my arms gestop.

Oor die volgende vier jaar het ek en Kallie die beste van maats geword. Toe ons seniors is het ons begin dink aan universiteit toe gaan. Kallie het besluit op Pretoria en ek op Bloemfontein. Ek het geweet dat ons altyd vriende sal wees en bly ongeag die afstand tussen ons. Hy wou gaan leer vir ‘n dokter en ek gaan besigheids studies doen met die sport beurs wat ek ontvang het. Kallie was die top presteerder van die seniors en ek het hom baie geterg dat hy ‘n regte ‘nerd’ is. Hy moes ‘n toespraak voorberei vir ons seniors se afskeid. Ek was so bly dit was nie ek wat die toespraak moes lewer daar op die verhoog voor al die mense nie.
By ons afskeids funksie het ek vir Kallie gesien en hy het goed gelyk. Hy was nou een van daai ouens wat sy plek gevind het in die hoërskool en baie goed gevaar het met alles wat hy aangepak het. Hy het die meeste dates gehad met die meisies en die meisies het gevrek oor hom. Man! Soms was ek maar baie jaloers gewees.

Vandag was een van daardie dae, ek kon sien dat Kallie vreeslik op sy senuwees was oor sy toespraak, ek het nader gestap en hom ‘n goedige klop op die skouer gegee en gesê, “Haai pal, moenie worry, jy kan dit doen en goed ook!” Hy het na my gekyk met een van daardie opregte waarderings kyke en net geglimlag.

“Dankie,” het hy gesê toe hy sy toespraak begin en eers sy keel so bietjie skoongemaak: “Afskeid is ‘n tyd om dankie te sê aan die wat jou deur die swaarkry jare gehelp en gedra het. Jou ouers, jou onderwysers, jou broers en susters, miskien ‘n afrigter….. maar meestal jou vriende. Ek is hier om aan julle te vertel dat om vir iemand ‘n vriend te wees die grootste geskenk is wat jy aan so iemand kan gee. Ek gaan vir julle ‘n storie vertel.” Ek het net in ongeloof na my vriend gestaar terwyl hy die storie vertel van hoe ek en hy die eerste dag ontmoet het. Hy was van plan daardie naweek selfmoord te pleeg. Hy het vertel hoe hy sy skool kas en lessenaar leeggemaak het en alles huistoe geneem het sodat dit nie vir sy ma nodig sou wees om sy goed by die skool te gaan haal na sy dood nie.
Hy het intens na my gekyk met ‘n klein glimlag en voort gegaan, “Gelukkig, is ek gered. My vriend het my gered daarvan om iets baie onbesonne aan te vang.” Ek het ‘n snak na asems gehoor terwyl die gewilde jongman die gehoor vertel het van die swakste oomblik in sy lewe. Ek het sy moeder en vader vir my sien glimlag met daardie selfde dankbaarheid in hul oë. Tot op daardie oomblik kon ek nooit die diepe dankbaarheid van hulle verstaan nie.

Moet nooit die krag van jou aksies onderskat nie. Met slegs een klein gebaartjie kan jy iemand se hele lewe verander. God plaas almal van ons op mekaar se lewenspad om hul lewens op een of ander manier te raak. Soek vir God in ander.

(Heb 13:16) Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.

Friday, May 23, 2008

Die Twee Wolwe


Die jong knapie kom by sy oupa aan met ‘n gemoed wat gevul is met woede vir sy maatjie wat hom so ‘n onreg aan gedoen het. Oupa het eers klaar na die mannetjie geluister terwyl hy stoom afblaas.
Oupa sê toe: “Laat ek jou ‘n storie vertel. Somtyds het ek ook ‘n groot woede en haat ervaar teenoor die wat my ‘n onreg aangedoen het. Maar haat maak jou baie moeg en terneergedruk en veroorsaak geen skade aan jou vyand nie. Dis soos om gif te drink en te wens sou vyand gaan dood daarvan. Ek het baie met die gevoelens geworstel.”

Oupa gaan aan: “Dit is asof daar twee wolwe binne my is; die een is goed en berokken geen skade nie. Hy leef in harmonie met almal om hom en neem nie aanstoot wanneer die bedoeling van die ander opreg was nie. Hy sal slegs baklei wanneer dit geregverdig en dan ook net op ‘n mooi manier.”

“Maar die ander wolf, Ahhh!! Hy is vol woede. Die kleinste dingetjie sal hom sommer nou brullend van woede maak. Hy baklei met almal, die heeltyd, sonder rede. Hy kan nie behoorlik dink nie want sy woede en haat is so groot dat dit alle rede oorweldig. Dit is baie moeilik om met die twee wolwe binne my te leef, want altwee van hulle probeer gedurig om my siel te domineer en beheer.”

Die knapie kyk nou baie intens in sy oupa se oë en vra, “Watter een wen, Oupa?”

Met ‘n diepe erns antwoord Oupa, “Die een wat ek voer.”

Wednesday, May 21, 2008

God Het My Gekry!


John Powell, het die volgende insident vertel oor 'n student wat vir Jesus bevraagteken het. Hy skryf:

"Sowat twaalf jaar gelede het ek gestaan en kyk hoe my studente die klas instap vir hulle eerste lesing van Die Teologie Van Geloof. Daar het ek vir die eerste keer vir Tommy gesien.
Ek het my oë geknip om seker te maak ek sien reg: hy was besig om sy lang hare te kam – hare wat tot ses duim onderkant sy skouers gehang het. Dit was die eerste keer dat ek 'n seun gesien het met sulke lang hare - daardie mode het seker maar so pas die wêreld getref.
Ek het natuurlik besef dat dit nie dít op jou kop is wat tel nie, maar wat binne is, maar ek was totaal onvoorbereid vir hierdie gesig.

In my gedagtes het ek vir Tommy geliasseer onder "V" vir Vreemd – baie Vreemd.
Dit het so uitgedraai dat Tommy die "plaaslike ateïs" van my Teologie klas was. Hy het tot vervelens toe gekerm, smalende aanmerkings gemaak, en enige moontlikheid van 'n onvoorwaardelike, liefdevolle Vader/God in twyfel getrek. Ons het mekaar in relatiewe vrede verdra vir die eerste semester, maar ek moet byvoeg dat hy dikwels maar vir my 'n ernstige pyn in die agterbanke was.

Na die eindeksamen stap hy na my toe en vra smalend: "Prof, dink jy ek sal ooit vir God vind?"
Ek besluit om 'n bietjie skokterapie toe te pas: "Nee!", sê ek kortaf.
"O," reageer hy verbaas, "Ek het gedink u sal die produk wou verkoop"
Ek het hom kans gegee om so vyf treë uit die klas te loop voordat ek hom agterna geroep het: "Tommy, ek dink nie jy sal ooit vir God kry nie, maar ek is beslis seker dat Hy vir jou sal kry!"
Hy het vir 'n oomblik gehuiwer, en toe verdwyn hy uit my klas en uit my
lewe.
Ek was teleurgesteld dat hy nie my slim antwoord: "Hy sal jou kry!" gesnap het nie. Ek het ten minste gedínk dat dit 'n baie slim lyn was.....

Ek het later verneem dat Tommy graad gevang het, en ek was dankbaar. Maar toe kom die droewige nuus: Tommy het terminale kanker. Voordat ek hom kon opsoek het hy eendag na my toe gekom.
Ek het geskrik toe hy in my kantoor instap - sy liggaam was uitgeteer, en die pragtige lang hare het uitgeval van die chemoterapie, maar sy oë het geblink en sy stemtoon was vir die eerste keer selfversekerd.

"Tommy, ek het so baie aan jou gedink. Ek hoor jy is siek", stamel ek dit uit.
"O ja, ek is baie siek. Ek het kanker in albei longe. Ek het nog net 'n paar weke oor."
" Kan jy daaroor praat, Tommy?" wou ek weet.
"Seker, wat wil jy weet?" antwoord hy.
"Hoe voel dit om maar net vier en twintig te wees, en sterwend te wees?"
"Aag, dit kon baie erger gewees het."
"Hoe so?"
"Wel, ek kon vyftig gewees het sonder enige lewens waardes of ideale; vyftig, en al wat tel is drank, om vrouens te verlei, en om geld te maak; dat dit die enigste groot dinge in die lewe is."

Ek het deur my liassering stelsel begin soek onder die letter "V", daar waar ek vir Tommy onder "Vreemd" geliasseer het. Dit lyk vir my dat almal wat ek probeer van ontslae raak in my klassifikasie - vir hulle stuur God weer terug in my lewe in om my te kom opvoed.

"Waaroor ek u eintlik kom sien het", sê Tommy, "is oor iets wat u gesê het op die laaste dag wat ek in u klas was." (Hy het sowaar onthou!)
Ek het u gevra of ek ooit vir God sou vind, en u het 'Nee!' gesê – iets wat my werklik verbaas het. Maar toe sê u 'Maar Hy sal JOU vind.' Ek het baie hieroor nagedink, alhoewel my soeke na God nie juis baie ernstig was nie.
(My slim antwoord! Hy het sowaar daaroor nagedink!)

"Maar toe kom die slegte nuus, toe die dokters 'n knop uit my lies moes verwyder, en hulle my moes meedeel dat dit kwaadaardig was. Dit is tóé wat ek eers werklik vir God begin soek het. Die kanker het deur my hele liggaam versprei, en ek het my vuiste rou geslaan teen die hemel se poorte ...... maar God het nie te voorskyn gekom nie. Om die waarheid te sê, het absoluut niks gebeur nie!
Professor, het u al ooit vir 'n lang tyd baie hard probeer om iets reg te kry sonder sukses? Sielkundig takel dit jou totaal af. Jy raak moedeloos, en uiteindelik gee jy moed op.
Wel, een oggend het ek wakker geword, en in plaas daarvan dat ek weer 'n paar bakstene oor daardie hoë muur van die hemel probeer gooi het om God, wat dalk nie eers daar is nie, wakker te maak, het ek net opgehou probeer.

Ek het besluit dat ek rêrig nie meer omgee oor God of Sy ewige lewe of enigiets nie. Ek het besluit dat ek die tydjie wat ek oor het, baie beter kon gebruik deur iets werklik lonend te doen. Ek het baie gedink aan die dinge wat u in die klas vir ons gesê het, en een van die dinge wat ek kon onthou was dat u gesê het: 'Dit is tragies om deur die lewe
te gaan sonder liefde. Maar dit is net so tragies om hierdie wêreld te verlaat sonder dat jy vir diegene wat jy liefhet vertel het dat jy hulle liefhet.'

En so begin ek toe met die moeilikste een - my pa. Hy het gesit en koerant lees toe ek by hom kom.
"Pa...."
"Ja, wat?" Hy het my geantwoord sonder om eers die koerant te laat sak.
"Ek wil graag met Pa praat."
"Nou toe, praat maar."
"Pa, dis baie belangrik."
Die koerant sak so effens. "Wat is dit?"
"Pa, ek is lief vir Pa. Ek wou maar net hê dat Pa dit moet weet."
(Tommy het breed geglimlag, en ek kon duidelik sien dat 'n warm gloed van vreugde uit hom straal.)
"Die koerant het uit my pa se hande geval. En toe doen hy twee dinge wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie: hy het gehuil en hy het my styf omhels. Ons het die hele nag deur gesels. Dit was 'n wonderlike gevoel om so naby aan my pa te wees, om sy trane te sien en sy omhelsing te voel, en om hom net te kon hoor sê dat hy my liefhet.
Met my ma en my kleinboet was dit makliker. Hulle het ook saam met my gehuil en my omhels, en ons het mooi dinge vir mekaar gesê. Ons het die dinge met mekaar gedeel wat ons al die jare vir mekaar geheim gehou het.

Daar was net een ding waaroor ek so bitter jammer was - dat dit so lank moes vat voordat ons hierdie dinge kon doen. En hier was ek nou, besig om oop te maak teenoor almal wat al die jare baie naby aan my was.
En eendag, toe ek weer sien, toe was God daar! Hy het nie na my toe gekom toe ek Hom gesmeek het nie. Ek dink ek was dalk soos 'n leeutemmer wat met my hoepel gestaan het en vir God probeer sê het:
'Spring! Spring! Ek gee U drie dae - drie weke......' Dit lyk my God doen dinge op Sy eie manier, en op Sy eie tyd. Maar die belangrike ding was dat God daar was! Hy het my gevind.

Ja, u was reg Prof., Hy het my gekry, selfs nadat ek opgehou het om vir Hom te soek."

My mond het oopgehang: "Tommy, jy het iets baie belangrik vir my vertel - iets wat baie, baie groter is as wat jy dalk sou besef. Wat jy eintlik sê, is dat die maklikste manier om God NIE te vind nie, is om Hom jou persoonlike besitting te probeer maak - 'n soort-van probleem oplosser of 'n kits-troos wanneer jy in die nood is.
Dit is beter om eerder net jou hart oop te maak vir liefde. Jy weet, Paulus het gesê dat God liefde is, en dat as jy in liefde leef, dan leef jy met God, en God in jou.

Tom, kan ek jou 'n groot guns vra? Jy weet, die tyd toe jy in my klas was, was jy vir my 'n groot pyn. Maar nou kan jy opmaak vir alles, as jy sou instem om na my Teologie-klas toe te kom en vir my studente te kom vertel wat jy vanoggend vir my vertel het.
Hoe lyk dit? Jy weet, as ek dit vir hulle moet vertel sou dit nie naasteby dieselfde effek hê nie."
"Ooooo ..... ek weet nie so mooi nie - ek was gereed om vanoggend met u te kom praat ......... maar vir die klas - daarvoor sien ek nie so mooi kans nie."
"Gaan dink maar daaroor, en as jy gereed is laat jy my weet." 'n Paar dae later skakel Tommy my, hy was gereed om sy verhaal met die klas te kom deel, en hy wou dit doen vir God en vir my. Ek het 'n afspraak met hom gemaak, maar hy kon daardie afspraak nooit nakom nie, want daar was 'n ander, baie belangriker afspraak wat hy moes nakom - baie belangriker as ek of die klas.

In der waarheid was sy lewe nie be-eindig deur sy dood nie - dit het net verander. Hy het die reuse stap geneem van geloof na werklikheid. Hy het 'n nuwe lewe gekry, baie mooier as wat ek en jy ooit van kan droom - baie heerliker as wat enigeen ooit gesien of ondervind het.
Voordat Tommy dood is het hy nog een laaste maal met my gepraat:
"Ek sal dit nie kan maak na die klas toe nie."
"Ek weet Tommy."
"Sal u asseblief vir hulle vertel? Sal u .... my verhaal aan die hele wêreld vertel ....... asseblief?"
"Ek sal, Tommy, ek sal my bes probeer."

Dus wil ek vanoggend vir jul, my liewe vriende, baie dankie sê dat jul die tyd afgestaan het om hierdie eenvoudige verhaaltjie van liefde te lees. En vir jou, Tommy, daar waar jy êrens in die hemel is - ek het vir hulle vertel Tommy, so goed as wat ek maar kon.

Hierdie is 'n ware verhaal - vertel dit gerus maar oor vir 'n vriend of twee.
Met groot dank.
John Powell, Professor

(Dankie Aan Elizabeth wat die vir my aangestuur het)

Monday, May 19, 2008

Gooi die Net Uit


Van baie vroeg in ons lewe (amper vanaf geboorte) word ons geleer om suksesvol te wees gemeet aan die wêreld se definisie van sukses. Ons word aangedryf deur doelwitte wat vir ons gestel word en hoe suksesvol is ons om die doelwitte te bereik – van die dag wat ons ons eerste treetjie gee totdat ons ons eerste fiets ry.
Soos wat ons ouer word is daar baie meer druk om kennis en “goedere” te versamel ten einde ons sukses in die lewe te bewys.

In ons Geloofs wandel word ons deur Yahshua opgeroep tot ‘n nuwe definisie van sukses. Een wat bepaal word nie deur dit wat ons bereik nie maar deur gehoorsaamheid. Die dissipels het saam met Yahshua gewandel en gereeld met Hom gepraat, maar steeds het hulle ook te staan gekom voor baie uitdagings ten opsigte van hul geloof en gehoorsaamheid.
Een oggend, nadat hulle die heel nag vis probeer vang het, roep Yahshua vanaf die strand: (Joh. 21:6) “En Hy sê vir hulle: ‘Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry’. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.”

Die dissipels was suksesvol daardie oggend. Maar ons moet onthou dat die groot getal visse nie die maatstaaf was van hul sukses nie. Hulle sou steeds suksesvol gewees het al het die nette leeg gebly.
Hulle was suksesvol die oomblik toe hulle Sy bevel gehoorsaam en die nette uitgegooi het. Een duisend jaar vroeër is Koning Saul opdrag gegee om : (1Sam 15:3) Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
Maar Saul het toegelaat dat die koning van Amalek en die beste kleinvee en beeste gespaar word. Hy het sy ongehoorsaamheid probeer verbloem deur die verskoning dat die kalwers en lammers gehou word as ‘n offer aan God.
(1Sa 15:22) Daarop sê Samuel: Het Yahweh behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van Yahweh? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

In enige taak wat ons vir God verrig is dit baie maklik om moedeloos te raak deur ons ooglopende mislukking om sukses te behaal. Ons voel baie keer so ontoereikend vir die taak en die gevoelens word net erger hoe meer dit lyk of ons nooit sukses gaan bereik nie.

Maar ons moet onthou dat – die uitkoms van die taak is ondergeskik aan ons gehoorsaamheid.

God het nie ons “vis” nodig nie – Hy soek ons toewyding en vertroue.

Hy begeer dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart, siel, verstand en al ons kragte.
Laat ons ons oog afwend vanaf die sukses van die “vangs” en wat ons kan lewer – laat ons eerder konsentreer om elke treetjie te wandel ooreenkomstig Sy voorbeeld.
Laat ons al ons aksies daarop gerig wees om Sy roepstem gehoorsaam te wees – Werp uit die Net.

Amen

Monday, May 12, 2008

Wees Dankbaar


· Wees dankbaar dat jy nie reeds alles het wat jy begeer nie.
Indien wel, wat sal daar wees om na uit te sien?

· Wees dankbaar as daar iets is wat jy nie weet nie.
Want dit bied jou die geleentheid om te leer.

· Wees dankbaar vir die moeilike tye.
Gedurende die tye groei jy.

· Wees dankbaar vir jou beperkinge.
Want dit bied jou geleenthede vir verbetering.

· Wees dankbaar vir elke nuwe uitdaging.
Want dit bou jou karakter en inbors.

· Wees dankbaar vir jou foute.
Dit sal jou waardevolle lesse leer.

· Wees dankbaar as jy moeg en afgemat is.
Dit beteken jy het ‘n verskil gemaak.

· Dit is maklik om dankbaar te wees vir die goeie dinge.
‘n Ryklik vervulde lewe kom na die wat ook dankbaar is vir terugslae.

· Dankbaarheid kan ‘n negatiewe in ‘n positiewe verander.
Vind ‘n manier om dankbaar te wees vir jou probleme en hulle kan jou seëninge word.

Friday, May 9, 2008

Wag Jy Om Geroep Te Word


Gedurende die jare toe die telegraaf die vinnigste metode was van lang – afstand kommunikasie, het ‘n jong man aansoek gedoen vir ‘n pos as Morse Kode operateur. Na aanleiding van die advertensie in die plaaslike koerant is hy na die kantoor adres soos vermeld in die advertensie.

Toe hy by die kantore arriveer, stap hy ‘n groot, besige kantoor binne wat gevul is met geraas en gekletter van verskeie masjiene asook die klank van die telegraaf masjien in die agtergrond. ‘n Kennisgewing by die ontvangs dame se toonbank verduidelik aan die applikante om solank ‘n vorm in te vul en te wag totdat hulle geroep word na die aangrensende kantoor.

Die jong man het solank sy vorm ingevul en saam met die sewe ander applikante in die wag area gewag. Na ‘n paar minute staan die jong man op, stap na die deur van die aangrensende kantoor, maak dit oop en gaan in.

Noodgedwonge is daar ‘n klein oplewinkie tussen die ander kandidate en hulle wonder wat is nou aan die gang. Hulle mompel onderlangs met mekaar dat hulle geen aankondiging gehoor het dat enige iemand al geroep is nie.

Hulle kom tot die gevolgtrekking dat die jong man wat die kantoor binne gegaan het ‘n fout gemaak het en nou gediskwalifiseer sal word.

Na ‘n paar minute kom die werkgewer met die jong man uit die kantoor gestap en sê aan die ander applikante, “Menere, baie dankie dat u gekom het, maar die pos is sopas gevul.”

Die ander applikante begin onder mekaar te mor oor die onregverdigheid en een van hulle besluit om sy sê te sê, “Wag so bietjie, ek verstaan nou glad nie. Hy was die laaste een wat ingekom het van al die aansoekers en ons het glad nie eens ‘n kans gehad vir ‘n onderhoud nie. Maar steeds kry hy die werk. Dit is nie regverdig nie!”

Die werkgewer antwoord, “Ek is jammer, maar die afgelope tyd vandat die eerste applikant ingekom het, het die telegraaf masjien die heeltyd die volgende boodskap in Morse kode uitgetik: “Indien jy die boodskap verstaan, stap direk die kantoor in. Die werk is joune.” Nie een van julle het dit gehoor of verstaan nie. Die jong man het. Die pos is syne.”

Ons is so besig om te leef in ‘n wêreld wat gevul is met geraas en gekletter, net soos die kantoor. Mense se aandag word afgelei en is nie in staat om te luister en God se boodskap te hoor soos Hy spreek deur Sy skepping, in die Skrif en in die lewe en werk van Yahshua nie.

So ek vra u, soos ek myself ook afvra, “Luister jy, of wag jy om geroep te word? Hoor jy God wanneer Hy met jou spreek?

Wednesday, May 7, 2008

Dagboek van ‘n Bybel



JANUARIE: ‘n Besige tyd vir my. Die meeste van die familie het ‘n Nuwejaars voorneme gemaak om my die jaar deur te lees. Hulle het my nogal besig gehou vir die eerste twee weke, maar hulle het my reeds klaar vergeet.

FEBRUARIE: Skoonmaak tyd vir my. Ek was gister afgestof en weer gebêre op my normale plek op die boekrak. My eienaar het my darem verlede week ‘n paar minute gebruik. Hy was in ‘n argument met die buurman en het ‘n paar verwysings gesoek om sy standpunt te staaf en te bewys dat hy reg is.

MAART: Het ‘n besige dag gehad die eerste dag van die maand. My eienaar is verkies tot voorsitter van die skool se beheerliggaam en het my gebruik om sy toespraak voor te berei.

APRIL: Oupa het ons die maand besoek. Hy het my op sy skoot gehou vir ‘n uur lank terwyl hy 1 Petrus 5 gelees het. Dit lyk of hy baie meer van my dink as die meeste van my eie huismense.

MEI: Ek het ‘n paar groen vlekke op my bladsye. Van die laaste herfs blommetjies is tussen my blaaie gepers.

JUNIE: Ek lyk soos ‘n plakboek. Hulle het my vol koerant uitknipsels geprop – een van die dogters het getrou.

JULIE: Hulle het my vandag in ‘n tas gepak. Ek vermoed ons is oppad met vakansie. Ek wens ek kon eerder by die huis gebly het want ek weet ek gaan twee weke in die bedompige tas bly.

AUGUSTUS: Nog steeds in die tas.

SEPTEMBER: Uiteindelik weer terug op my ou bekende plek op die boekrak. Ek het heelwat kuiergaste. Twee vroue tydskrifte en vier strokiesprent boeke is bo op my gestapel. Ek wens ek kon so baie soos hulle gelees word.

OKTOBER: Hulle het so stukkie uit my gelees vandag. Een van hulle is baie siek. Tans sit ek in die middel van die koffie tafel. Ek dink die predikant kom seker vandag huisbesoek doen.

NOVEMBER: Terug op my ou plek in die boekrak. Iemand het vandag gevra of ek ‘n plakboek is.

DESEMBER: Die familie is besig om reg te maak vir die vakansiedae wat voorlê. Ek vermoed ek sal weer toegegooi word onder geskenkpapier en pakkies….soos wat elke Kersfees gebeur.